’n Baanbreker in die plaaslike wynbedryf

As ’n swart vrou in ’n bedryf wat dikwels deur wit mans gedomineer word, was dit nie vir Carmen Stevens altyd maklik om in die wynbedryf te werk nie. Maar sy verander egter die narratief reeds sedert 1995, toe sy haar graad in wynkunde by Elsenburg Landboukollege ontvang het.

Carmen Stevens agter haar lessenaar

Toe Carmen Stevens in 1995 aan Elsenburg Landboukollege gegradueer het, was sy die eerste gekwalifiseerde, swart wynmaker in die land. Sy is vandag ’n bekroonde wynmaker in Stellenbosch. FOTO: Krotoa Felix

Carmen Stevens sit agter haar lessenaar by ’n wynkelder in Stellenbosch. Die gesprek begin dadelik oor hoe sy híér, in die hartjie van die Wynlande, beland het.

Aanhouer wen

Carmen het in 1990 aan Scottsdene Sekondêre Skool in Kraaifontein gematrikuleer. Sy het daardie jaar haar eerste aansoek ingedien om wynkunde by Elsenburg Landboukollege te studeer.

Haar aansoek is afgekeur, maar sy het aanhou probeer. In 1991 het sy wéér aansoek gedoen. Wéér is sy nie aanvaar nie. 

“Toe sê hulle: ‘Jy het nie ’n landbou-agtergrond nie.’ En hulle was reg.” 

Maar toe hulle in 1992, die derde keer dat sy aansoek doen, vir haar sê dat sy nie militêre-diens gedoen het nie, was sy nie gelukkig daarmee nie.

 “As ’n jong [bruin] vrou, lyk dit vir jóú asof ék in die army pas?”

Sy het toe in 1992 ’n korrespondensie-kursus in landbou gedoen. “Ek het dit gedoen en ek het geweet dié keer sal my kanse beter wees as ek [weer] aansoek doen.”

Sy is wéér nie aanvaar nie. “Toe ek daai uitslae kry, toe klim ek op ’n trein Klapmuts toe, en vra om met die kollege-hoof te praat. Toe hy eventually sy verskyning maak, sê ek vir hom: ‘Hier’s my derde aansoek.’”

Uit frustrasie, het sy vir hom gesê dat sy koerante toe sal gaan as sy steeds nie aanvaar word nie. 

“Ek het twee weke later ’n briefie in die pos gekry,” sê sy. Daardie briefie het bevestig dat sy aanvaar is om by Elsenburg te gaan studeer. “Ek moet seker dankbaar wees dat die briefie nie verlore geraak het nie.”

Die eerste gekwalifiseerde swart wynmaker

Carmen het in 1995 haar studies aan Elsenburg voltooi en dadelik vir haarself begin naam maak in die wynbedryf. Al was daar tye wat sy gevoel het dat die bedryf dalk nie vir haar is nie, móés sy deurdruk. 

“Dit het vir my gevoel [asof hulle sê]: ‘Ons gaan jou laat werk tot jy opgee […] Jy wil nie hier wees nie,’” vertel sy. 

Alhoewel 1994 die demokratisering van Suid-Afrika beteken het, was Carmen, as ’n swart vrou, steeds besig om baanbrekerswerk te doen. Dit was nie altyd maklik nie. 

“Ons het nie die regte geniet wat ons nóú geniet nie,” sê sy. “Mense kon met jou maak en doen net wat hulle wou. And trust me, they did.”

Sy onthou dat wit studente wat ná haar die werksplek betree het, dikwels beter salarisse as sy verdien het. “Vandag noem hulle dit victimisation in die werksplek. Mense mag nie vir jou ’n ander salaris betaal wat hulle ’n [wit] persoon betaal nie – all that shit happened to me.”

In 1995 was daar nie mense van kleur in die wynbedryf om vir Carmen as rolmodel te dien nie. “Die meeste van die [Suid-Afrikaanse] wynbedryf word deur wit mense besit.”

Die term swart was nog nooit vir haar ’n probleem nie.

 “As ek buite die grense van Suid-Afrika gaan, is ek of swart of ek is wit,” sê sy.

CarmenSTevens in haar wynkelder

In 1995 het Carmen Stevens die eerste gekwalifiseerde swart wynmaker in Suid-Afrika geword. Vandag maak hierdie bekroonde wynmaker haar eie wyn in Stellenbosch onder die naam Carmen Stevens Wines. FOTO: Krotoa Felix

Carmen erken ook die struikelblokke waarmee sy, as vrou van kleur steeds in dié bedryf mee sukkel.  

“[Carmen Stevens Wines] doen baie goed in kompetisies, maar dit voel jy moet jou 10 keer meer bewys omdat jy ’n persoon van kleur in dié industrie is. Jy moet jouself aan die publiek bewys… dat jy actually wyn kán maak,” sê sy. “Ek wens ek kon minder veg vir ’n plek in die mark.”

Om terug te gee

Toe Carmen op skool was, moes sy en haar ma moes na Belhar, een van Kaapstad se noordelike voorstede, verhuis nadat haar ouers geskei is. Belhar was die enigste plek waar haar ma ’n woonstel kon bekostig. Hierdie skuif het haar ’n nuwe realitiet gegee – een op die broodlyn.

“My ma was ’n factory worker. Aan die einde van die week was daar net-net genoeg geld vir transport skool toe.” 

Carmen was dus altyd bewus van die behoefte vir kos in arm, plaaslike gemeenskappe. En alhoewel die wynbedryf vandag ’n groot deel van haar lewe is, glo sy daarin om terug te gee aan minderbevoorregte gemeenskappe. 

’n Paar jaar gelede het sy die nie-winsgewende organisasie, Carmen Stevens Foundation, gestig. Dit was egter eers nadat sy die organisasie begin het, wat sy besef het hoe groot die kosnood werklik is. Haar voedselprojek wat hieruit gevloei het, is deur die realiteit wat met armoede gepaard gaan geïnspireer, en die dinge wat sy self moes deurmaak. 

“Jy is lucky as daar ’n snytjie brood is. So ek verstaan die struggle.” 

the carmen stevens foundation

Carmen Stevens is die eerste gekwalifiseerde swart wynmaker in Suid-Afrika, en maak wyn onder haar eie handelsnaam, Carmen Stevens Wines. Sy het ook haar eie nie-winsgewende organisasie begin, Carmen Stevens Foundation, wat weekliks kos aan skole in die Wes-Kaap verskaf. FOTO: Krotoa Felix

Terwyl Carmen met SMF News oor die inisiatief gesels, wil sy die presiese getalle weet van hoeveel leerders hulle nóú op die program voed. Sy vra vir Deidre Vermeulen, die bestuurder van Carmen Stevens Foundation, wat skuins oorkant haar sit.

“Ons het nou net so oor die 19 000 kinders op die program,” sê Deidre. Hierdie program het nie net ten doel om kos by skole te versprei nie, maar ook om werk te skep vir mense in die gemeenskap.

Toekennings en trots

Carmen praat met trots van haar werknemers en die mense saam met wie sy op dié pad stap. 

“Ek het ’n goeie span mense wat saam met my werk,” sê sy. 

Sy wys na die man op die vurkhyser net buite haar kantoor, en sê: “Hy werk al saam met my van 2005 af. Hy weet presies wat ek van hom verwag.” 

Dis Francois Martin, Carmen se regterhand.

“Ek doen als, van wynmaak tot wynpak,” beaam hy. Francois het in 2004, net nadat hy skool voltooi het, saam met haar begin werk. “Ek is nogal into it. En [ek en Carmen] verstaan mekaar, want ons stap al ’n lang pad saam.”

In 2015 is Carmen deur NakedWines, ’n internasionale aanlynwynhandelaar, as hul wynmaker van die jaar aangekondig. En in 2019 het sy Sanlam se toekening as Suid-Afrika se entrepreneur van die jaar in die kleinbesigheid-kategorie ontvang. 

Sy sien hierdie prestasies nie net as hare nie; sy deel dit met die mense wat in die kelders werk.

Carmen Stevens award

Carmen Stevens is ’n bekroonde wynmaker in Stellenbosch en het in 2022 die 1659 Award for Visionary Leadership gewen vir haar bydra tot die Suid-Afrikaanse wynbedryf.  FOTO: Krotoa Felix

’n Trotse oomblik wat haar bybly is toe sy in 2022 die Suid-Afrikaanse wynbedryf se 1659 Award for Visionary Leadership ontvang het. 

“Ek is die tweede vrou wat hierdie toekenning ontvang het,” sê sy. “Dit was vir my ’n verskriklike groot voorreg.” 

Hierdie toekening word by die jaarlikse Wine Harvest Commemorative Event, oorhandig aan individue wat ’n blywende impak maak in dié bedryf. 

, , ,