Maties hou Stellenbosch-ekonomie aan die gang

Studente en personeel van die Universiteit Stellenbosch (US) het ʼn beduidende impak op die ekonomie van die Stellenbosch-streek.

Dít is bevind in ʼn onlangse studie deur die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) aan die US, wat gedoen is om die universiteit se bydrae tot die ekonomie van die Stellenbosse munisipale gebied te bepaal.

Volgens die bevindings kan byna een vyfde van die ekonomiese aktiwiteit in die Stellenbos-streek aan die aktiwiteite van die US toegeskryf word. Meer as 15,5% van die produksie en meer as 18% van die bruto toegevoegde waarde in die munisipaliteit is deur die instelling bewerkstellig.

Studente ondersteun die plaaslike besighede in Stellenbosch. FOTO: Ané van Zyl

Studente ondersteun die plaaslike besighede in Stellenbosch. FOTO: Ané van Zyl

“Die US is ʼn integrale deel van Stellenbosch en dit sal moeilik wees om die streek sonder die universiteit voor te stel,” sê prof Johann Kirsten, direkteur van die BEO. “Om die waarheid te sê, die studie het bevind dat die ekonomiese impak van die universiteit in terme van uitset na beraming R5 112 miljoen in 2016 beloop het.”

Hierdie uitset was R5 644 miljoen* in 2018.

“Die grootste deel hiervan kom uit studentebesteding (61%), gevolg deur personeeluitgawes (23%), en die US se krediteurebetalings (14%) en diverse betalings (2.5%).

“Op plaaslike vlak is dit ʼn baie beduidende voordeel om ʼn instelling soos die US in Stellenbosch te hê en strek dit verder as die direkte ekonomiese voordele en verhef en verbeter die Stellenbosch-gemeenskap aansienlik,” voeg Kirsten by.

Die eienaars van besighede naby die US-kampus sê die koopkrag van US-studente raak hulle direk.

“Die meeste van ons kliënte, ek sal skat so 60%, is studente. Veral oor die lang vakansies in Junie of Desember raak die dorp baie stil en het ons baie minder kliënte,” sê Clinton Afrika, bestuurder van Barbers SA in Eikestad-winkelsentrum.

Kamul Hasan, mede-eienaar van Eikestad Café in Adringastraat, buite die winkelsentrum, stem saam met Afrika. “Wanneer die studente nie hier is nie verkoop ons baie minder produkte soos sigarette, skyfies en ander snoepgoed. Dit het ʼn invloed op ons wins.

“Maar dit is altyd lekker om die studente te sien. Hulle is baie vriendelik,” sê Hasan, wat al byna twee jaar die winkel bestuur.

Om die US se impak op die ekonomie te beraam is ʼn ekonomiese impakstudie gedoen, deur gebruik te maak van die universiteit se uitgawes, sowel as uitgawes van personeel en studente.

*Die navorsing is in 2017 gedoen en die werklike waardes van 2016 is gebruik. Om die randwaardes vir 2018 te bepaal, is 2017 se verbruikersprysindeks (VPI) tesame met BEO se beraamde VPI vir 2018 gebruik.

DSC_0517.JPG

FOTO: Ané van Zyl