Nuwe wyksraadslid vir Wyk 21, na tussenverkiesing

Stellenbosch se Wyk 21 het ’n nuwe wyksraadslid na die onlangse tussenverkiesing op 8 Maart. Mynard Slabbert van die Demokratiese Alliansie (DA) het dié verkiesing met 72.57% gewen, volgens die Onafhanklike Verkiesingkommissie (OVK) se data.

Die tussenverkiesing in Wyk 21, wat Jamestown en Paradyskloof insluit, volg op die bedanking van DA-raadslid Rikus Badenhorst in 2022. Dit is volgens ‘n persverklaring deur Stellenbosch Munisipaliteit.

Ek hoop die nuwe wyksraadslid skenk aandag aan ondersteuning vir voorskoolse kinderontwikkeling, beperking op ontwikkeling van Agri-eiendomme, duidelike hersonering vir tuisgebaseerde besighede, ondersteuning vir sport en ontspanning asook behuising vir inwoners met middelinkomstes,”het Dale Simons, voorsitter van die Jamestown Belastingbetalersvereniging, aan MatieMedia gesê. FOTO: Verskaf/Otniel Jooste

“Die verkiesing is verby en die sentiment van die kiesers is duidelik gekommunikeer. Dit is nou die tyd om op kernaspekte wat kiesers raak, te konsentreer,” het Slabbert aan MatieMedia gesê. Slabbert het ook belowe om te bou op die planne van sy voortganger. 

“My doel is om voort te bou op die ongelooflike werk van my voorganger, Rikus Badenhorst. Ek sal met alle partye in die munisipaliteit en burgerregte organisasies, sportsklubs en buurtwagte meewerk om die gemeenskapsveiligheid deurlopend te ondersteun en uit te brei,” het Slabbert bygevoeg.

Mynard Slabbert, die nuwe wyksraadslid van Wyk 21, beoog om probleme in die wyk te takel deur met die gemeenskapstrukture te werk. FOTO: Verskaf/Rikus Bardenhorst

Gemeenskapsondersteuning

“Kiesers- en burgeropvoeding is die sleutel tot verandering,” het Dale Simons, voorsitter van die Jamestown Belastingbetalersvereniging, aan MatieMedia gesê. “In die verlede het die DA en die munisipale struktuur hul goed van hul taak gekwyt in die verskaffing van basiese dienste en gemeenskapsondersteuning. Ons ken nie die nuwe wykslid nie, maar hy sal die vertroue van die gemeenskap moet wen.’’ 

Paradyskloof in Wyk 21, het laasjaar baie uitdagings met lopende water ervaar, volgens Dawn van Wyk, ’n inwoner van Paradyskloof. Van Wyk het ook as onafhanklike kandidaat in die tussenverkiesing deelgeneem. FOTO:Sebastian Paulus

Volgens Simons het die Jamestown Belastingbetalersvereniging baie nou saam gewerk met vorige wyksraadslede.

“[Ons] sal dit weer doen om te verseker dat ons stemme gehoor word en dat ons insette ’n verskil maak in ons gemeenskap,’’ het Simons bygevoeg.

“Ons ken nie die nuwe wykslid nie, maar hy sal die vertroue van die gemeenskap moet wen,’’ het Dale Simons, voorsitter van die Jamestown-belastingbetalersvereniging, aan MatieMedia gesê na die onlangse tussenverkiesing in Wyk 21. FOTO: Sebastian Paulus

Veilige samelewing

Alhoewel die DA die tussenverkiesing gewen het, het die Afrika Christen Demokratiese Party (ACDP) se steun in die wyk vanaf 3.37% in 2021 gegroei tot 16.28%, volgens die OVK se data.

“Ons is uiters opgewonde oor die resultate wat ons in die tussenverkiesing gesien het. Dit demonstreer hoe Suid-Afrikaners uit alle dele van die samelewing met verskillende inkomstes en rasse, soos Wyk 21, gretig is om bymekaar te kom,” het Otniel Jooste, ACDP-kandidaat, aan MatieMedia gesê. “Ons moet dringend gesonder gemeenskappe begin skep, met ou waardes van respek en gesinstrukture waar jongmense verskaf word van ’n  ondersteuningstelsel wat sal bydra tot veilige en beter samelewings.”

 

Ontniel Jooste, ACDP-kandidaat deel sy visie vir die party na die onlangse tussenverkiesing. Stemgreep:Sebastian Paulus

, , , ,