Minki: Oor modelwerk, die kassie en ma-wees

Minki van der Westhuizen het as dogtertjie reeds geweet sy wou in die modebedryf werk. Vandag het sy haar eie geselsprogram op die televisiekanaal Via. Maar sy is ook ’n ma van drie. Sy het met Anri van Helsdingen gesels oor die dinge wat haar inspireer.

Vir Minki se sewende verjaarsdag het sy ’n ‘mevrou-mevrou’ partytjie gehou. Al haar maats het hulle ma’s se klere en skoene gedra, onthou sy. Minki het toe reeds geweet sy “hou van opdress en mooi klere”.

Minki van der Westhuizen vertel dat sy in haar matriekjaar gefokus het op haar persoonlike groei en dat sy die wêreld vol gereis het. FOTO: Anri van Helsdingen

“In 2000, het ek ingeskryf vir Miss SA Teen,” vertel sy. Minki was toe sestien, en kon “glad nie Engels praat nie”. Dit het haar deelname beïnvloed, maar sy het steeds daarby volstaan dat sy modelwerk wou doen.

’n Natuurlike loopbaan

Minki wou eintlik gaan studeer het, maar wou eers ’n kans neem in die modelwêreld.

“Daardie tyd was toerisme nogal ’n groot ding,” onthou sy. “Maar ek het vir my pa gevra dat ons net vir ’n jaar kyk waarheen die modelwerk my vat, en ek is nou nogsteeds in daai jaar.” Haar eerste groot geleentheid as model, was ’n Guess-veldtog in 2002 – haar matriekjaar.

“Ek was daardie jaar vir die eerste keer New York toe en dit was vir ’n internasionale ‘campaign’. Dit was ongelooflik,” vertel sy. “Ek het daardie jaar ook my eerste Sports Illustrated Swimwear in Zanzibar gedoen.”

Minki van der Westhuizen doen deesdae net selektiewe modelwerk, en gaan nie meer na oudisies toe nie. Die meerderheid van haar modelwerk vind op sosiale media plaas, vertel sy. FOTO: Anri van Helsdingen

Meer as twintig jaar later, is sy egter steeds vriende met haar beste skoolvriendin, Karlien Stevens. 

“Daar was altyd ’n glimlag en dankbaarheid vir haar werk. Sy het nooit nee gesê vir werk nie, maak nie saak hoe min dit betaal het nie – met perke natuurlik,” vertel Karlien.

Van model tot TV-aanbieder

Haar eerste verskynsel as TV-aanbieder was vir Pasella in 2007. 
“Toe ek drie-en-twintig was, het Amor Engelbrecht my gebel en vir my gesê sy op soek is na ’n blonde aanbieder wat reeds ’n bestaande profiel het,” vertel sy. Daarna het sy talle ander bekende Afrikaanse programme, meestal op KykNet, aangebied. Dit sluit in Boer Soek ’n Vrou.

Minki van der Westhuizen het as kind graag haar ma se skoene aangetrek, en was altyd mal oor mode. FOTO: Anri van Helsdingen

Minki het nooit gedink dat sy in die TV-wêreld sal opeindig nie, en vertel dat sy jare voor dit as gas deelgeneem het aan ’n spesiale episode van Noot vir Noot. “Ek het vir Johan Stemmet gevra hoe mens in die kamera in praat, en ek dink ek het daarna maar net so ontwikkel,” onthou sy.

Sy wil geensins ’n aktrise wees nie en sê dat daar ’n groot verskil is tussen jouself wees voor die kamera, en om die karakter van iemand anders te vertolk. “Ek is dankbaar vir TV, want dit maak weer vir my soveel ander deure ook oop.”

“Ek dink my loopbaan het natuurlik ontwikkel van modelwerk af tot in die TV-wêreld in,” sê sy. Minki is tans die aanbieder van haar eie leefstylprogram, Minki, op Via.

Karlien Stevens, ’n skoolvriendin van Minki van der Westhuizen, vertel dat dié model en televisie-aanbieder altyd daarvan gepraat het om haar eie program te hê. FOTO: Anri van Helsdingen

Haar junior produksievervaardiger, Lezanne Steenkamp, meen dat dit ’n voorreg is om met iemand so ervare soos Minki te werk. Sy is natuurlik, en dit vergemaklik die proses, sê Lezanne. “Minki is daarmee saam ongelooflik professioneel en gee aan elkeen wat sy teëkom die nodige tyd en aandag,” vertel Lezanne.

Sub-opskrif: Minki en ma wees

Minki se rol in die lewe het intussen ook op ’n ander manier verander – van internasionale model tot ’n ma-figuur.

Volgens Minki, word kinders vandag in ’n totale ander era groot as waaraan sy gewoond was. Haar grootste prioriteit is om seker te maak dat sy eerstens ’n ma is. Die res sal volg, sê sy. Dit is vir haar belangrik om haar dogters se “wortels te vestig” om seker te maak dat hulle “gesonde meisies en jong vroue” raak. 

Sy en haar familie geniet waar haar lewe tans is – as ma van drie dogters. 

Minki van der Westhuizen is deesdae die aanbieder van haar eie geselsprogram, Minki, op Via. FOTO: Anri van Helsdingen

“My loopbaan is op ’n lekker stabiele plek,” sê sy. “Ek is uit die onderklere en die ‘sexy beach shots’, en my hele profiel pas by my leefstyl. Vir my man dink ek ook nie dit is lekker wanneer mense die heeltyd na jou vrou verwys as ’n sekssimbool nie.”

Sy en haar man is nou 11 jaar getroud, en sy sê hy ondersteun haar baie in haar loopbaan. So ook haar ouers.

Haar man en haar ouers is belangrike rolspelers in haar lewe, en sy is dankbaar dat sy altyd op hul wysheid kan steun.

“Ek was nooit bang om vir hulle enige iets te sê of vra nie,” sê sy, en voeg by dat sy hulle graag trots wil maak. 

Minki meen die verandering en groei in haar lewe het organies gebeur. As ma, is dit vir haar belangrik om vir haar drie dogtertjies te leer om gemaklik in hul eie lywe te wees. Sy wil ’n rolmodel vir hulle wees, en het daarom ook bewustelik besluite geneem om haar profiel te transformeer om die groei in haar lewe te reflekteer. Sy glo dat haar aanhangers saam met haar gegroei het.

, ,