Onlangse inbrake wek kommer onder Stellenbosch-inwoners

Inwoners van Stellenbosch het onlangs hul griewe op sosiale media gedeel rakende ’n video wat op WhatsApp versprei is. Dié video toon hoe twee individue toegang tot inwoners se eiendomme verkry deur hulself as munisipale werkers voor te gee. Dit is volgens Eunice Pieters, ’n inwoner van Stellenbosch, wie se huis onlangs beroof is. 

“Hulle het reeds toegang tot my eiendom verkry. Daar was nie veel wat ek daaraan kon doen nie. Ek het geen rede gehad om hulle nie te glo nie,” het Pieters aan SMF News vertel. 

Pieters se televisie en ander elektroniese toestelle is tydens die voorval sowat twee weke gelede gesteel. Sy het daarna ’n saak by die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aanhangig gemaak.

“Hulle het reeds toegang tot my eiendom verkry. Daar was nie veel wat ek daaraan kon doen nie. Ek het geen rede gehad om hulle nie te glo nie,” het Eunice Petersen, ’n inwoner van Stellenbosch, gesê nadat mense wat hulle glo as munisipale werkers voorgedoen het, haar huis beroof het. FOTO: Sebastian Paulus

Kaptein Nathalie Martin, woordvoerder vir die SAPD in Stellenbosch, het bevestig dat die polisie kennis dra van hierdie tipe voorvalle. 

“Ons is slegs bewus van mense wat beweer dat hulle aan die elektrisiteit by huise werk en toegang tot mense se huise wil verkry. Ons kan nie sê dat hulle beweer dat hulle van die munisipaliteit is nie,” het Martin gesê.

Kaptein Natalie Martin, woordvoerder vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Stellenbosch, het ’n beroep gedoen op inwoners van Stellenbosch om hul sekuriteitsmaatreëls op te skerp en nie vreemdelinge te vertrou nie. FOTO: Sebastian Paulus

Veiligheidsmaatreëls in plek 

Ontec is die enigste maatskappy wat tans huise besoek om elektrisiteitsmeters te herprogrammeer as deel van die nasionale TID-omdraaiprogram. Dit is volgens Stuart Grobbelaar, kommunikasiebestuurder van Stellenbosch Munisipaliteit.

“Hierdie spanne sal van volgende week af in die Pniel- en Franschhoek-gebiede wees en het duidelike identifikasie met hulle. Hulle het ook kontaknommers wat gebruik kan word om hul identiteit en die doel van hul besoek te verifieer,” het Grobbelaar gesê.

Stellenbosch Munisipaliteit het inwoners aangemoedig om altyd identifikasie te vra vanaf persone wat beweer dat hulle vir die munispaliteit werk. Die enigste maatskappy wat tans besig is om inwoners se elektrisiteitsbokse  te ondersoek, is Ontec Systems. Dit is volgens Stuart Grobbelaar, kommunikasiebestuurder van Stellenbosch Munispaliteit. FOTO: Sebastian Paulus

Stellenbosch Munisipaliteit het ook aan SMF News bevestig dat hulle ’n saak by die SAPD geopen het, nadat verdagtes wat hulself as munisipale werkers voordoen, op kringtelevisie vasgevang is. 

Niemand is tot dusver in verband met die voorval gearresteer nie, het Martin gesê. 

Volgens Grobbelaar doen Stellenbosch Munisipaliteit ’n beroep aan die publiek om altyd waaksaam te wees en om altyd vir identifikasie te vra wanneer individue beweer dat hul munisipale werkers is. Inwoners moet nooit enige vreemdeling in hul huise toelaat nie, het Grobbelaar gesê.

Infografika: Sebastian Paulus

, , ,