Opskop skop op vir nou

Opskop het twee weke terug sy laaste aande as ’n dansklub gehad as gevolg van munisipale klagtes oor geraas. 

Opskop is ’n dansklub op die Bottelarypad in Stellenbosch en is bekend daarvoor dat dit studente op Woensdag-, Vrydag- en Saterdagaande gelok het om te kom sokkie. Torres Claude de Reuck, die eienaar van Opskop, vertel dat hulle wel nou moet toemaak omdat die munisipaliteit hom ingelig het dat hy nie ’n dansklub in daardie area mag hê nie. 

De Reuck sê dat daar ’n nuwe residensiële ontwikkeling is wat die afgelope jaar of wat omgekrap was oor die geraas. Hy noem dat hy verstaan dat die geraas ’n kwessie is vir mense, maar dat hy wel nie verstaan hoekom die munisipaliteit hom nou eers daaroor benader nie.

“Ek is al hier vir elf jaar, so hoekom het die munisipaliteit nie in die eerste jaar of so vir my kom sê dat ek nie in die regte area is nie?” vra hy. 

De Reuck gaan die opkomende Vrydag na Stellenbosch se munisipale hof toe om te hoor wat volgende gaan gebeur, maar vir nou is die dansklub toe. 

20190815_160424

Opskop se deure is, vir nou, gesluit. FOTO: Lia Snijman.

Hy sê dat hy hoop hulle sal dit weer kan oopmaak as ’n restaurant of kroeg, want die toemaak van Opskop affekteer nie net vir hom nie. “Klomp mense gaan nou sit sonder ’n inkomste, of ’n ekstra inkomste,” beken hy soos wat hy vertel van sy skoonmakers, kroegmanne, busdrywer en sekuriteitswag wat dalk afgedank gaan moet word. 

“Ons gaan probeer om die sokkie-element te behou, maar ons sal natuurlik nie die musiek so hard kan speel nie,” sê De Reuck. Hy spreek sy vrees uit dat veel minder mense gaan kom, want “mense het hierheen gekom om te dans, hulle het gekom vir die harde musiek”.

Jacques Hoffman (22), ’n derdejaar BCom Regte student, was ’n gereelde besoeker by Opskop en sê hy is “baie hartseer” dat dit toemaak, want “daar is niks soos Opskop in die Stellenbosch omgewing nie”.

Opskop was propvol tydens sy laaste Woensdag as 'n dansklub. FOTO: Verskaf.

Opskop was propvol tydens sy laaste Woensdag as ‘n dansklub. FOTO: Verskaf.

Willene Potgieter (23), ’n finale jaar opvoedkunde student en die sosiale koördineerder van die Maties Ballroom and Latin America Dance Society, noem dat sy vreeslik hartseer is oor Opskop wat toemaak, want dit “was soos ’n tweede huis”. 

Potgieter sê dat hulle sal vir nou “maar tevrede wees met die dans wat [hulle] tydens [hulle] dansklasse kry”.

Hoffman sê dat hy sal nou maar “Catwalk toe gaan op rustige aande”. Hy bieg dat hy sal nie meer Opskop toe gaan as dit ’n rustige kroeg of restaurant word nie, behalwe as mens steeds daar sal kan sokkie. 

Potgieter sê: “Ons sal maar deurry Danskraal [’n dansklub in Durbanville] toe.” Sy voeg by: “Opskop wat toegemaak het, was vir ons baie uit die bloute.”

,