Plat op die aarde Impi klim Kilimanjaro uit

B0016B40-540E-4640-96EE-C9138C26E441

Impi Visser (links onder) saam met mede avontuurlustiges nadat hulle die top punt van Kilimanjaro in Tanzanië bereik het. FOTO: Verskaf

Gedurende die af seisoen is ’n jarelange droom vir die Blitsbok-ster Impi Visser bewaarheid. Hy het, saam met vele avontuurlustiges, die uitdaging wat Kilimanjaro in Tanzanië bied aangepak en hierdie berg suksesvol uitgeklim.

“Dit het alles begin toe my ma in 2003 ook Kilimanjaro uitgeklim het. Ek het toe al gedink dat dit sal ’n cool adventure wees om aan te pak,” sê Visser.

Hy beskryf dié uitdaging, wat sewe dae lank geduur het, as ’n lewensveranderende ervaring. “Dit was baie lekker en opwindend gewees,” sê hy.

Dit beteken egter nie dat die uitdaging nie moeilik vir hom was nie. “Die eerste paar dae veral was baie uitdagend gewees. Ek was siek die eerste twee dae,” vertel hy. Die moeilikste uitdaging vir hom was die gebrek aan kommunikasie. “Jy kan nie baie gesels nie want suurstof is maar min,” sê Visser, wat ’n groot liefde vir die natuur het. “Dit maak jou voel dat jy hierdie uitdaging alleen aanpak.”

Visser se persoonlikheid pas ook by sy avontuurlustigheid en liefde vir die natuur. Sy spanmaat, Stedman Gans, beskryf hom as ’n baie nederige persoon. “Hy is nie bang vir enige uitdaging nie en is hardwerkend in alles wat hy aanpak,” vertel Gans, wat ook onlangs die ligblou-trui van die Vodacom Blou Bulle in vanjaar se Curriebeker reeks oor die kop getrek het.

Nòg ’n spanmaat en Blitsbok-legende, Branco du Preez, stem saam met Gans dat Visser hardwerkend is. “Impi is ’n baie groot motiveerder. Hy sit altyd ander se belange voor en sal altyd help om dinge makliker te maak vir ander,” vertel Du Preez, wat die Blitsbokke in 70 HSBC sewes toernooie verteenwoordig het.

Visser se liefde vir die natuur het hom ook vasgevang in bewaring van wilde diere. Hy het, saam met twee vriende, ’n groot aandeel in die suksesvolle beskerming van wilde diere. Hulle maak snares, draad wat gebruik word om diere vas te vang en te stroop, in die veld bymekaar om armbandjies en oorbelle te produseer. “Die geld wat ons maak skenk ons direk aan teen-stroping eenhede,” vertel hy.

Na die suksesvolle voltooiing van Kilimanjaro is daar nou nog ’n uitdaging wat hy beplan. Hy is tans besig om te beplan aan ’n reis na Madagaskar waar hy en ’n paar vriende een duisend kilometer per fiets wil aflê. Volgens hom word Madagaskar baie ontbos deur die inwoners daar. “Ons beplan ook om na elke honderd kilometer op die fietse bome te plant.” Hy sê egter dat daar nog baie water in die see moet loop voor dié toer ’n werklikheid kan word.