Plaaslike lojaliteit beskerm Vrystaatse koerant teen pandemie

Die Parys Gazette is gedurende die grendelstaat vir ’n tyd lank slegs by sekere afsetpunte, soos vulstasies, in Parys afgelewer, het Liezl Scheepers, redakteur van dié koerant, gesê. FOTO: Heléne Leonard

Sedert die begin van die nasionale Covid-19-grendelstaat in Maart verlede jaar, moes baie media-uitgewers moeilike besluite rondom die voortbestaan van hulle ondernemings neem. Só het Liezl Scheepers, redakteur van die Parys Gazette, gesê.

Dié publikasie is volgens Scheepers nie deur sulke besluite geraak nie. “Ons kon steeds gedurende die inperking die gedrukte koerant weekliks uitgee en het geen personeelvermindering gehad nie,” het sy gesê.

Die Parys Gazette is ’n gratis koerant wat weekliks op Donderdae van deur tot deur in Parys in die Vrystaat afgelewer word, volgens Scheepers. Die koerant word ook by sekere afsetpunte in die twee buurdorpe van Viljoenskroon en Vredefort afgelewer, het sy bygevoeg. Die publikasie word volgens Scheepers besit deur MooiVaal Media ’n plaaslike uitgewery van koerante waarin nuus uit gebiede regoor die Vaaldriehoek en die Noordwes gedek word, volgens hul webtuiste.

Daar moes wel aanpassings by die publikasie gemaak word met die aanvang van die grendelstaat, het Scheepers gesê.

Bepaalde maatreëls is op grond van finansiële oorweging in plek gestel, het sy gesê. “En ook sekere maatreëls in lyn met veiligheids- en inperkingsregulasies ten opsigte van verspreiding en drukoplaag.” 

Hulle het volgens Scheepers goed gevaar ten opsigte van sirkulasie gedurende die strenger vlakke van die grendelstaat.

“Dalk het die sirkulasie eerder toegeneem en […] ons webtuiste [het] ook geweldig gegroei in die tyd toe mense nie kon uitbeweeg nie,” het sy gesê.

Dít het bewys dat doeltreffende dienslewering aan lesers steeds moontlik is sonder om fisies op kantoor te wees, het sy bygevoeg. 

Advertensieplasings, wat die grootste deel van die koerant se inkomste genereer, kon ook ten volle aanlyn hanteer word, het Scheepers gesê.

Die Parys Gazette se leserskap het ongeag die aanvang van die landswye grendelstaat, onveranderd gebly, volgens Liezl Scheepers, redakteur van dié koerant. Dít kan toegeskryf word aan die koerant se volgehoue gewildheid oor die jare heen in Parys, meen sy. FOTO: Heléne Leonard

Die behoud van gemeenskapskoerante is vir Scheepers baie belangrik, het sy gesê. Die Parys Gazette dra volgens haar “ongelooflik baie by tot die kultuur van die Parys-gemeenskap”. 

Hoewel alle tipe nuus in die Parys Gazette gedek word, word daar op “sagter” gemeenskapstories gefokus, het Scheepers gesê. 

“’n Koerant is nie net ’n spieëlbeeld van die verlede nie, maar waag ook soms die hand aan wat die toekoms inhou vir die gemeenskap waarin dit funksioneer,” het Hennie Stander, ’n voormalige redakteur van MooiVaal Media, gesê.

Die Parys Gazette fokus op Parys en sy mense, meen Stander. Dít is wat dié gemeenskapskoerant onderskei van nasionale dagblaaie, het hy bygevoeg.

Hennie Stander, ’n voormalige redakteur van MooiVaal Media. FOTO: Verskaf/MooiVaal Media

“Blaai ’n inwoner van Parys deur die [Parys] Gazette, is die kans bykans 100% dat hy iets of iemand wat hy ken, êrens in die koerant gaan sien,” het Stander gesê. “Daarom lees meer mense gemeenskapskoerante in sy of haar dorp as wat enige dagblad [van] kan droom.”

Die Parys Gazette is van groot belang vir Parys, want die gemeenskap word deur die koerant op hoogte gehou van wat in die gemeenskap aangaan, meen Magda du Plooy, ’n leser van die publikasie.

“Die [Parys] Gazette herinner my [van] wat in die dorp aangaan, soos vertonings,” het sy gesê. “Dit is my skakel met die res van Parys.”

, , , , , ,