Pniel se historiese kerkbasaar hervat na inperkings

Die Pniel Congregational Kerk kon verlede maand weer vir die eerste keer sedert Covid-19-inperkings in 2020 ingestel is, hul jaarlikse basaar teen volle kapasiteit aanbied. Met die onlangse verslapping van inperkingsmaatreëls kon die basaar vanjaar feitlik normaalweg voortgaan, met net die dra van maskers en sanitasie stasies wat steeds verpligtend is. Dit is volgens Leon Klate, die dominee van Pniel Congregational Kerk.

Die basaar, wat vanjaar op 26 Maart plaasgevind het, is in 2021 aangepas, met stalletjies van die 10 wyke van Pniel wat regoor die dorp opgeslaan was, in plaas van op die kerkgronde waar dit gewoonlik plaasvind, het Klate gesê.

Die historiese Pniel Congregational Kerk-basaar kon vanjaar weer weer teen volle kapasiteit aangebied word. FOTO: Joel Ontong

‘Dit bring die gemeenskap bymekaar’

“Die gees van samewerking is belangrik [vir die geleentheid se sukses],” het Anthea Williams, ’n verkoper by die basaar, gesê. Enige bydrae is waardevol, het sy bygevoeg.

“[Die basaar] het baie gegroei en [daar is] so baie mense van buite Pniel wat hier hulle kom geniet vir die dag. Dit bring die gemeenskap bymekaar,” het Ethelwynne Petersen gesê, ’n inwoner van Pniel wat al vir 60 jaar ’n toegewyde bywoner by die basaar is.

Wat betref die diversiteit van geloof onder besoekers by vanjaar se basaar, het Klate gesê die kerk beoog om volgende jaar ’n Halaal-stalletjieby te voeg.

Die Pniel Congregational Kerk druk elke jaar kaartjies wat as ruilmiddel by die basaar gebriuk word. Ondersteuners kan die kaartjies aanskaf en dan gebruik om produkte by die basaar te koop. FOTO: Joel Ontong

Gemeenskapsbetrokkenheid

“Die organisering van die basaar is binne die kerk se strukture. Die basaar word ondersteun deur [verskillende wyke van Pniel]. Lidmate van die kerk organiseer dan verskillende wykstalletjies se verkope,” het Klate gesê. 

Die basaar het op die dag ’n groot skare mense aangelok. Volgens Urlene Williams, een van die basaar-organiseerders, kan die goeie bywoning toegeskryf word aan die gemeenskapslede wat ander van die basaar vertel het.

Die basaar was ’n “volslae sukses” ten opsigte van gemeenskapsbetrokkenheid en algemene bywoning, het Klate aan MatieMedia gesê.

Leon Klate, die dominee by Pniel Congregational Kerk, het vertel dat hulle onseker was of die bywoning by vanjaar se basaar met vorige jare se getalle sou kon kompeteer. Bywoning het egter al hul verwagtinge oortref, het hy gesê. FOTO: Joel Ontong

Historiese stuk erfenis

Die basaar is ’n tradisie in die dorp. “Dit sal nie verregaande wees om te sê dat die basaar vir meer as ’n 150 jaar aankom [nie]. Die kerk word hierdie jaar 179 jaar oud, so hulle moes van vroeë jare af begin het met kerkbasaars,” het Klate gesê. 

Klate het verduidelik dat hoewel die basaar as ’n fondsinsameling vir die kerk dien, dit ook “’n [kulturele] historiese stuk erfenis is, wat [die kerk] wil bewaar”.