Penseel spog vanjaar met meeste inskrywings nog

’n Rekordgetal skrywers het vanjaar deelgeneem aan die nuutste uitgawe van ’n publikasie wat skryftalent van studente aan die Universiteit van Stellenbosch ten toon stel.

Dit is volgens Emma Olivier, ʼn BA Taal en Kultuur tweedejaarsstudent aan die Universiteit van Stellenbosch (US) en redaktrise van die Vereniging vir Afrikaanse Studente (VER[r]AS) se jongste uitgawe van die publikasie Penseel.

Vanjaar het 49 skrywers ingeskryf, met 186 inskrywings tussen hulle, het Olivier vertel.

“33 skrywers en 90 inskrywings is altesaam gekeur,” het Olivier gesê. Penseel 2023 is op 5 Maart in die Lettere en Sosiale Wetenskappe-gebou bekendgestel, tydens die viering van Taalweek.

Penseel se voorbladillustrasie versier met biblioteek stempels. Die datums dui aan dat Penseel al ʼn geruime tyd gepubliseer word. FOTO: Verskaf/Willemien Meyer

“Die Penseel-bundel het ʼn ryk geskiedenis in die departement en dit is vir ons ʼn voorreg dat alle Afrikaanse studente kan inskryf,” het Willemien Meyer, ʼn Afrikaans en Nederlands-meestersgraadstudent by US, en voorsitter van VER[r]AS, vertel.

“Elke jaar deel verskillende skrywers hul werke. Elke publikasie het dus ook sy eie unieke versameling stemme,” het Olivier gesê.

Willemien Meyer, voorsitter van VER[r]AS, het die openingstoespraak gelewer tydens die onlangse poësie-geleentheid. FOTO: Lara Smith

“Dit is spesiaal om te skryf in Afrikaans en dit is goed om sulke gesprekke te het soos wat ons nou het,” het Olivier gesê. “Want dit laat ons ook waardeer dat ons die geleentheid kry om met ons taal kan bedink.”

Die VER[r]AS-paneel van links: D’Angelo Kemp, Kobus Erasmus, Emma Olivier, Jean-Marie Potgieter, Lienke Norval en Allison Matroos. FOTO: Lara Smith

“ʼn Groot inspirasie vi my was Adam Small,” het D’Angelo Kemp, ʼn voormalige Afrikaans en Nederlands-honneursstudent by US wie se werk in die bundel ingesluit is, geantwoord toe die paneellede gevra is oor wat hulle ïnspireer om in Afrikaans te skryf. Kemp se werk is ook in die bundel opgeneem. “Toe ons [Small se] gedigte begine doen het oppie skool, toe sien ek dat finally, hies iemand wat skryf soes ek praat.”

Paneellede is gevra oor hulle beskouing van hulle sukses in die skryfkuns en of dit genoeg is om net vir jouself te skryf. Jean-Marie Potgieter, ʼn Afrikaans en Nederlands-doktersgraadstudent by US – wie se werk in die bundel ingesluit is – het geantwoord: “Ek dink nie ʼn gedig is ooit klaar nie. Die cool ding is, selfs lank nadat die digter dood is, leef die gedig voort.”

, ,