Parel Vallei wen topprys by tienertoneelfees

’n Toneelstuk van Hoërskool Parel Vallei is onlangs as die beste produksie by ’n plaaslike toneelfees aangewys. 

SMF News het die geleentheid bygewoon. 

Boet en Saartjie, opgevoer deur leerders van die skool, het by die 18de Klein Libertas Tienertoneelfees die prys vir beste produksie gewen. 

Die toneelfees is van 5 tot 9 Augustus by die Drostdy Teater gehou. 

Die prys sluit in ’n wisseltrofee en die geleentheid om in 2026 by die Suidoosterfees in Kaapstad op te tree, volgens Carien Punt, sekretaresse en projekbestuurder van die Klein Libertas-teatergroep. 

Die produksie het ook die prys vir beste aktrise en ondersteunende aktrise gewen.

Leerders van Hoërskool Parel Vallei met die trofeë wat hulle by die Klein Libertas Tienertoneelfees vir hul stuk, Boet en Saartjie, gewen het. Van links na regs: Jaques Joubert, William Le Roux, Carli Erasmus en Andus van Rooyen. SMF News het die geleentheid bygewoon. FOTO: Daniélle Schaafsma

Volgens Darryl Spijkers, skrywer en regisseur van Boet en Saartjie, is dit die eerste keer in tien jaar dat Hoërskool Parel Vallei aan die Klein Libertas Tienertoneelfees deelgeneem het. 

“Ons is baie trots op ons kinders,” het Spijkers gesê. 

Die prys beteken baie vir die kinders omdat hulle by die Suidoosterfees die kans gaan kry om op ’n professionele platform op te tree, het hy bygevoeg. 

“Wanneer tieners [die produksie] kyk, hoop ek hulle sal verteenwoordig en seen voel,” het Spijkers gesê. “Ek hoop dat soos hulle vorentoe gaan, hulle net sal groei en sal grootword om hul kinders groot te maak op ’n manier wat hulle nie toelaat om ook deur die krake te val nie.”

Die ‘eerste tree’

Volgens Punt is ’n totaal van 18 toneelstukke in vanjaar se tienertoneelfees op die planke gebring. Die fees gee aan jong akteurs ’n geleentheid om hul selfvertroue te bou, respek en dissipline te leer en om te leer hoe om terselfdertyd braaf en kwesbaar te wees, het Marion Holm, aktrise en beoordelaar van die fees, gesê. 

Beoordelaars van die Klein Libertas Tienertoneelfees lewer repliek op produksies wat by die fees opgevoer is. Van links na regs: Marion Holm, Oscar Petersen en Leatitia Solomons. SMF News het die geleentheid bygewoon. FOTO: Daniélle Schaafsma

Tienertoneel is die perfekte beginpunt vir ’n kind, al gaan hulle nie in die dramatiese kunste opeindig nie, volgens Holm. 

“As jy die Comrades wil hardloop moet jy by die eerste tree begin. Hierdie is [hulle] eerste tree,” het Holm gesê. 

Volgens Leatitia Solomons, ’n aktrise, skrywer en film- en toneelstuk regisseur wat die fees beoordeel het, kyk hulle eerstens na die teks. Hoe die teks geskryf is en dán hoe die akteur of aktrise die rol uitbeeld en die kyker beïnvloed, bepaal hoe goed ’n produksie is, het Solomons gesê. 

“Wat ek voor uitkyk as die mense so jonk is, is hulle commitment,” het Oscar Petersen, akteur en ’n beoordelaar, gesê. “Hy verstaan nie, maar hy spring in en doen dit met oorgawe.”

Brink Nelson, die regisseur van Paul Roos Gimnasium se produksie Raap, ontvang ’n toekenning vir beste grimering by die 18de Klein Libertas Tienertoneelfees. SMF News het die geleentheid bygewoon. Van links na regs: Oscar Petersen, akteur en beoordelaar by die fees, Nelson en Carien Punt, sekretaresse en projekbestuurder van die Klein Libertas-teatergroep. Tienertoneel leer vir kinders ’n “allegaartjie van vaardighede – en natuurlik is dit altyd lekker”, het Nelson gesê. FOTO: Daniélle Schaafsma

Klein Libertas se ‘erfenis’

Volgens Punt het die Klein Libertas-teatergroep die tienertoneelfees aangebied, al is hul teater tien jaar gelede in ’n brand verwoes. Die teatergroep bestaan sedert die 1960s en bied nou produksies aan in verskeie venues op Stellenbosch, het sy gesê. 

“Ons kies om aan Klein Libertas deel te neem omdat dit ’n Stellenbosch-fees is,” het Brink Nelson, Afrikaanse onderwyser en regisseur van Raap, ’n produksie deur Paul Roos Gimnasium, gesê. “Dit is deel van ons erfenis en ons moet dit ondersteun.”

, ,