Onsekerheid oor toekoms van SU-kampusliga rugbyspan  

’n Privaatstudente-organisasie (PSO) van die Stellenbosch Universiteit (SU) is onlangs ingelig dat hul rugbyspan heel moontlik nie meer vanjaar aan kampusliga-rugby sal kan deelneem nie. 

Die Barbarians-span, die gesamentlike rugbyspan van Stellenbosch Universiteit se privaatstudente-organisasies, het verlede jaar die C-afdeling van die kampusliga gewen. FOTO: Verskaf/Len Woudstra

Dit is bevestig deur Drikus Hancke, hoof van rugby by Maties Sport, wat gesê het dat hierdie besluit geneem is as deel van ’n herstruktureringsproses van die rugbyliga sodat kampusrugby in die langtermyn gesond bly en nie ’n “afgewaterde kompetisie” raak nie. 

Die betrokke span, die Barbarians, is voorheen saamgestel uit dagstudente wat nie ’n affiliasie met enige kampuskoshuis gehad het nie, het Hancke verduidelik. 

Die Barbarians is op 20 Februarie ingelig dat hulle nie meer binne hierdie groepering sal kan deelneem nie, volgens ’n verklaring op hul Instagram-blad. 

Die Barbarians-span, die gesamentlike rugbyspan van Stellenbosch Universiteit se privaatstudente-organisasies, in aksie op die Danie Craven-veld. FOTO: Verskaf/Leon Schwab

Die groot getal spelers tot die Barbarians se beskikking, het ’n beduidende rol gespeel in die besluit om die span se deelname te heroorweeg, het Hancke aan SMF News gesê. Daar is tans altesaam 3 603 moontlike spelers in alle SU manskoshuise, teenoor 5 659 moontlike mansspelers in die PSO’s, het hy gesê. 

“Ons het onsself gevra hoekom [die 5 659 spelers] net een span is, en besluit dat dit ’n probleem is wat ons wou oplos. Die ontbinding van die Barbarians was deel van hierdie oplossing,” het Hancke gesê.

Intussen beweer die Barbarians se woordvoerder dat hulle verlede jaar via ander koshuise verneem het van die besluit.

“Ons het verlede jaar November… vergader,” het Miaan van Zyl, die woordvoerder van die Barbarians, aan SMF News gesê. “Daar is vir ons gesê dat die keuse nie finaal was nie – dat dit net ’n voorstel was en dat ons deel van die proses sou wees.”

Volgens Van Zyl is daar gedurende ’n huiskomiteesportsvergadering in oriënteringsweek net genoem dat die Barbarians “nie meer bestaan nie”. 

“Daar was geen formele kommunikasie om ons op dieselfde bladsy te kry nie,” het Van Zyl beweer. “Die afrigters is nie ingelig oor wat aangaan nie en die spelers weet nie waar om in te skakel nie. Almal het verskillende inligting.” 

Stellenbosch Universiteit se onder 20-toernooi vir nuwelinge is reeds in volle swang. FOTO: Eugene Marais

Hancke het erken dat die besluitnemingsproses beter hanteer kon word. 

“Ons is besig om na ’n oplossing toe te werk, so ek dink daar sal nog konsultasie plaasvind. [Die Barbarians] het gesê hulle het steeds bekommernisse, so ons werk nou om ’n oplossing te kry daarvoor. Die oplossing moet al ons bekommernisse ook aanspreek – nie net die Barbarians s’n nie,” het Hancke gesê.

Miaan van Zyl, Barbarians woordvoerder, verduidelik hoekom die besluit om die Barbarians uit die kampusliga te haal haar verstom. KLANK: Eugene Marais

Volgens oudspeler Philip Parrock, wat tussen 2010 en 2014 vir die Barbarians uitgedraf het, sal dit ’n groot fout wees om die Barbarians uit die kampusliga uit te haal. “Toe ek aangesluit het, het die ‘Baa Baas’ my met ope arms verwelkom. Dit was ’n eer om vir hulle uit te draf.” 

Maties se kampusrugby-liga skop 12 April 2024 af.

, ,