Ou Hoofgebou word dalk toegebou

Drie installasiekunswerke gaan miskien voor die Ou Hoofgebou opgerig word. Die installasiekunswerk sal bestaan uit drie plate waarop die nuwe Suid-Afrikaanse grondwet verskyn. Die Erfenisstigting en Regsfakulteit van die Universiteit van Stellenbosch (US) het toestemming gegee, maar daar is appèl aangeteken deur die Stellenbosch Belangegroep. Dié appèl is nog hangend. Op 10 Junie is daar verdere besprekings gehou word oor of die projek gaan voortgaan.

Die hoof ingang van die Ou Hoofgebou. FOTO: Anke van der Merwe

Die hoof ingang van die Ou Hoofgebou. FOTO: Anke van der Merwe

“Ons was teleurgesteld toe ons hoor van die appèl. Ons het gedink ons sou kon voortgaan in die millennium-jaar,” sê prof. Nicola Smit, Dekaan van US se Regsfakulteit. “Ons het ’n lang proses gevolg en dit kom al van 2017 af.”

Strijdom van der Merwe is as kunstenaar genader om die beelde te maak. Hy het al verskeie kunswerke in en rondom Stellenbosch gemaak, onder andere die potlood-boom in Maraisstraat.

“Die Ou Hoofgebou is ’n simbool van kolonialisme en die druk van studente by US is so erg dat [die universiteit] iets moet doen om koloniale simbole af te breek, sonder om die Ou Hoofgebou af te breek,” vertel Van der Merwe.

Die aanhang van die grondwet, d.w.s. die verkorte gedeelte, gaan in Afrikaans, Engels en Xhosa op die drie beelde verskyn. Die letters op die plate sal uitgesny wees, sodat die son daardeur sal kan skyn en dit dan op die grond val. Die plate sal ongeveer vier meter hoog wees.

Waarvoor die Stellenbosch Belangegroep bang is, is dat die beelde so groot gaan wees dat dit mens se visie van die Ou Hoofgebou gaan belemmer. “Ek verstaan dit heeltemal,” sê Van der Merwe.

Die area waar die beelde moontlik opgerig gaan word. FOTO: Anke van der Merwe

Die area waar die beelde moontlik opgerig gaan word. FOTO: Anke van der Merwe

Daar was toe voorstelle dat die kunswerke op ander plekke rondom die gebou verskyn, maar volgens Van der Merwe werk dit nie esteties nie.

“Die gebou is 100% simmetries, so om iets langs die kant te laat staan, gaan niks vir die gebou doen nie,” verduidelik Van der Merwe. Smit sê ook: “Die fakulteit wil iets sigbaar hê. Ons wil iets hê wat die fakulteit en US verbind, tot die waardes en ideale.” Die kunswerk sal dus die beste as kunswerk funksioneer voor die gebou.

21-jarige Mart-Marié Serfontein, ’n derdejaar BA(Regsgeleerdheid)-student, sê dat die kunswerk ’n baie innoverende idee is en dat dit ’n baie goeie doel dien. “As die doel is om ’n koloniale simbool uit te wis, dan is die Ou Hoofgebou die ideale simbool om uit te wis.”

Serfontein is van mening dat dit hoogtyd is dat daar ’n transformatiewe kunswerk by die Ou Hoofgebou opgesit word. “Ek dink nie dat [die kunswerk] ’n aanval op die Regsfakulteit is nie. Dis nie ’n aanval op enige iemand nie. Dit is soos ons sê ’n redress en ek dink dat dit hoogtyd is.”

Daar is so ’n week of wat terug ’n oefenlopie gehou voor die gebou waar Van der Merwe gekom het met ’n namaaksel om vir die appèlkomitee te wys hoe dit prakties sou lyk. “Ons sien uit na wat die uitkoms is,” voeg Smit by.