’n Moord in die Oord: kykNET se nuwe kusdorpdrama

’n Lyk spoel uit op ’n kusdorp se strand. Dít is nou ’n manier om ’n uitgebrande kriminoloog se seevakansie om te dolwe.

Geskep deur Kanarie-skrywer en -regisseur Christiaan Olwagen, Die oord is ’n nuwe misdaaddrama-reeks wat op 14 April op kykNET uitgesaai gaan word.

Oor 10 episodes volg ons korrektiewe- en forensiese sielkundige Martie Pretorius (Jana Strydom) en plaaslike polisievrou Brandi Jacobs (Melissa de Vries) in die nasleep van die raaiselagtige moord van ’n tienerseun in die fiktiewe Kalfiebaai. Bitter vinnig is almal ’n verdagte – insluitend Martie se suster, Elsabé Cilliers (Erica Wessels), Elsabé se man, Drikus (Laudo Liebenberg) en hulle seun, Stefan (Heinrich Wentzel).

Heinrich Wentzel en Erica Wessels in 'Die oord'.

Die oord is ’n nuwe kusdorpdrama geskep deur oud-Matie Christiaan Olwagen, die naam agter Kanarie en A Kind of Madness. Deel van die rolverdeling is onder andere Heinrich Wentzel en Erica Wessels – ook Maties alumni. FOTO: Verskaf/KykNET

“Dis soos ’n vakansie-album wat eintlik ’n nagmerrie wegsteek,” sê Eva du Preez, regisseur van Die oord. “Dis juis daai kontras – om die gewone effens skeef te trek – wat die spanning bou en daai ongemak laat insluip.”

Beide Olwagen en du Preez het drama aan die Universiteit van Stellenbosch (US) studeer. In 2013 het hulle vir die eerste keer saamgewerk aan Olwagen se eerste kortfilm, Toevlug, wat du Preez vervaardig en geredigeer het. Sedertdien het hulle saamgewerk op verskeie produksies, insluitend Johnny is nie dood nie, Die Seemeeu en Poppie Nongena.

“Oor die jare het ons ’n sterk kreatiewe vennootskap ontwikkel,” sê sy. “[Ons] deel ’n baie soortgelyke smaak en sensibility.”

Die oord is du Preez se debuut as alleenregisseur (sy was voorheen mede-regisseur met Johan Cronje op Wyfie). Sy beskryf haar Silwerskerm-bekroonde beroep as redigeerder, wat titels soos Die Boland Moorde en Alles Malan insluit, as haar “superpower”. “Redigering het my geleer hoe stories saamkom, wat werk en wat nie. Ek beweeg van probleme oplos in post-[produksie] na probleme voorkom op stel.”

Eva du Preez agter die kamera op die stel van 'Die oord'.

Gesoute redigeerder en vervaardiger Eva du Preez het met Die oord haar debuut as alleenregisseur gemaak. Sy beskryf haar Silwerskerm-bekroonde agtergrond in redigering as haar “superpower”. FOTO: Verskaf/Enya Degenaar

Oud-Matie Wessels, wat verlede jaar in Niggies te siene was, beaam hierdie: “Mens kon dit sien terwyl ons skiet. Daar is goed wat redigeerders verstaan wat akteurs net eenvoudig nie sal verstaan nie.”

Du Preez se unieke benadering het haar meer tyd gegee om op die spel te fokus: om ’n karaktergedrewe wêreld te skep wat mooi lyk, maar tog eg voel. “Dit is ’n drama/riller, maar vir my gaan dit nie net oor die plot nie – dit gaan oor mense en hoe kompleks hul verhoudings is.”

Sy beskryf ook hoe die vrolike en bekende karavaanpark ’n lekker uitdaging vir haar was om in ’n misdaadtoneel te omskep: “Visueel het ek baie gespeel met ’n gevoel van nostalgie – daai amper “Kodak-warmte” wat jou laat verlang na Desember by die see. […] Die harde son, die reuk van braaivleis in die lug, musiek wat iewers speel… alles wat gewoonlik gemaklik voel.”

Die stel van 'Die oord' in 'n sonnige straat.

Eva du Preez het met haar regie ’n gevoel van warmte probeer oordra. Hierdie bekendheid het net die realiteit van ’n moord tydens ’n seevakansie meer skokkend gemaak. FOTO: Verskaf/Enya Degenaar

Dit is juis hierdie agtergrond van bekendheid wat Die oord nog meer bloedstollend maak. “In die dag is die son genadeloos – dit wys alles, niemand kan wegkruip nie. En dan in die nag verander alles: kampvure wat gesigte in lig en donker verdeel, waar jy begin wonder wie jy kan vertrou.”

Volgens Wentzel, wat verlede jaar sy BA Drama- en Teaterstudie-graad aan die US verwerf het en tans ook in Een Keer Om Die Son (seisoen 2) verskyn, gee Die oord, met sy groot ensemble van interessante karakters, ’n White Lotus-gevoel. “Maar ook soms glad nie,” voeg hy by. “Alles rondom Die oord voel eg Suid-Afrikaans en het ’n lewe van sy eie, wat ek nog nie eintlik gesien het nie.”

  • Die oord se voorskou word op 31 Maart om 18:00 by vanjaar se KKNK vertoon.
  • Die reeks sal daarna op 14 April op kykNET (DStv-kanaal 144), DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
, ,