Matie alumnus skop sy dig-debuut in Kaaps af

’n Voormalige student aan die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs ’n kontrak by Kwela Boeke losgeslaan vir sy debuutdigbundel wat in Kaaps geskryf is. Die bundel, Ameerah, sal op 16 Februarie 2021 op die rakke verskyn.

Ashwin Arendse, wat in 2018 sy BA-graad in Drama- en Teaterstudies aan die US voltooi het, se digbundel is vernoem na sy agtjarige perd, Ameerah, en sal sowat 35 gedigte bevat.

Volgens Arendse speel baie van die gedigte in die bundel af in ’n tyd toe sy perd ’n groot rol in sy lewe gespeel het.

Ashwin Arendse en Ameerah, sy perd. - Kaaps.

Arendse het sy perd as geskenk gekry toe sy twee jaar oud was. Alhoewel hulle mekaar nie meer so gereeld sien nie, vertel hy dat sy perd ’n groot rol in sy lewe gespeel het en dat daar ’n hegte band tussen hulle is. Arendse se digbundel is na dié perd vernoem. FOTO: Facebook/Ashwin Arendse.

“Ek het ’n titel gesoek wat jou forseer om die bundel oop te maak [en te lees]. Iets wat oop is en nie maklik is om te interpreteer deur nét na die naam te kyk nie,” het Arendse aan MatieMedia gesê. 

Arendse is baie trots daarop dat sy digbundel in Kaaps gepubliseer kan word. 

Bruinmense word gewoonlik aangemoedig om die “Kaapse stemmetjie in [hulself] te silence”, het hy gesê.

“Kaaps is die taal waaruit my karakters se stories en wêrelde bestaan,” het Arendse gesê. “Deesdae is daar nie ’n gebrek aan Kaapse stories nie, maar eerder ’n gebrek aan die waardering daarvan.”

Kaaps.

Arendse is tans besig om sy MA-graad in Kreatiewe Skryfwerk aan die Rhodes-Universiteit te voltooi. Hy spesialiseer spesifiek in Kaaps. FOTO: Verskaf/Ashwin Arendse.

Volgens Arendse vertel Ameerah die storie van sý lewe – die van ’n “bruin laaitie”. 

Dié ervaring het hom toegelaat om diep in sy eie lewe te krap en homself beter te leer ken, het Arendse gesê.

“Ek is gewoonlik ’n baie teruggetrokke mens. Om jouself só oop te maak in jou digkuns maak jou baie kwesbaar,” het hy gesê. 

Carolyn Meads, ’n uitgewer by Kwela Boeke, het gesê dat Arendse ’n digter is met fyn waarnemingsvermoë. Verder verstaan hy hoe om daardie waarnemings in gedigte te omskep, het Meads gesê. Dít laat die leser toe om die karakters, ruimtes en gebeure voor hulle te sien afspeel, het sy gesê.

“Die wêreld wat hy beskryf – hoofsaaklik dié van die bruin gemeenskap in Malmesbury – is een wat onderverteenwoordig is in Afrikaanse letterkunde en is dus van groot waarde,” het Meads gesê.

Arendse_5

Nathan Trantraal is een van Arendse se grootste inspirasies. Hy vertel dat Arendse ’n gewillige skrywer is wat eg voorkom in sy werk. Sedert dié twee se ontmoeting in 2018, het hul verhouding baie gegroei. Trantraal vertel dat hulle baie gemaklik is met mekaar en dat Arendse ’n goeie luisteraar is. (Links voor) Seymour Trantraal, Nathan Trantraal se dogter. FOTO: Verskaf/Ashwin Arendse.

Volgens Meads is Arendse se Kaaps eie aan Swartland omdat hy die bryklank skriftelik insluit.

“Dit is ’n variëteit van Afrikaans wat nog nie, na my wete, vantevore in die poësie beslag gevind het nie en is dus vernuwend en verrykend,” het Meads gesê.

Nathan Trantraal, die bekroonde Kaaps-digter en Arendse se mentor, het vertel dat hy Arendse in 2018 vir die eerste keer by ’n woordkunsvertoning op Stellenbosch ontmoet het.

“Sy gedig se titel was ‘WWE’ en ek het dadelik uitgebars van die lag toe ek dit hoor. Dit was verfrissend om só ’n jong digter te sien wat sy eie identiteit ken – en wat dit nie wegsteek as hy op die verhoog is nie,” het Trantraal gesê.

, ,