Matie sê borskanker die stryd aan met fondsinsamelingsprojek

’n Student aan die Universiteit Stellenbosch (US) werk saam met ’n borskanker-bewusmakingsorganisasie om vandeesweek ’n fondsinsamelingsgeleentheid aan te bied wat borskankertoetse meer toeganklik sal maak vir vroue in plaaslike landbougemeenskappe. 

Die student, Joslyn Lategan, het onlangs op haar Instagram-profiel gedeel dat sy saam met ILoveBoobies, ’n borskanker-bewusmakingsorganisasie, die #StrongerInPink-wedloop aanbied.  Die inskrywingsfooie vir die wedloop sal vir die befondsing van borskankertoetse vir vroue in plaasgemeenskappe aangewend word. Dié vyf-kilometer-wedloop begin Saterdag, 11 September om 08:00 by Aunty Sophie se Kombuis in Die Laan, volgens die ILoveBoobies-webtuiste.

borskanker

Die #StrongerInPink-fondsinsamelingswedloop spring op Saterdag 11 September om 8:00 weg by Aunty Sophie se Kombuis in Die Laan. Dié geleentheid is ’n samewerking tussen die borskanker-bewusmakingsorganisasie ILoveBoobies en Joslyn Lategan van die @strongerwithjoss-Instagram-blad. FOTO: Anri Matthee

“Dit is belangrik dat ons openlik praat oor borskanker, want dit affekteer baie van die vroue in ons lewens en ons plaaslike gemeenskappe,” het Lategan gesê.

Lategan het verlede jaar ’n vroue-fiksheidsplatform op Instagram begin. Sy is “baie passievol oor vroue se liggaamlike en geestesgesondheid”, sowel as vrouebemagtiging. Hierdeur het sy betrokke geraak by ILoveBoobies.

“ILoveBoobies het voor [die] inperking weeklikse wedrenne in Stellenbosch aangebied en Joslyn was ’n getroue ondersteuner,” het Nicky Webb, medestigter van ILoveBoobies, gesê. “Sy het ’n idee gehad om die gemeenskap te mobiliseer en wou ’n liefdadigheidsorganisasie help. Gelukkig het sy ons gekies.”

Joslyn Lategan, ’n honneursstudent in biokinetika aan die Universiteit Stellenbosch, werk saam met ILoveBoobies om ’n fondsinsameling vir borskankertoetse aan te bied. “Ek is baie opgewonde vir hierdie geleentheid en om mense bewus te maak van ILoveBoobies, want dis ’n wonderlike inisiatief om ons plaaslike vroue in Suid-Afrikaanse gemeenskappe te help,” het sy gesê. FOTO: Instagram/@strongerwithjoss

Een van Lategan se hoofdoelwitte met Saterdag se geleentheid is om die boodskap te versprei dat voorkoming die beste kuur is.

ILOVEBOOBIES

ILoveBoobies gebruik die opbrengs van hul aanlyn winkel, donasies en inskrywingsfooie om gratis borskankertoetse te verskaf aan vroue wat “finansiële of logistieke uitdagings” het, het Webb per e-pos aan MatieMedia gesê. Baie van hierdie toetse word gedoen op plase waar vroue seisoenwerkers is en nie ’n dag se werk kan mis om in kliniekrye te wag nie, volgens Webb.

ILoveBoobies is tans besig met toetse by Hoekstra-plaas naby die Paarl waar hulle reeds 90 vroue getoets het, volgens Webb. Tydens Oktober ‒ wat borskankermaand is ‒ sal die organisasie Stellenbosse plase besoek, het sy gesê.

Joslyn Lategan verduidelik hoe sy met ILoveBoobies begin saamwerk het. STEMOPNAME: WhatsApp/Joslyn Lategan

UITDAGINGS IN DIE STRYD

Vanjaar is 875 vroue al deur ILoveBoobies getoets, maar die Covid-19-pandemie het hul projekte gekniehalter, volgens Webb.

“Die afgelope twee jaar was baie moeilik. Toetsklinieke moes op die nippertjie afgestel word as die plaas ’n Covid-geval gehad het,” het sy gesê. Die toetse is afhanklik van befondsing en die organisasie hoop om in Oktober genoeg geld in te samel vir 4 000 toetse, volgens Webb. 

borskanker

GRAFIKA: Anri Matthee

Die feit dat die meerderheid vroue in Suid-Afrika “laat-stadium diagnoses” ontvang, wat gewoonlik met slegte prognoses gepaard gaan, is kommerwekkend, volgens Lorraine Govender, die Kankervereninging van Suid-Afrika (Kansa) se nasionale bestuurder van gesondheidsbevordering. 

“Vir sommige vroue word diagnose vertraag in die gesondheidstelsel wanneer simptome aanvanklik gemisdiagnoseer word,” het sy per e-pos aan MatieMedia gesê. “Daar is ’n behoefte vir geteikende intervensie om kennis van borskankertekens en -simptome te bevorder.”

, , , , , ,