Oriëntasie vanjaar ’n stap nader aan normaal 

Die Universiteit Stellenbosch (US) se oriëntasie vir eerstejaarstudente het vanjaar hoofsaaklik in persoon plaasgevind. Alhoewel die Covid-19-pandemie en die aangepaste vlak 1-regulasies steeds ’n realiteit is, het meer as 5 000 nuwelinge volgens die US se webwerf vanaf 1 Februarie tot 13 Februarie aan die oriëntasieprogram deelgeneem.

Marzelle Bosman (links) en Chloë Wyngaard van Equité private studente-organisasie demonstreer sosiale afstand. FOTO: Dominique Fuchs

Sosiale afstandsregulasies, die dra van maskers en die gebruik van handsaniteerders was steeds in plek, volgens Marzelle Bosman, onderprim van Equité private studente-organisasie (PSO). “Ons het baie streng Covid-reëls in plek en ons veiligheidskomitee is in beheer hiervan,” het Bosman ten tyde van die oriëntasietydperk gesê. 

Volgens Bosman het meer studente vanjaar aan die oriëntasieprogram deelgeneem, en was daar ook baie meer interaksie tussen eerstejaars. “Hierdie O-week voel definitief meer normaal omdat alles nie aanlyn is nie,” het Bosman gesê.

Lede van Aristea en Vesta private studente-organisasies terwyl hulle oefen vir Vensters. FOTO: Dominique Fuchs

Minette Sieberhagen, waarnemende PSO-koördineerder, het gesê dat vanjaar se oriëntasie nader aan normaal was, veral vergeleke met 2021. “Als is weer in persoon en daar is ook baie meer eerstejaars wat vanjaar aan O-week deelneem,” het sy vroeër vandeesmaand gesê.

Sieberhagen het vertel dat elke student in die oggend ’n Higher Health-toets moes doen voordat hulle aan die dag se aktiwiteite kon deelneem. Indien hulle resultaat oranje of rooi was, is studente gevra om eerder die dag se verrigtinge aanlyn by te woon.  

Eerstejaars van Aurora private studente-organisasie oefen hul danspassies vir Vensters. VIDEO: Dominique Fuchs

Volgens Wilri Terblanche, onderprim van Aurora PSO, was dit vir hulle leierskapspan baie makliker om vanjaar se logistiek ten opsigte van Covid-19 te hanteer. “Laas jaar was [dit] baie moeilik om aktiwiteite te doen. Ons is [toe] opgedeel in groepe van 50 weens Covid-19 en dit het Venstersoefeninge ook moeilik gemaak,” het Terblanche gesê. 

Volgens Terblanche het Aurora se eerstejaars dit baie geniet om vanjaar in groter groepe aan aktiwiteite deel te neem en om almal saam vir Vensters te oefen. 

Lede van Aurora private studente-organisasie poseer vir ’n foto tydens ’n Venstersoefening. FOTO: Dominique Fuchs

, , ,