Oefening vir die hart: Plaaslike organisasie help haweloses

’n Plaaslike hulporganisasie het onlangs ’n oefensessie vir liefdadigheid aangebied waartydens donasies vir hawelose mense ingesamel is.

Dié hoë-intensiteit-interval-oefensessie is op 15 Augustus op die Universiteit Stellenbosch (US) se tennisbane aangebied. Die sessie is gelei deur Marianné Theron, ’n US-student en HIIT Fit-fiksheidsinstrukteur. Dit is volgens Anna-Mart Schutte, die stigter van Re-community.  

Re-community is ’n hulpsorganisasie wat met bestaande hulporganisasies werk om ’n positiewe bydra tot die hawelose gemeenskap te maak, het Schutte per e-pos aan MatieMedia verduidelik. 

Re-community, ’n studentgedrewe hulporganisasie en -gemeenskap, het op 15 Augustus op die Universiteit Stellenbosch se tennisbane ’n hoë-intensiteit-interval-oefensessie aangebied. Dit is volgens Anna-Mart Schutte, die stigter van dié organisasie, per e-pos aan MatieMedia gesê. Die sessie is deur Marianné Theron, ’n US-student en fiksheidsinstrukteur, gelei. FOTO: Bianke Neethling

Oefen vir ’n goeie doel

Die geleentheid kon gratis bygewoon word, maar deelnemers is aangemoedig om donasies te maak wat Re-community aan hawelose mense in die gemeenskap kan skenk, het Schutte verduidelik.

“Ek is baie gelukkig met hoe die sessie gegaan het,” het Theron via WhatsApp aan MatieMedia gesê. “Almal was gretig om te oefen, selfs al was dit vir sommige iets nuut, en almal het ’n donasie aan die Re-community-projek gemaak. Dit is die beste crowd waarvoor ’n mens by so ’n geleentheid [kon] vra.” 

Om en by 15 mense het die sessie bygewoon.

Ondermeer klere, beddegoed en kruideniersware, is ingesamel en alle donasies sal deur Re-community versprei word waar die nood tans die grootste is, het Schutte gesê.

Martine Odendal, wat die oefensessie bygewoon het, het gesê sy was verbaas oor die hoeveelheid items wat geskenk is. Sy het aan MatieMedia gesê dat sy bly was dat die gemeenskap ’n bydrae tot so ’n goeie doel gemaak het.

“Ek wil die gemeenskap uit ’n ander oogpunt na hierdie haweloosheid-situasie laat kyk om weer die gemarginaliseerde, ‘onsigbare’ hawelose, as ’n menswaardige medemensen individu in eie reg, te sien, te erken en te help,” het Anna-Mart Schutte, die stigter van Re-community, per e-pos aan MatieMedia gesê. Re-community is ’n hulporganisasie en -gemeenskap, en het onlangs ’n hoë-intensiteit-interval-oefensessie aangebied waar deelnemers items vir liefdadigheid kon skenk. FOTO: Bianke Neethling

Helpende hande

“Ek het deur my navorsing besef hoeveel ongelooflike haweloosheidshulpinisiatiewe reeds daar buite is, maar wat vir my egter onrusbarend is, is die feit dat so min mense enigsins bewus is van hierdie lewensveranderende inisiatiewe,” het Schutte, wat tans met haar honneurs in visuele kommunikasie ontwerp aan die US besig is, gesê.

Dié navorsing het Schutte gëinspireer om Re-community te stig, het sy gesê.

Ek is oorweldig deur die hoeveelheid ondersteuning, skenkings en donasies van die Stellenbosch-gemeenskap,” het Anna-Mart Schutte, die stigter van Re-community, per e-pos aan MatieMedia gesê nadat dié studentgedrewe hulporganisasie en -gemeenskap op 15 Augustus ’n hoë-intensiteit-interval-oefensessie aangebied het. FOTO: Bianke Neethling

Re-community het ’n “indeks van inisiatiewe” geskep wat reeds in Stellenbosch bestaan, het Schutte verduidelik. Hierdie indeks dien as ’n “platform waar die gemeenskap op ’n maklike en eenvoudige manier bewus kan word van die verskeie maniere hoe hulle betrokke kan word om hulp te verleen”, volgens Schutte.

“Daar is geen kostes of verpligtinge daaraan verbonde vir deelnemende lede of organisasies nie,” het Schutte gesê. “Dit het uitsluitlik ten doel om bestaande haweloosheidshulporganisasies te help bemark en bekend te stel.”

“Ek is baie gelukkig met hoe die sessie gegaan het. […] Dit is die beste crowd waarvoor ’n mens by so ’n geleentheid [kon] vra,” het Marianné Theron, ’n Universiteit Stellenbosch-student en fiksheidsinstrukteur, per e-pos aan MatieMedia gesê. Theron het onlangs ’n oefensessie namens Re-community gelei. Dít is volgens Anna-Mart Schutte, die stigter van Re-community. VIDEO: Bianke Neethling

, ,