Première-teaterfees wenners kry speelkans by groter feeste

Al drie produksies wat vanjaar die finale rondte van die Première-teaterfees gehaal het, gaan deelneem by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK). Dit is ’n eerste in die fees se geskiedenis, volgens Hugo Theart, beoordelaar en artistieke direkteur van dié fees. 

Die Première-teaterfees word aangebied deur die Universiteit Stellenbosch (US) se dramadepartement en is ’n tentoonstelling van die dramastudente se werk.

Volgens die fees se organiseerders, Elana-Marié Snyman en dr. André Gerber, het meer as 80 studente aan vanjaar se fees, wat van 24 Julie tot 29 Julie gehou is, deelgeneem. 

Die Universiteit Stellenbosch (US) se dramadepartement het tussen 24 Julie en 29 Julie, die vyfde Première-teaterfees by die Adam Small-teaterkompleks aangebied. Dít is volgens die fees se organiseerders, Elana-Marié Snyman en dr. André Gerber. FOTO: Kara van der Merwe

Geleenthede vir jong sterre

Die drie stukke wat by KKNK 2024 te sien gaan wees, is The Old Man Who Thought He Had a Dog geskryf deur Angelique Filter, Incarnations of Sand geskryf deur Dhania Schultz en Su’walla Kassam geskryf deur Mikayll Harris en Tamia Thompson. 

Volgens Theart sal dié produksies deur die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi), en die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) ondersteun word.

The Old Man Who Thought He Had a Dog is as beste produksie aangewys. Volgens Snyman het die produksie ’n R40 000-kontantprys by die fees se prysuitdeling, wat 29 Julie plaasgevind het, ontvang. 

Saartjie Botha, hoof van die Toyota US-Woordfees, was een van die vier beoordelaars. 

The Old Man Who Thought He Had a Dog gaan ook die geleentheid hê om by die 2023 Toyota US-Woordfees hulle produksie op die planke te sien,” het Botha vertel. 

“Dit is ’n besonderse stuk,” het Botha bygevoeg.

“Dit is ongelooflik om te weet dat al die ure se werk deur die gehoor, maar ook deur die beoordelaars raakgesien word,” het Merwe van Gent, wat as beste akteur vir sy rol in The Old Man Who Thought He Had a Dog aangewys is, gesê.

Merwe van Gent (links) is as beste akteur in ’n hoofrol by die Première-teaterfees aangewys vir sy rol in The Old Man Who Thought He Had a Dog. Angelique Filter (regs), skrywer van The Old Man Who Thought He Had a Dog, het die prys van beste teks gewen. Dít is volgens die fees se organiseerders, Elana-Marié Snyman en dr. André Gerber. FOTO: Kara van der Merwe

Nie net op die planke nie 

’n Kortfilm-kategorie is by vanjaar se Première-teaterfees bekendgestel, het dr. Anel Pieterse, beoordelaar en senior dosent in drama- en teaterstudies aan die US, gesê. 

“Dit het ons studente die geleentheid gegee om regtig kreatief te raak,” het Pieterse vertel. Vier kortfilms is vanjaar ingeskryf, maar die fees verwag meer vir volgende jaar, het Pieterse bygevoeg.

The Chest, ’n kortfilm geskryf deur Dhania Schultz, het die prys vir beste tegniese vaardighede, beste regisseur en beste kortfilm gewen, het Pieterse vertel.

Angelique Filter (links) is die skrywer van The Old Man Who Thought He Had a Dog wat die toekenning vir beste produksie by vanjaar se Première-teaterfees ontvang het. Volgens die fees se organiseerders, Elana-Marié Snyman en dr. André Gerber, het dié produksie ’n R40 000-kontantprys ontvang. Die produksie sal ook by die 2023 Toyota US-Woordfees te siene wees, het hulle gesê.  FOTO: Kara van der Merwe

, , ,