Onstuimige weer dryf meer diere straat toe

Die winter is ’n moeilike tyd vir baie dierewelsynsorganisasies wat dié tyd van die jaar ’n skerp toename in rondloperdiere ontvang. 

Dit kan dikwels toegeskryf word aan stormagtige weerstoestande, volgens Jessica Perrins, hoof van finansiering en kommunikasie by die Stellenbosch Dierewelsynsvereniging (AWSS).

Die AWSS ontvang gewoonlik ’n instroming van rondloperhonde in die winter, volgens Alec Topp, bestuurder van die diere se skuiling by die organisasie.

Hulle optimale kapasiteit vir hul hondekampe is 70 honde, het Topp gesê. Hoewel die AWSS gewoonlik tussen 35 tot 40 honde oor dié kapasiteit versorg, het hulle tans 140 honde in hul sorg. Dit kom nadat hulle 80 honde oor die winter vanaf Augustus ingeneem het, volgens Topp. 

rondloperdiere

Die Stellenbosch Dierewelsynsvereniging (AWSS) ontvang ’n instroming van rondloperdiere in die winter weens koue en nat weerstoestande. FOTO: Candice Jantjies

Veg of vlug

Diere se gehoor is baie meer sensitief as dié van mense. Hulle word dus angsbevange tydens harde donderweer en gepaardgaande weerlig, het Perrins verduidelik. 

“Hulle gaan instinktief in oorlewingsmodus, wat vir hulle veg of vlug beteken,” het sy per e-pos aan MatieMedia gesê. 

’n Inwoner by die Okkie Jooste-kampterrein in Jonkershoek, Devina Rossouw-Rance, het aan MatieMedia vertel dat sy onlangs twee rondloperhondjies ingeneem het toe hulle “moeg en bang” by dié kampterrein opgedaag het. 

Troeteldiereienaars kan dit oorweeg om ’n veearts te nader vir ’n kalmeermiddel vir troeteldiere wat nie storms of swaar weer kan hanteer nie, het Perrins voorgestel. 

AWSS

Die Stellenbosch Dierewelsynsvereniging (AWSS) gebruik infrarooi-gloeilampe om diere in hul kwarantynkamp warm te hou in die winter. Diere wat nuut by die organisasie ingebring word, word vir 10 dae in kwarantyn geplaas om te verhoed dat hulle moontlik virusse aan ander diere oordra. Dit is volgens Alec Topp, bestuurder van die diere se skuiling by die AWSS. FOTO: Candice Jantjies

Verder besef baie mense ook nie dat die kouer maande net so uitdagend vir diere kan wees soos die hitte van die somer nie. Byvoorbeeld, die inspektoraat by die AWSS ontvang gereeld klagtes oor honde wat buite gehou word sonder enige skuiling “teen die elemente”, volgens Perrins. 

“Dis een van die vele oproepe om hulp wat ons gedurende die winter ontvang,” het sy gesê. 

AWSS

Die Stellenbosch Dierewelsynsvereniging (AWSS) gebruik strooi om hokke te verhit wat nie geïsoleer is nie. FOTO: Candice Jantjies

AWSS

Die Stellenbosch Dierewelsynsvereniging (AWSS) was en hang “heeldag” komberse uit om droog te word, sodat die diere altyd warm beddegoed kan hê, volgens Alec Topp, bestuurder van die diere se skuiling by die AWSS. Die organisasie het ’n industriële wasmasjien wat heeldag in werking is, het hy gesê. FOTO: Candice Jantjies

Winter-wenke vir troeteldiereienaars

Dit is belangrik dat troeteldiereienaars hul diere met beddegoed en waterdigte skuilings toerus om die diere teen nat en koue weer te beskerm, het Perrins voorgestel. 

“Maak seker dat die hok waterdig is en skuif dit sodat die ingang nie aan die weer blootgestel is nie,” het sy gesê. “En maak seker dat die hok van die grond af gehys is om koue en klam toestande te voorkom.”

Om verdwaalde en rondloperdiere maklik herkenbaar te maak, kan ’n ID-skyf of ’n mikroskyfie op hul halsbande aangebring word, het sy bygevoeg. 

, , ,