Nuwe parkeringstelsel tree in werking op Stellenbosch

Stellenbosch Munisipaliteit het op 1 April ’n nuwe parkeringbestuurstelsel in diens geneem. Die parkeringstelsel word deur Street Parking Solutions (SPS) bestuur.

parking1

Parkeringsbeamptes werksaam onder die nuwe stelsel. FOTO: Stellenbosch Munisipaliteit

Volgens Stuart Grobbelaar, kommunikasiebestuurder van Stellenbosch Munisipaliteit, is daar verskeie redes vir die implementering van die nuwe stelsel. Hierdie redes sluit in om diefstal van kontant te voorkom, te verhoed dat kansvatters inwoners en besoekers wat die parkeerarea gebruik uit buit vir geld, asook om verkeer in die middedorp beter te reguleer.

Grobbelaar sê ook dat ’n professionele sisteem Stellenbosch in lyn sal plaas met internasionale beste praktyke en standaarde.

SPS bestuur ook die afgelope 10 jaar die parkering in die Stad Kaapstad. Grobbelaar sê dat as deel van die vereistes vir SPS se tender moes al die persone wat aangestel is as parkeringsbeamptes woonagtig wees binne die groter Stellenbosch area. Die beamptes word vergoed in terme van die Uitgebreide Openbarewerke Program.

“Die diensverskaffer beoog om tussen veertig en vyftig persone aan te stel. Hierdie persone word opgelei as parkeringbeamptes deur SPS, wat reeds 13 jaar beamptes oplei in die bedryf.”

Die nuwe sisteem het verskeie reaksies ontlok onder verbruikers. Een inwoner, Cady Balie (21) sê sy het nie genoeg inligting vooraf ontvang oor die nuwe stelsel nie.

Die Munisipaliteit sê dat hulle bewus is van kwessies wat deur inwoners uitgelig word en dat hul tesame met SPS dringend aandag skenk daaraan.  

Die nuwe stelsel is ook kontantloos.

Betaling kan nou geskied via kredietkaart (Master Card, Visa en Amex), debietkaart, “tap & go” Myciti kaart, sowel as SnapScan. Die voorafbetaalde Myciti kaarte is te koop by die SPS kantore op die hoek van Andringa- en Crozierstraat. Ons beoog ook om die kaarte binnekort op meer afsetpunte beskikbaar te stel. Geen bankkostes word vanaf bestuurders se rekeninge afgetrek nie- alle bankkostes word deur die diensverskaffer gedek. Weens ʼn groot aanvanklike aanvraag op die Myciti kaarte, het hulle vinniger as verwag uitverkoop. Daar is dadelik nuwe kaarte bestel en afgelewer,” sê Grobbelaar.

Grobbelaar sê dat hulle bewus is van die opeenhopings wat veroorsaak word by die parkeerterreine.

“Hierdie kwessie is besig om dringend aandag te geniet en ons het versoek dat meer beamptes intussen oorgeplaas word om hierdie punte te bedien. Geoutomatiseerde sisteme gaan binnekort geïnstalleer word by die parkeerterreine wat verkeersvloei drasties sal verbeter. Weens tegniese probleme kon die sisteme nie reeds in plek wees op 1 April 2019 nie.”

Grobbelaar voeg by dat die munisipaliteit terugvoer en navrae verwelkom.

“Die terugvoer wat ons ontvang sal help om kwessies uitgestryk te kry sodat die sisteem so glad as moontlik kan verloop,” sê Grobbelaar.

Die Munisipaliteit kan direk gekontak word op 021 808 8215 / 021 808 8953 / 021 808 8343  of stuur ʼn e-pos aan parking@stellenbosch.gov.za wat spesiaal vir hierdie doeleinde geskep is.