Cloetesville Hoërskool (CHS) verander hul skoolsaal se naam ter ere van hul eerste skoolhoof mnr. Aldon April. Hy het gedien as skoolhoof vanaf 1979-1989.
Op 29 Augustus het CHS se alumni-raad ’n funksie aangebied waar hulle die skoolsaal vernoem het na die Aldon Louis Gregory April saal (A.L.G. April-saal). Brandon Du Plessis, CHS se huidige skoolhoof, het vertel dat die naamsverandering meer as ’n jaar se beplanning benodig het omdat April hierdie jaar 80 jaar oud geword het.
Die mense in die gemeenskap was “ongelooflik dankbaar” vir die CHS-alumni se idee om die saal se naam te verander, voeg hy by.
Dit is belangrik dat ons een van ons eie kan vereer, Meneer April het baie vir die skool en die gemeenskap beteken, het Du Plessis vertel.

Van links: Sean September, adjunkhoof van Cloetesville Hoërskool (CHS); Brandon Du Plessis, CHS-skoolhoof; Petronella Ngoma, waarnemende adjunkhoof van CHS. Op Saterdag 29 Augustus, het CHS die A.L.G. April-saal onthul ter ere van hul eerste skoolhoof, mnr. Aldon April.Hy het gedien as skoolhoof van 1979-1989. FOTO: Gio Anthony
“Hy het so baie vir die skool beteken – en die gemeenskap. Ons wou die saal na hom vernoem om hom te eer en omdat dit gebou was onder sy leiding,” het Nicky du Toit, ’n CHS-alumni, gesê.
Daar was geweldig positiewe terugvoering van die gemeenskap toe die naamsverandering voorgestel is, het du Toit vertel.

Mnr. Aldon April was die eerste skoolhoof van Cloetesville Hoërskool (CHS), en het aan die skool sy leuse gegee: “Net jou beste.” April was bewus daarvan dat elke leerder van mekaar verskil, maar vir hom was dit belangrik dat elke leerder hul beste gee in alles wat hulle aanpak, vertel mnr. Brandon Du Plessis, die huidige skooloof van CHS. FOTO: Gio Anthony
Vir April was die skool meer as net ’n gebou; dit was ’n manier om vir die gemeenskap van Cloetesville te wys dat hulle waarde verdien, het hy gesê.
Die leuse “net jou beste,” is gebore uit die denkwyse wat hy aan die gemeenskap wou oordra.
Die skoolsaal was ’n produk van hierdie oortuiging. April het geglo dat die skool ’n saal nodig gehad het en dus het hy hard gewerk om dit te bewerkstellig. Die skoolsaal is op 20 September 1984 deur die departement van basiese opvoeding ingewy.

Mnr. Aldon April, die eerste skoolhoof van Cloetesville Hoërskool, het geglo dat hy gebalanseerde leerders, in terme van akademie en sport, moes opvoed. Dus het hy kort ná die skool se stigting, in 1979, sport- en kultuurgeleenthede by die skool bevorder, het hy vertel. FOTO: Gio Anthony
April was dankbaar dat die alumni die saal na hom vernoem het. “Dit was ’n uitstekende funksie, ek is trots op hulle [die alumni],” het hy gesê.
“Die wyse waarop hulle [die funksie gereel] het – het alles afgerond. Ek is dankbaar vir dit, om te sien hoe pragtig hulle ontwikkel het as groot mense – en vandag is hulle die gemeenskapleiers,” het hy gesê.
Du Plessis sê dat dit belangrik is dat kinders April se impak op die gemeenskap verstaan. Hy voegby dat April ’n groot bydrae gelewer het om te verseker dat sy leerders weet dat die wêreld binne hul bereik is.
