Maties slaan rolle in YouTube-reeks los

’n Finalejaarstudent in BA Drama- en Teaterstudie, asook ’n voormalige student van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US), het rolle los geslaan om in die tweede seisoen van die YouTube-reeks, Van Adamse, te verskyn.   

Caleb Felix sal die rol van Santos in dié nuwe seisoen vertolk, en alumna, Emily-Rose van Diemel, die rol van Adrian. 

Felix was veral opgewonde oor die geleentheid om saam met ervare mense in die bedryf te werk. 

“Ek is baie dankbaar om deel te wees van dié reeks,” het Felix aan MatieMedia gesê.

Volgens Felix was hy aangenaam verras toe hy die nuus gekry het dat hy die rol van Santos gaan vertolk.

“[Santos] is baie skelm en betree die huis van die Van Adamse-gesin om eenvoudig net chaos te veroorsaak,” het Felix gesê.  

Caleb Felix se bemarkingsfoto vir die tweede seisoen van die YouTube-reeks, Van Adamse. FOTO: Instagram/@vanadamse

Caleb Felix se bemarkingsfoto vir die tweede seisoen van die YouTube-reeks, Van Adamse. FOTO: Instagram/@vanadamse

Van Diemel, wat verlede jaar haar honneursgraad in toneelspel aan die US voltooi het, was verlig toe sy die rol van Adrian losgeslaan het. 

“Ek is baie opgewonde om my voet in die deur te kry en om saam met ongelooflike akteurs te werk,” het Van Diemel gesê.

Adrian, is ’n onderduimse en intimiderende vrou wat een doel voor oë het – om wraak te neem én om dit wat van haar ontneem is, terug te vat, het Van Diemel gesê.

Emily-Rose van Diemel se bemarkingsfoto vir die tweede seisoen van die YouTube-reeks, Van Adamse. FOTO: Instagram/@vanadamse

Emily-Rose van Diemel se bemarkingsfoto vir die tweede seisoen van die YouTube-reeks, Van Adamse. FOTO: Instagram/@vanadamse

Die reeks fokus op temas van roem, wraak en finansiële status. Dit skep ook die geleentheid vir groter gesprekke oor, onder meer, hoe status binne verskillende klasse in rassegroepe verskil, het Enrico Hartzenberg, skrywer van dié reeks, en akteur wat ook in die reeks sal verskyn, gesê.  

Volgens Felix en Van Diemel bring beide karakters meer drama en spanning na die reeks. 

Die amptelike lokprent vir die tweede seisoen van die YouTube-reeks, Van Adamse.

“Ons wou weg beweeg het van die tipiese rolle wat ons oor en oor sien  – om ’n breёr spektrum aan die akteurs én die gehoor te verskaf,” het Stefan Erasmus, regisseur van die reeks, gesê. 

Die doel van die reeks is om die stereotipiese landskap van bruin karakters binne Suid-Afrikaanse films en reekse te herstruktureer, het Erasmus gesê. 

Ander akteurs wat ook in die reeks te siene is, sluit in Lee-ann van Rooi, Monique Rockman, Bianca Flanders, Keenan Arrison, Zinnia Rose en Deidré Jantjies. 

, ,