’n Kuber-Kat van kaliber

Met ’n selfoon in die een hand, en haar vrugbare verbeelding in die ander, het Katinka Oosthuizen vir haarself ’n loopbaan as Katinka die Kat uit die kuberruim uitgebeitel – in Afrikaans. In ’n bedryf wat mense dikwels met onrealistiese lewens- en skoonheid-standaarde kul, ruil sy kierang vir kwesbaarheid.

KATINKA_FOTO1

FOTO: Instagram/@katinkadiekat_official

Sy sou daardie dag op wittebrood in Bali gewees het. Maar in die middel van die Zoom-oproep-skerm, sit die 22-jarige sosiale media-grapjas Katinka (toe Oosthuizen) op die laaste Dinsdagoggend in Mei en drink haar tweede koppie koffie. 

In die onderste hoeke van die skerm staan twee kunsmatige potplante op die houtvloer in haar Mosselbaaise woonstel. Plastiekplante se kanse op oorlewing is eksponensieel hoër as die soort wat gereeld op haar aandag sou aandring vir hul oorlewing.  

KATINKA_FOTO7

Katinka was in die top vyf van die sesde seisoen van Survivor South Africa, en die jongste deelnemer aan die kompetisie nóg. FOTO: Instagram/@katinkadiekat_official

Sedert sy in 2018 teruggekeer het van die Filippynse eiland waar sy op 19 die jongste deelnemer aan Survivor South Africa was, is haar lewe nog heeltyd ’n mallemeule. Onder normale omstandighede, reis sy die hele land rond as troufotograaf en -videograaf, as TV-aanbieder van VIA se Klink soos Naweek met JOOX, en as Instagram-indrukmaker met 101 000 volgelinge.

Maar toe beperk die Covid-19-pandemie Katinka se reise tot uitstappies na die kruidenierswinkel om haar avokadopeer-voorraad aan te vul. Haar eie troue gebeur ook eers sowat twee maande later… en sy hou toe minder as ’n uur se ry van die huis af wittebrood – nie in Bali nie. 

Katinka se goue Instagram-reël

GRAFIKA: Jenna Lemmer

Katinka Oosthuizen

Die woonstel in Mosselbaai se dorpskern waar sy in ’n wolbaadjie sit en gesels, het groot vensters en ’n hoë plafon – en háár naam op die titelakte. Haar ouers het gereeld eiendom gekoop, opgeknap en weer verkoop. Toe besluit sy, sy wil ook eiendom besit voordat sy 21 is – “…al is dit ’n stuk grond, of wat ook al”.

In die Oosthuizen-huis, word daar alewig gewerk, gedink, planne gemaak, en “gehustle, hustle, hustle,” sê sy. Die vroue net soveel soos die mans. “Ek en my ma is al twee ‘oppit’. Ons glo nie in gender roles nie.” 

KATINKA_FOTO4

“Ons is baie open-minded. We love Jesus, maar open-minded… nie naïef en toe-kop nie,” sê Katinka oor haar gesin. Hier is sy saam haar ma, Arnelda. FOTO: Instagram/@katinkadiekat_official

Katinka sê haar ouerhuis (ook in Mosselbaai) is een met oop deure vol mense met oop harte. Die ander Oosthuizens is haar sakeman-pa, kunstenaar-ma, en twee jonger broers. “Jy kan letterlik vandag daar instap, en ons sal vir jou ʼn bed hê. En kos… En WiFi. Dis soos ʼn sanctuary.”

Vir Katinka, ’n self-erkende diepsinnige introvert, is dit belangrik om só ’n veilige plek te hê waar sy net haarself kan wees. “Ek hoor baie ‘Katinka, jy’s ons snaakse vriendin,’ maar ek’s ook die ernstigste… ek’s moerse diep. Ek kan nie oppervlakkige chats doen nie.” 

KATINKA_FOTO6

Katinka verpes koue koffie, so sy gebruik slegs langlewe-melk wat sy nie in die yskas hoef te bêre nie, vertel sy.  FOTO: Instagram/@katinkadiekat_official

Wanneer hulle haar in lewende lywe raak loop, verwag mense wat haar nog net deur hul selfoonskerms ontmoet het, dikwels van Katinka Oosthuizen om Katinka die Kat te wees. Maar Katinka die Kat is haar loopbaan – nie haar lewe nie. “Dis my werk. Ek kom terug by die huis, klim in my fetus posisie in, en ek’s in die bed,” bely sy.  

“‘As jy nie willing is om daai paadjie saam my te stap nie, dan kan jy maar suka wena, ek gaan nie my tyd mors nie,’ herhaal sy haar destydse woorde aan Braam.”

Voordat sy met haar produksiemaatskappy, Katinka Productions, van haarself ’n suksesvolle sakevrou gemaak het, het sy regie, vervaardiging en draaiboekskryf by die AFDA-filmskool in Kaapstad studeer. Na ses maande het sy egter haar studies laat vaar en meer van haar energie in haar besigheid begin belê – wat onder meer die aktrise Simoné Pretorius (voorheen Nortmann) en haar man, Andries, se troufilm vervaardig het. “Ek moet nog ’n troufilm kry wat daardie een beat,” spog sy.

KATINKA_FOTO5

“Laat ek sien, laat ek sien!” herhaal sy haar versoek as jong dogtertjie wanneer haar ma foto’s van haar geneem het. Katinka wou nog altyd betrokke wees by dit wat ágter die kamera aangaan, en is veral trots op die troufilm wat haar produksiemaatskappy van die Pretorius-bruilof gemaak het, sê sy.  SKERMGREEP: Instagram/@katinka_productions

Katinka die Kat

Die saadjie van hiérdie loopbaan as multi-dissiplinêre kreatiewe entrepreneur, is in haar vroeë hoërskooljare gesaai toe iets omtrent “random karakters” haar verbeelding aangegryp het. Sy het haar Instagram-profielfoto gereeld met die een na die ander vreemde foto afgewissel – elk met ’n bypassende rekening-naam, vertel sy. In een stadium was haar profielfoto “so ’n vet Chinese seuntjie,” en haar Instagram-naam “Chinese Katinka”. Later word dit toe ’n kat, en haar rekening-naam “Katinka die Kat”. 

KATINKA_FOTO8

Katinka as die “buff meisie” in een van haar komedieskets-video’s getiteld “Tipe meisies op dates”. SKERMGREEP: Instagram/@katinkadiekat_official

Dit is onder hiérdie profiel wat sy in 2016, haar matriekjaar, die video wat haar aanlyn-roem laat vlamvat het, die kuberruim ingestuur het. In dié video, dryf sy die spot met die verwagtinge wat op hoërskoolleerders geplaas word om te presteer. Sy het die denkbeeldige karakter, Olga die Pliggie, ’n oor-pligsgetroue Afrikaanse hoërskoolmeisie, daarvoor gebruik. Volgens Katinka is sy snaakser in Afrikaans as in Engels, en skep sy daarom meestal in haar moedertaal.

Katinka het tydens die grendelstaat saam aan die Stellenbosse musiekvervaardiger Synth Peter se liedjie “Doef Doef” gewerk. INSTAGRAM-PLASING: @katinkadiekat_official

Byna vier jaar na die genesis van Katinka die Kat is sy veral gewild onder Afrikaanse studente, en het sy meer as 102 000 volgelinge op Instagram, en 36 000 intekenaars op YouTube. Maar hierdie getalle het niks te doen met wat sy van haarself dink nie. Dít gaan haal sy op ’n hoër plek, waar sy self die posisie van volgeling inneem, sê sy: Haar geloof. “Die Here het my gebless met ʼn ding waar ek ’n plek het om ’n boodskap vir mense te gee,” sê sy oor die platform wat sy het as ’n openbare figuur.

Katinka Weyers

“Sy is altyd net haarself. Sy is nie pretentious nie. Dis wat ek love in ʼn woman… dis wat ek love in haar,” sê Braam Weyers, ’n sportsentoesias en een helfte van die Katinka Productions-span in Mei oor sy vrou Katinka – aan wie hy toe nog net verloof was. 

“Ek hoor baie ‘Katinka, jy’s ons snaakse vriendin,’ maar ek’s ook die ernstigste… ek’s moerse diep. Ek kan nie oppervlakkige chats doen nie.”

Toe sy hom twee jaar terug ontmoet het by ’n avontuurkamp waar hy gewerk het, het hy nie ’n idee gehad wie “Katinka die Kat” was nie. “So van waar af kom jy?” het hy haar gevra. Die mense wat haar lewe op sosiale media dophou, sou weet dat sy van Mosselbaai af kom, maar hierdie ou het nie… en sy was mal daaroor.

Katinka het op hoërskool besluit sy wil trou voordat sy 23 is. “Ek het net geweet ek gaan nie my tyd mors nie. Ek wil nie vir jare in ’n verhouding wees en dan breek ons net op nie,” sê sy. Volgens haar gee ’n mens stukke van jouself aan elke romantiese verhouding weg, en wou sy seker maak dat sy met soveel van haarself as moontlik in haar huwelik in loop. 

KATINKA_FOTO2

Op 9 Mei, die troudatum wat hulle oorspronklik voor beplan het, het Katinka en Braam vroegoggend opgestaan om aan mekaar briewe te lees op ’n krans langs die see. Dit was nie troubeloftes nie, “maar dit was amper net so spesiaal,” skryf sy op Instagram. FOTO’S: Instagram/@katinkadiekat_official 

“Toe ek dít vir Braam sê, het hy amper in sy broek gepoef,” lag sy. “As jy nie willing is om daai paadjie saam met my te stap nie, dan kan jy maar suka wena, ek gaan nie my tyd mors nie,” herhaal sy haar destydse woorde aan hom. Hy het haar duidelik gehoor, want toe is die ring sommer voor haar 22ste verjaardag al aan haar vinger. 

Die potlood waarmee sy nog heeltyd sit en torring val op die grond. “My dignity,” spot sy oor dit wat éintlik geval het. Sy tel die potlood en haar dignity op, en vertel dat sy by Braam onverbiddelike toewyding leer. “As Braam gesê het hy gaan iets doen, dan doen hy dit. En hy doen dit nie halfhartig nie – hy sit flippen alles daarin. He always shows up.”

TROUFOTO

“Gister was die heel beste dag van my lewe. Feite,” skryf Katinka op Instagram oor die dag waarop sy, in ’n rok gemaak deur Braam se tannie, en hy in groen Vans-tekkies, voor hul naaste vriende en familie in Wildernis aan mekaar trou beloof het. FOTO: Instagram/@katinkadiekat_official

Oor hul uitgestelde troudatum sê sy: “Dis alles in die regte tyd…alles gebeur soos dit moet.” En in elk geval, beteken die huwelik vir hul albei “dat jy willing is om saam met hierdie persoon te struggle vir die res van jou lewe”. Én selfs op pad kansel toe.

Dié twee het in Julie tydens ’n intieme feesviering in ’n Wildernis-woud aan mekaar trou beloof, en woon sedertdien in Durbanville.  

Net Katinka

Die kommentaar op foto’s wat sy van haarself op sosiale media plaas, is gewoonlik vol komplimente oor haar voorkoms. Maar sy waak daarteen om dit te ernstig op te neem, sê sy. Sy het al selfs gereageer op “jy’s so mooi,” deur ’n foto van haarself te deel met geen grimering wat haar aknee verbloem nie, kleefplastiek soos ’n swemkappie oor haar kop getrek, en haar nek agtertoe getrek om nie net ’n dubbelken nie, maar sommer vier kenne te ontbloot! 

katinka3

Expectation vs reality” lees die onderskrif wat Katinka saam met dié twee foto’s op haar Instagram-blad gedeel het. Sy is passievol daaroor om deursigtig te wees op sosiale media, en nie onbereikbare ideale te smous aan jong meisies wat haar as ’n rolmodel beskou nie. FOTO’S: Instagram/@ katinkadiekat_official

Ja, sy laat mens lag, maar sy kry ook iets belangrik met haar deursigtigheid reg: sy normaliseer menslikheid op ’n platform waar dit dikwels ten alle koste vermy word. “Ek meen, kyk hoe mooi lyk dit agter my,” sê sy. Dit lyk of sy in ’n binnenshuise-versiering Pinterest-board bly. “Maar kyk die tafel hier langs my!” sê sy, en rig haar skootrekenaar se kamera op ’n kunsvoorraad-deurmekaarspul wat om ’n vrugtebak uitgegooi is. 

Van Survivor tot sakevrou, hanswors tot huweliksmaat en fotograaf tot familie-mens. Katinka is die verwesenliking van die gewilde meme-uitdrukking “get you a girl who can do both”. Maar selfs al wend sy haar kreatiwiteit in soveel verskillende maniere aan, is die enigste kunsmatige ding omtrent Katinka… haar self-onderhoudende plante.

KatinkaKassie1

GRAFIKA: Jenna Lemmer

 

, , , ,