Om die goeie in die nuus te vind

“As daar nie goeie nuus was nie, dan het ons die goeie in die nuus gevind.”

Dít, volgens Hedda Mittner, inhoudsbestuurder van The Village NEWS in Hermanus, is hoe dié publikasie hul “goeie nuus”-aanslag met die aanvangs van die plaaslike Covid-19-pandemie benader het.

The Village NEWS is ’n gratis en onafhanklike nuuspublikasie wat weekliks op Dinsdae en Woensdae in die Overstrand versprei word, het De Waal Steyn, eienaar en redakteur van dié publikasie, telefonies aan MatieMedia gesê.

Die publikasie het ’n “goeie nuus”-aanslag wat fokus op gemeenskapstories wat tot die gemeenskap se voordeel strek, volgens Steyn. “Ons slagspreuke is ‘news you can use’,” het hy gesê. “Om net te berig oor die nuus is lui joernalistiek.”

goeie nuus

De Waal Steyn, eienaar en redakteur van The Village NEWS in Hermanus. FOTO: LinkedIn/De Waal Steyn

Goeie nuus om die gemeenskap te bevorder

Hermanus het oor die afgelope dekade ’n gewilde toeristebestemming geword, meen Mittner. The Village NEWS poog dus om die gebied se vooruitgang met hulle positiewe nuusaanslag te bevorder, het sy gesê.

“Die leefstylgedeelte is dan ook baie gemik daarop om ons plaaslike ondernemings te ondersteun en hulle stories te vertel,” het Mittner gesê.

Pandemie slaan toe

The Village NEWS is in 2016 deur Steyn begin. Gedurende die eerste bestaansjaar het die publikasie met 700% gegroei, het Mittner gesê. Die koerant se vinnige groei het beteken dat hulle meer personeel moes aanstel, asook groter kantoorspasie moes kry, het sy gesê. In 2019 het hulle “oplaas” ’n kantoor gekry met genoeg plek vir al die personeel, het sy bygevoeg.

Die span het egter weens die nasionale grendelstaatbeperkings van die huis af begin werk, en dus die kantoor opgegee om die ophoop van huurkoste te vermy, het Mittner gesê. Om finansieel kop bo water te hou, was volgens Mittner een van die grootste uitdagings wat met die toepassing van die grendelstaat aan hulle gestel is.

“[Al] ons gereelde adverteerders wat hulle ondernemings moes toemaak, het dadelik al hulle advertensies gekanselleer,” het Mittner gesê

goeie nuus

The Village NEWS se 2019-span met al die toekennings wat hulle in dié jaar by die Forum vir Gemeenskapsjoernalistiek (FCJ) gewerf het. Agter van links: Murray Stewart, Hedda Mittner, De Waal Steyn en Nickey Jackson. Voor van links: Taylum Meyer en Elaine Davie. FOTO: Verskaf/Hedda Mittner

Die publikasie versprei tans 6 000 gedrukte koerante per week, teenoor ’n weeklikse oplaag van 10 000 voordat die grendelstaat in werking getree het, het Mittner gesê. 

Die oplaag is volgens Mittner verminder om te bespaar op stygende drukkoste, asook ná hul aanlyn leserskap tydens die grendelstaat “opgeskiet” het en hulle dié platform dus nou meer bevorder as die gedrukte publikasie. 

Hoewel The Village NEWS hoofsaaklik op “goeie” nuusstories fokus, ignoreer hulle nie belangrike kwessies met dié aanslag nie, “want daar is baie kwessies in ’n dorp soos Hermanus”, het Mittner gesê. Hulle probeer wel om die positiewe nuusaanslag by meer ernstige stories by te werk deur onder meer inligting te gee oor hoe die gemeenskap betrokke kan raak om gemeenskapskwessies te ontlont, het sy gesê.

“Covid-fatigue
Sedert die uitbreking van die pandemie, is die nuus wat in Hermanus versprei word, oorheers deur Covid-19-verwante stories, meen Meriska Brikkels, ’n inwoner op Hermanus wat The Village NEWS en verskeie ander nuusbronne in die dorp volg.

Hoewel The Village NEWS wel verlede jaar tydens die strenger vlakke van die grendelstaat “baie meer Covid-stories gedra” het, is die positiewe aanslag by stories ingesluit deur byvoorbeeld raad te verskaf oor “hoe om jou immuunstelsel op te bou”, het Mittner gesê. “Soos wat die tyd aangegaan het en mense Covid-fatigue gekry het, is daar nie meer ’n vreeslike sterk fokus in ons koerant op juis Covid-19 nie,” het sy bygevoeg.

goeie nuus

Voorblaaie uit The Village NEWS se aanlyn argiewe. FOTO: Verskaf/Hedda Mittner

, , , ,