Maties-vrouerugby wys hul staal

Die Maties-vrouerugbyspan het hierdie naweek die semi-finaal van die vroueklubrugby 10’s-fees in Athlone gehaal. Hulle is in dié rondte uitgeskakel, maar het hulle opponente in die rondomtalie-fase van die toernooi goed laat les opsê.

Die span het hulle wedstryd teen die Universiteit van Kaapstad (UK) 52-0 gewen. Maties het ook die span van Kuilsrivier-rugbyklub 37-5 geklop. Dit is volgens Danelle van Zyl, ’n nuweling wat Saterdag vir die tweede keer vir dié span die Maties-trui gedra het. 

Maties

“Ons kommunikasie was beter vandag en ons het heeltyd 110% gegee,” het Danelle van Zyl, wat Saterdag vir die tweede keer vir Maties uitgedraf het, gesê. FOTO: Dominique Fuchs

“Die span het goed gedoen en vandag was slegs ons tweede wedstryd van die seisoen,” het Johann Zeier, die afrigter van die Maties-vrouerugbyspan, via WhatsApp gesê. Volgens hom was dit ’n hoogtepunt om die span van UK te klop. 

“Dit was goed om ons rivals so ver te wen,” het hy gesê.

Die rugbyfees het op Saterdag, 23 April by die City Park-stadion in Athlone plaasgevind. 

Elke span het uit 10 spelers in plaas van die gewone 15 spelers bestaan, het Bianca Augustyn, onderkaptein van die Maties-vrouerugbyspan, verduidelik. Die spanne het bestaan uit vyf voorspelers en vyf agterspelers. Elke wedstryd was 10 minute aan ’n kant. 

Die Maties-vrouerugbyspan in aksie by hulle oefensessie vroeër in die week. FOTO: Dominique Fuchs

Strawwe semi-finaal

Maties het in die semi-finaal teen Brackenfell-rugbyklub te staan gekom, en het aanvanklik gelykop gespeel met eindfluitjie-telling van 12-12. Brackenfell het egter in die ekstra vyf minute ’n drie gedruk wat die eindtelling na 12-17 gestoot het.

Augustyn voel positief oor die afgelope naweek se wedstryde. “Hier en daar is daar nog ’n paar goed om aan te werk, maar dit is net die tweede keer die jaar wat ons gespeel het,” het sy via WhatsApp aan MatieMedia gesê. Vir party van hul spelers was dit boonop hul eerste rugby-wedstryd, het sy bygevoeg. 

Die Maties-vrouerugbyspan skep asem tydens hulle oefensessie vroeër vandeesweek. FOTO: Dominique Fuchs

“Ons het definitief ’n groter effort gegee vandag, so dan maak dit nie eintlik saak of ’n mens wen of verloor nie … as jy weet jy het hard gewerk en jou deel gedoen,” het Augustyn gesê. “Op die ou einde is rugby ’n spansport.” 

Die span het Saterdag beter gekommunikeer en almal het heeltyd 110% gegee, het Van Zyl via WhatsApp gesê. Volgens haar was die eerste twee wedstryde “redelik maklik”. “Ons kon baie punte bymekaarmaak en dit was ’n goeie team build-up vir die semi-finaal,” het Van Zyl bygevoeg. 

Maties

“Ons doelwit is om later vanjaar top-vier by [Universiteitesport Suid-Afrika] (Ussas) te eindig sodat die span kan deelneem aan die Varsity Cup-7’s,” het Bianca Augustyn, onderkaptein van die Maties-vrouerugbyspan, gesê. FOTO: Dominique Fuchs

Volgens Zeier wil die span voortbou op die vorige rugbyseisoen. “Die laaste keer wat die Maties-vrouerugbyspan aan [Universiteitesport Suid-Afrika] (Ussas) deelgeneem het, was in 2019 en ons het sewende geëindig. Ons sal graag hierop wil verbeter wanneer ons vanjaar vir ons tweede keer aan Ussas deelneem,” het hy gesê.

Maties

Johann Zeier, afrigter van die Maties-vrouerugbyspan, praat strategie tydens ’n oefensessie vroeër die week. Volgens hom het die span goed gedoen al het hulle Saterdag slegs hulle tweede wedstryd van die seisoen gespeel. FOTO: Dominique Fuchs

, , , , , , , , ,