Maties Rugby-hoofafrigter wil spelers ophef

“’n Mens sal dink met die verandering van afrigters sal daar ’n onrustingheid in die span wees, maar coach Drikus het ’n kalmte oor die span gebring.”

Só beskryf Reinhardt Fortuin, Maties Rugbyklub-kaptein, die oorgang van die vorige na die huidige afrigter. Drikus Hancke, wat voorheen die span se voorspelerafrigter was, het oorgeneem by Hawies Fourie, wat nou die Toyota Cheetahs afrig.

CoachDrikus

Drikus Hancke, Maties Rugbyklub-hoofafrigter, by een van die klub se spanoefeninge. Foto: VERSKAF

Fortuin beskryf Hancke as ’n gentle giant, weens sy saggeaardheid en sy reusebou van 1,99 m.

“[Een van die grootste eienskappe] wat hy na die span toe bring, is definitief die manier hoe hy met die spelers werk en praat. Hy is altyd positief en soek net die beste in elke situasie,” verduidelik Fortuin.

Hancke meen dat sy ervaring as speler hom baie in die sak bring, maar dat sy lewenservaring hom ook sal help om die hoofafrigterskoene te vul.

“Ek het al redelik baie goed in my lewe gedoen en gesien. So, ek probeer om altyd die regte perspektief te hê en ek probeer altyd om ’n goeie leier te wees. Om almal se standpunte te verstaan en vanuit die regte plek te lei,” sê hy nederig.

Prof. Mohammad Karaan, Maties Rugbyklub-president, verwelkom Hancke se aanstelling as hoofafrigter in ’n mediavrystelling deur die Universiteit Stellenbosch (US).

“Hy het ’n besonderse vermoë om die beste uit sy spelers te bring en as ’n span met sy kollegas saam te werk. Ons kyk met vertroue en afwagting uit na sy toetrede as hoofafrigter,” sê Karaan.

Hancke het groot skoene om te vul, aangesien Maties vir die afgelope twee jaar as beide Varsitybeker- asook liga-wenners gekroon is.

“Kyk, daar is altyd druk op Maties se hoofafrigter – jy kan nie daarby verby kom nie,” sê Hancke. “Dit is egter goeie druk. Dit is wat Maties uniek maak, daar word altyd van ons verwag om iets te doen. Dit moet ook so wees, want ons het baie hulpbronne en ons het ’n ongelooflike poel spelers en die infrastruktuur is van hoogstaande gehalte,” verduidelik hy.

Hy prys verder die res van sy bestuurspan as “bekwame afrigters”, een waarvan die oud-Springbok, Norman Jordaan (hulpafrigter), deel is.

Hancke, wat gedurende sy universiteitsdae self vir Maties uitgedraf het, verduidelik dat menigte aspekte van rugby oor die jare verander het en dat die spelers daarvolgens moes aanpas – meeste daarvan gaan oor tydsbestuur. 

“Rugby het op alle vlakke vooruit beweeg. Dit beteken op universiteitsvlak ook,” sê hy. Dit vereis volgens hom dat spelers meer tyd, voorbereiding en professionaliteit aan hulle spel moet toewy.

“Daar gaan baie werk daarin. Ek het baie respek vir die spelers. Dit is ’n ongelooflike voorreg om ’n student-atleet te wees, want jy leer verskriklik baie oor tydsbestuur, verantwoordelikheidsin en ek dink dit is goed wat jou deur jou hele lewe kan trek en nie slegs jou sportloopbaan nie,” verduidelik hy.

Volgens die mediavrystelling is Quintin van Rooyen, Senior Sportbestuuder: Maties Rugby, in sy noppies oor Hancke se vermoë om die spelers te akkommodeer, selfs al is hulle student-atlete. “Drikus verstaan die akademiese uitdagings te midde van rugby-verpligtinge.”

Volgens Hancke is dit vir hom belangrik om spelers op te hef. Hy wil verseker dat wat die spelers ná Maties Rugby beproef, hulle suksesvolle Maties gekweek het. Hy fokus dus daarop om holistiese spelers te help ontwikkel.

Maties is tot dusver onoorwonne in vanjaar se streeksliga en kom môre teen die punteleer-voorlopers, Ikeys, te staan.

Drikus Hancke.jpg

Die Maties rugbyspan is vir die afgelope twee jaar Varsitybeker-kampioene. Hancke was die span se voorspelerafrigter voordat hy hoofafrigter geword het. Foto: FACEBOOK/Drikus Hancke