Maties maak stof van Pukke ná USSA-nederlaag

Maties Netbal het Maandagaand ’n skouspelagtige vertoning teen die NWU-Pukke gelewer om ’n oorwinning van 54–38 te behaal. 

Hoewel die gehoor buitengewoon gedemp was, het Maties se vinnige spel, veral aan die verdedigerskant, die toeskouers op hul tone gehad. Die spel tussen Jo Prins (senter en later AV), wat ook as speler-van-die-wedstryd gekroon is, en Adri Uys (AV) het gehelp om die aanvallende spel glad te laat verloop.

NETBAL 2.jpg

Jo Prins, wat as die speler-van-die-wedstryd gekroon is, speel Maandagaand in die Coetzenburg-sentrum teen die NWU Pukke. Foto: FRANCOIS LOMBAARD

Agterlangs het Stephanie Brandt (verdediger), Sasha-Lee Petersen (VV) en Khomotso Mamburu (HV) gesorg dat Pukke se doelskieters onder druk gebly het, veral in die eerste drie kwarte van die wedstryd. Beide spanne se doelpogings was ongeveer tot ’n gelyke mate suksesvol, maar Maties se verdediging het uiteindelik gesorg dat dié span seëvier.

Maties het ook hulleself teen Pukke bewys, nadat hulle in vanjaar se USSA-eindstryd teen die Potchefstroom-universiteit verloor het en met die silwer medalje tevrede moes wees.

“Ons het in die [USSA]-finaal met vyf doele teen Pukke verloor en vanaand wou ons van die begin af ’n sterk vertoning lewer,” het Zanele Mdodana, Maties Netbal-hoofafrigter, na afloop van die wedstryd gesê.

Maties het dit beslis vermag, siende dat die span teen halftyd reeds 29–16 voorgeloop het.

Mdodana het die wedstryd met twaalf ervare spelers begin en later menigte skuiwe en veranderings aan haar span aangebring. Sy verduidelik egter dat sy daarin glo dat die span op enige gegewe dag 12 “briljante spelers” het wat op enige tyd die wedstryd kan betree.

“Ons het nie net sewe spelers en die res is daar op die span vol te maak nie,” meen sy. Sy het verder ook verduidelik dat hulle baie diepte het met die menigte kombinasies wat hulle kan toets.

Mdodana het op Maandagaand ’n plan gehad met die twee eerstejaarspelers. “[Hulle] het nog nooit Varsity Netbal gespeel nie, so hulle vuurdoop gisteraand was om te wys dat ons vertroue in hulle het,” verduidelik sy.

NETBAL.jpg

Nicholé Taljaard, Maties-kaptein en -hulpdoel, het Maandagaand grootliks daartoe bygedra dat Maties ’n oorwinning van 54–38 teen die NWU Pukke kon behaal. Foto: FRANCOIS LOMBAARD

Nicholé Taljaard, Maties-kaptein, meen dat die telbord nie noodwendig die intensiteit van die spel weerspieël het nie. “Die telling weerspieël nie die stryd wat ons moes opsit om te wen nie. Hulle is regtig ’n sterk span en hulle het ons voorberei vir die kompetisie vorentoe,” verduidelik Taljaard.

Prins het, tydens die ontvangs van haar speler-van-die-wedstryd-toekenning,Taljaard se sentiment rondom die intensiteit van die wedstryd bevestig. “Ek dink nie die telling wys regtig hoe taai die wedstryd was nie. Die bal het ’n paar keer op en af gegaan.”

Mdodana het ook beklemtoon dat die span se spoed in hulle guns tel, maar dat hulle sal moet fokus op foutevermindering. 

“Ons moet met beheerde spoed speel. Ons moet ook konsekwent met die bal in hand wees en gedissiplineerd speel om ons wedstrydplan uit te voer,” het Mdodana gesê.

Mdodana is wel tevrede daarmee dat “jare se werk en die bou van ’n wenkultuur” nou vrugte afwerp. “Vanaand is ons dankbaar vir die wen. Ek is trots op die meisies. Hulle maak hierdie kompetisie hulle eie en beloon hulself uiteindelik vir hulle harde werk en opoffering.”

Maties kom op Maandag 2 September teen TUT in die Coetzenburg-sentrum om 19:00 te staan. Hierdie wedstryd sal ook op DSTV kanaal 209 regstreeks uitgesaai word.