Inwoners van Cloetesville vrees vir hul gesondheid ná ’n rotteplaag hul huise oorstroom het.
Marius van Stade, ’n GOOD Party-raadslid van die Kaapse Wynland-disktrikmunisipaliteit, het op 15 September ’n amptelike klag oor Cloetesville se rotteplaag aan die munisipaliteit gerig. Vir die afgelope twee jaar stel die rotte Gemsbokstraat in Cloetesville, se inwoners se gesondheid in gevaar, het hy gesê.
Volgens Ronel Wenn, ’n inwoner van Gemsbokstraat, het sy vanjaar, in Mei, haar eerste kennismaking met die rotte gehad, sê sy. Aanvanklik was die rotte net buite haar huis, maar nou het hulle haar woning geïnfiltreer.

Ronel Wenn, ’n inwoner van Gemsbokstraat in Cloetesville, sê dat die rotte deur die gat in die muur van haar badkamer kom. Hulle het al die gat probeer vul met sand en sement, maar die rotte het daardeur gegrawe. FOTO: Gio Anthony
Die rotte eet hulle kos, het Wenn gesê.
Inwoners van Sylviastraat, ook in Cloetesville, het gesê dat hulle dieselfde probleem ervaar.
Die rotte knaag aan Eloise Williams, ’n inwoner van Sylviastraat, se wendy-huis, het sy gesê. “Ons moes al die gate probeer toemaak.”
As gevolg van die rotte leef sy in vrees vir haar kind se gesondheid. “Ek het ’n klein kind. Ek kan nie haar bottels neersit nie. As ek weer sien dan is daar gate [deur die rotte] gebyt.”

Sylviastraat-inwoner, Eloise Williams, sê sy moet sinkplate gebruik om haar huis toe te maak. Van die rotte kou aan dié plate om in haar huis in te kom. FOTO: Gio Anthony
Williams moet haar kos in emmers stoor om te verhoed dat die rotte dit opvreet. Die rotte hou haar in die aande wakker. “Saans kan jy nie slaap nie. Soms voel jy hoe vroetel [die rotte] hier,” het sy gesê.
“Ons is almal bang. [Die rotte] is só groot,” het Christelle Arrison,’n inwoner van Sylviastraat gesê.
Terwyl inwoners kommer oor die rotte wat hulle teister, het Stuart Grobbelaar, woordvoerder vir Stellenbosch Munisipaliteit gesê dat hulle nie bewus is van enige buitengewone of grootskaalse rotteplaag nie.
Hy volhou dat die munisipaliteit deurlopende instandhouding doen. Grobbelaar het gesê dat knaagdierplae op private erwe deur die eienaars van die erwe aangespreek moet word.

Die deurgang in Gemsbokstraat waar die rotte rondhardloop. Ronel Wenn, ’n inwoner van Gemsbokstraat, het gesê die rotte was eers buite, maar het onlangs in haar huis inbeweeg en haar kos begin eet. FOTO: Gio Anthony
Grobbelaar het verduidelik dat plae as ’n gemeenskapsgesondheidskwessie onder die jurisdiksie van die distrikmunisipaliteit val. Klagtes hieroor moet direk aan die distriksmunisipaliteit gerig word.
SMF News het uitgereik na die Kaapse Wynland-distrikmunisipaliteit vir komentaar, maar het teen publikasietyd nog geen terugvoer ontvang nie.
