Plaaslike skrywer stel debuut-kinderboek bekend

’n Plaaslike skrywer het onlangs haar debuut-kinderboek bekendgestel, wat beoog om kinders oor omgewingskwessies op te voed.

Dr Henriëtte Linde-Loubser, ’n eksterne werknemer by die Departement Kurrikulumstudie aan Universiteit Stellenbosch (US), se kinderboek is vanaf 22 Oktober landswyd beskikbaar.

Die voorblad van Ster en die Skugter Vyf, geskryf deur Henriëtte Linde-Loubser en illustrasies deur Elizabeth Pulles. Volgens Michelle Cooper, Linde-Loubser se uitgewer by Tafelberg Uitgewers, dui die woord ‘skugter’ op meer as net skaamheid. “Dis asof die diere [in die storie] wegkruip, skuil en daadwerklik mense vermy. En dan kom die vraag: Hoekom? Wat het ons aan hulle gedoen? En daar lê ’n begin vir verder dink, vir die kind,” het Cooper gesê. Volgens Cooper – wat verantwoordelik was vir die titel van dié boek – laat dít die leser tot die besef kom dat die natuur opgepas moet word. FOTO: Verskaf/Hevette Ates

Volgens Linde-Loubser is die boek, Ster en die Skugter Vyf, ten doen om omgee vir, en bewaring van, die natuurlike omgewing te kweek by kinders. Linde-Loubser het die bewusmaking van omgewingskwessies by kinders belangriker as ooit tevore beskryf.

“Hoe vroeër kinders aan ekotekste bekendgestel kan word, hoe beter,” het Linde-Loubser, wat haar PhD in Omgewingsopvoeding aan US voltooi het, gesê.

Henriëtte Linde-Loubser het reeds heelwat in bundels gepubliseer. ’n Gotiese roman vir volwassenes, Plek van Poue, is onlangs deur Lapa Uitgewers gepubliseer. Ster en die Skugter Vyf is egter haar eerste kinderboek. Volgens Linde-Loubser, het sy einde verlede jaar uitgetree as bibliotekaris by die Opvoedkunde Biblioteek aan US, maar sy publiseer steeds haar navorsing onder die universiteit se vaandel. FOTO: Verskaf/Henriëtte Linde-Loubser

Linde-Loubser het verduidelik dat verhalende ekotekste, soos Ster en die Skugter Vyf, ’n kind bekend kan stel aan sy/haar rol as bewaarder van die natuur.

“[Die kinders] word ook daaraan herinner dat mens en dier onlosmaakbaar vervleg en interafhanklik is,” het sy gesê. “Met die Antroposeen as werklikheid, is die bewusmaking by kinders en die kweek van omgewingsverantwoordelike bewoners van die planeet ’n kritiese noodsaaklikheid.”

Die skrywer van Ster en die Skugter Vyf, Henriëtte Linde-Loubser, vertel meer oor dié boek, die karakters en van die temas waaroor die boek handel. Volgens Linde-Loubser, wil sy so gou as moontlik aan ’n volgende ekoteks vir kinders werk. KLANKGREEP: Verskaf/Henriëtte Linde-Loubser

Volgens Michelle Cooper, Linde-Loubser se uitgewer by Tafelberg Uitgewers, vul die boek ’n leemte in Afrikaans vir kinderverhale.

“Ons hoop dat [deur die lees van die boek] lesers meer sensitief sal wees oor alle diere en hulle lot, en bewaring oor die algemeen,” het Cooper gesê.

Elizabeth Pulles, die illustreerder van Ster en die Skugter Vyf, het die illustrasieproses as ’n avontuur beskou. Volgens Pulles het sy van houtskool, pastel kryte, sowel as gouache verf gebruik gemaak om die boek se swart-en-wit illustrasies te skets. “Ek het daarvan gehou om in die reeks van swart kleure te werk,” het sy gesê. FOTO 3&4: Verskaf/Hevette Ates

Nadat Linde-Loubser die navorsing vir haar PhD voltooi het, het sy besluit om die rol van omgewingsaktivis aan te neem. Volgens haar, het sy dit egter benader met die pen in die hand.

Linde-Loubser was van mening dat kinders se liefde vir lees as belangrik beskou word.

“[Kinders] is reeds lief vir stories, daardie natuurlike drang moet gekoester en aangemoedig word,” het Linde-Loubser gesê. “Om te leer terwyl jy speel, is van die waardevolste opvoedingsgeleenthede vir kinders en boeke speel hiér ’n baie belangrike rol.”

’n Uittreksel uit die boek, Ster en die Skugter Vyf. “Ster en die Skugter Vyf sal kinders betower,” het Hevette Ates, ’n reklamekoördineerder van NB-Uitgewers se kinder-en-jeugboekafdeling, gesê. Volgens Ates kan die boek ’n gesprek oor natuurbewaring en die belangrikheid daarvan aanmoedig. FOTO 5&6: Verskaf/Hevette Ates

Elizabeth Pulles, die illustreerder van die boek, het inspirasie vir die illustrasies geput uit internetbronne, visuele elemente van diere en hul habitatte, asook deur op te lees oor die kwessies wat aangespreek word in die boek.

“Ek het óók Józef Wilkon en ander illustreerders se werk bestudeer,” het Pulles gesê.

Volgens Pulles beklemtoon die boek bedreigde spesies, veral onbekende spesies waaroor daar min berig word.

“Ons almal moet mekaar se oorlewing ondersteun,” het sy gesê.

Henriëtte Linde-Loubser lees voor uit Ster en die Skugter Vyf. Volgens Linde-Loubser het sy baie na aan die natuur, in die Klein-Karoo, grootgeword. “My liefde vir, en begogeling met, die natuurlike omgewing en sy towerkrag is dus deel van wie ek is,” het sy gesê. KLANKGREEP: Verskaf/Henriëtte Linde-Loubser

Die teikenmark vir die boek is kinders van ongeveer agt jaar en ouer, maar volgens Linde-Loubser is dit egter toeganklik vir jonger kinders en selfs volwassenes.

Ster en die Skugter Vyf kan, volgens Hevette Ates, ’n reklamekoördineerder van NB-Uitgewers se kinder-en-jeugboekafdeling, ’n gesprek oor natuurbewaring en die belangrikheid daarvan aanmoedig.

Linde-Loubser beoog om deur dié ekoteks ’n verwondering vir, en ’n diep deernis met, die natuurlike omgewing – en veral diere in hulle natuurlike habitatte – aan te moedig.

“Ek wil egter óók graag die magiese krag van stories ontgin, sodat kinders nooit die lekkerte van lees sal ontgroei nie,” het Linde-Loubser gesê.

’n Illustrasie uit die boek, Ster en die Skugter Vyf. “Dikwels begin ’n storie in my kop as ’n prenteboek,” het Henriëtte Linde-Loubser, die skrywer van die boek, gesê. Volgens Linde-Loubser het sy aanvanklik ’n prenteboek vir jonger kinders ingedagte gehad, maar met haar navorsing vir die boek het dié konsep uitgebrei na ‘n kinderboek. FOTO 7: Verskaf/Hevette Aves

, , , , , , , ,