Maties Netbal ywer om tuis-halfeindstryd te haal

Die Universiteit Stellenbosch (US) se netbalspan (Maties) sal Maandag 24 September met hul teenstaanders van die Nelson Mandela Universiteit (Madibaz) in Port Elizabeth meeding met die oog op ’n tuis-halfeindstryd.

Maties teken 'n doel aan in hul oorwinning teen die Noordwes-Universiteit (NWU) se Pukke. Foto

Maties teken ‘n doel aan in hul oorwinning teen die Noordwes-Universiteit (NWU) se Pukke. Foto: Ross Michaels

Die taak wat vir die Stellenbosse sportsheldinne in die komende week voorlê, is egter makliker gesê as gedaan. Die tuisspan sal vol selfvertroue wees nadat hulle vandeesweek beide die NWU-Pukke (49-47) en die Universiteit Vrystaat se Kovsies (41-40) met naelskraap vertonings in Stellenbosch geklop het.

Madibaz-afrigter, Lana Krige (46), het haar trots uitgespreek oor haar span se vertonings in Stellenbosch.

“Voorheen sou ons Kovsies wen en dan teen Pukke verloor, of andersom. Die groot ding vir my is dat dit opeenvolgend gebeur het – in daardie opsig was dit regtig fantasties,” sê Krige.

Hoewel Maties die gunstelinge in hul wedstryd teen Madibaz is, is hul hoofafrigter, Zanele Mdodana (34), bewus van die gevaar wat die tuisspan vir hulle sal inhou.

Mdodwana moedig haar spelers aan tydens hul wedstryd teen NWU-Pukke. Foto: Ross Michaels

Mdodwana moedig haar spelers aan tydens hul wedstryd teen NWU-Pukke. Foto: Ross Michaels

“Ek kom van Madibaz, ek het vir Madibaz gespeel en hul afrigter, Lana Krige, was ook my afrigter gewees. Een ding wat ek van haar styl weet is dat sy haar spelers opbou met ’n positiewe gesindheid, dat niks onmoontlik is nie en dat jy vertroue in jou vermoëns moet hê,” sê Mdodana.

“Dit is wat hulle hierdie naweek gewys het [in die wedstryde teen Kovsies en Pukke]. Hulle is die ‘underdogs’ en hulle is baie gevaarlik. Hulle het wel nie die groot name nie, maar dit is wat hulle gevaarlik maak, hulle speel as ’n eenheid.”  

Tog besef Zanele die belangrikheid wat ’n oorwinning sal inhou vir hul kanse in die halfeindstryd.

“Die meisies besef die belangrikheid van ’n wen. Dit plaas ons in ’n ander posisie en dit sal bepaal waar of wie ons sal speel in die komende halfeindstryd,” se Mdodana.

“Ons moet dit ernstig opneem, want die manier hoe ons oefen, is die manier hoe ons speel,” sê Zhane Petersen (tweede van regs) oor die span se gesindheid tydens hul oefensessies.

“Ons moet dit ernstig opneem, want die manier hoe ons oefen, is die manier hoe ons speel,” sê Zhane Petersen (tweede van regs) oor die span se gesindheid tydens hul oefensessies. Foto: Ross Michaels

Volgens Zhane Petersen (20), ’n sportswetenskapstudent aan die US en een van Maties se netbalspelers, is daar groot opgewondenheid in die span.

“Enigiets kan gebeur [teen Madibaz], maar ons is definitief baie opgewonde. Hierdie wedstryd is eintlik ’n groot beslissende faktor in wie na die halfeindstryd en eindstryd sal vorder, want hierdie bepaal of ons wel die trofee kan wen. So ons wil wen. Ek dink nie enige van die ander spanne sal wil speel sonder om die trofee in gedagte te hou nie,”  sê Petersen.

Maties se resultate in vanjaar se toernooi. Bron: Varsity Sports

Maties se resultate in vanjaar se toernooi. Bron: Varsity Sports

Die vier topspanne van die toernooi sal in die kragmetings tydens die finale ronde bepaal word. Na ses rondes se aksie, is daar steeds baie om voor te speel, aangesien die spanne so na aan mekaar op die punteleer sit.

Die Vrystaat se Kovsies is tans eerste met 26 punte, gevolg deur Maties met 24 punte en dan Madibaz met 22 punte. Tuks en Pukke, van die Universiteite Pretoria en Noordwes onderskeidelik, is egter kort op hul hakke met 21 punte elk.

Die finale ronde van die Varsity Cup-netbal sal Maandag, 24 Septemeber afskop vanweë die Wêreld Universiteitskampioenskap wat hierdie week in Uganda plaasvind.