Plaaslike brandbestryders wys hul staal tydens Internasionale Brandweerdag

Internasionale Brandweerdag is vanjaar deur die Kaapse Wynlande in Stellenbosch aangebied, en het jongelinge van Stellenbosch aan dié beroepsveld bekendgestel. Die byeenkoms het gedien as ’n manier om hulde te bring aan brandbestryders wat hul lewens tydens dienslewering verloor het. Dit is volgens Heinrich Louw, hoof van opleiding vir die Kaapse Wynland-brandweerdienste.

Inwoners van Stellenbosch het die Internasionale Brandweerdag-byeenkoms in groot getalle bygewoon, om onder meer die verskillende brandweergroepe se brandoefeninge te aanskou. FOTO: Keziah Bailey 

Volgens Louw het brandweerdienste van regoor die Wes- en Suid-Kaap byeengekom om hulle vaardighede aan die gemeenskap ten toon te stel. Ongeveer 360 brandweermanne was op 4 Mei by die byeenkoms teenwoordig. 

Die jaarlikse Internasionale Brandweerdag het hierdie jaar in Stellenbosch plaasgevind. Verskeie ampsbekleërs het dié byeenkoms bygewoon, volgens Heinrich Louw, hoof van opleiding vir die Kaapse Wynland-brandweerdienste. VIDEO: Keziah Bailey 

Leiers kuier saam 

Verskeie leiers uit die streek het die byeenkoms bygewoon, het Louw gesê. Gaste het ingesluit Colin Deiner, direkteur van provinsiale brandweerdienste, Dr Ald van Schlight, die uitvoerende burgemeester van die Kaapse Wynland, die onderburgemeester, Margie Sampson, ook van die Kaapse Wynland, sowel as seniorbeamptes en brandweermanne. 

“Dit was ’n goeie ervaring om al die chiefs en ander brandweermanne by die byeenkoms te [hê], en om te sien wie die chiefs is van die verskillende brandweerstasies in die Kaap,” het Shaun Cornelisen, ’n brandweerman vir Stellenbosch-brandweer, gesê. Hy het aan SMF News gesê dat dit wonderlik was om die afgelope drie weke se beplanning te sien afspeel en om deel te kon wees van die byeenkoms.

Ongeveer 360 brandweermanne het Internasionale Brandweerdag op 4 Mei in Stellenbosch bygewoon. Dit is volgens Heinrich Louw, hoof van opleiding vir die Kaapse Wynland-brandweerdienste. FOTO: Keziah Bailey

Inspirasie vir kinders 

’n Groep leerders van onder meer Laerskool Stellenbosch het vir die geleentheid bygewoon. Dit is volgens Zaid Williams, ’n onderwys-assistent by Laerskool Stellenbosch. 

Dit is belangrik dat leerders bewus gemaak word van die deurslaggewende rol wat brandweermanne in die samelewing speel, het Williams bygevoeg, 

“Ek glo dit kan ook ’n manier wees om kinders te inspireer om ’n loopbaan as ’n brandweerman te oorweeg en om die harde werk en toewyding wat in hierdie beroep ingaan, te waardeer,” het hy gesê. 

Volgens Zaid Williams, onderwys-assistent by Laerskool Stellenbosch, is dit belangrik dat jongelinge die harde werk van brandweermanne moet raaksien en dat dit vir hulle ’n beroepsmoontlikheid kan wees. FOTO: Verskaf/Stellenbosch Munisipaliteit

’n Jaarlikse gebeurtenis 

Die byeenkoms het in 1999 ontstaan toe brandbestryders in Wes-Australië aan diens gesterf het. Volgens Louw word Internasionale Brandweerdag herdenk op die verjaarsdag van die Romeinse generaal St Florian, wat as ’n legendariese brandweerman erken word.

, ,