Nuwe veiligheidsbeheerkamer word bekendgestel in Stellenbosch

’n Nuwe munisipale veiligheidsbeheerkamer wat reeds twee jaar gelede van stapel gestuur is, het ten doel om veiligheid in Stellenbosch te monitor en om dit moontlik te maak om vinniger op te tree wanneer daar gevaar is. Dit is volgens Stuart Grobbelaar, woordvoerder van die munisipaliteit.

Kameras wat beeldmateriaal deurvoer na skerms in die veiligheidsbeheerkamer, is reeds opgerig in die Stellenbosse middedorp, sowel die residensiële areas van Die Boord, asook by die verkeerslig voor die ingang tot Kayamandi, volgens inligting op sosiale media van Stellenbosh Munisipaliteit.

Verdere inligting oor die uitbreiding van monitering na ander plaaslike areas, sal tydens die amptelike bekendstelling van die veiligheidsbeheerkamer – wat binne die volgende jaar sal plaasvind – aan die gemeenskap bekend gemaak word, het Grobbelaar gesê. 

Die veiligheidsbeheerkamer is egter reeds, sedert die begin van 2019 in werking, het Grobbelaar bygevoeg.

Een van die moniteringstrukture wat in Stellenbosch opgerig is deur Aegis Africa, ’n sekuriteitsmaatskappy wat die veiligheidsbeheerkamer se infrastruktuur fasiliteer. FOTO: Jana Scheepers

Munisipale amptenare werk in skofte om die veiligheidsbeheerkamer te beman. Die beheerkamer word 24-uur per dag, sewe dae per week beman, het Grobbelaar gesê.

“Die moderne fasiliteit dien as ʼn sentrale beheerkamer en al die organisasies wat deel vorm van die Stellenbosch Veiligheidsinisiatief (SSI) – onder meer die Stellenbosse Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die Universiteit Stellenbosch (US) se Kampussekuriteit en verskeie ander private sekuriteitsagentskappe – het toegang tot die beheerkamer,” het Grobbelaar gesê. “Sodoende word inligting makliker gedeel, samewerking word bevorder en kan daar vinniger opgetree word,” het Grobbelaar verduidelik.

Aegis Africa, ʼn private sekuriteitsmaatskappy wat die beheerkamer se infrastruktuur fasiliteer, het die kameras in 2019 begin oprig, het Deon Gerber, sekuriteitspesialis van Aegis Africa in Stellenbosch telefonies aan MatieMedia gesê. 

Verskeie organisasies van die Stellenbosch Veiligheidsinisiatief (SSI) in samewerking in die beheerkamer. FOTO: Verskaf/Stellenbosch Munisipaliteit

Stellenbosch SAPD werk nou saam met die munisipale amptenare wat die veiligheidsbeheerkamer beman, het Kaptein Nathalie Martin, kommunikasiebeampte van Stellenbosch SAPD, per e-pos aan MatieMedia gesê. “Dit is ons werk om op oproepe van die beheerkamer te reageer, en na die area in die dorp te gaan wat in gevaar is,” het Martin gesê. 

Stellenbosch Munisipaliteit se nuwe beheerkamer wat binnekort aan die gemeenskap bekendgestel gaan word. FOTO: Verskaf/Stellenbosch Munisipaliteit