Idee-kompetisie soek plaaslike oplossings vir plaaslike probleme

Stellenbossers word deur die #IdeasForChange-kompetisie uitgedaag om met innoverende oplossings tot plaaslike sosiale probleme vorendag te kom. Die wenner van dié kompetisie sal ’n kontantprys van R20 000 wen om hul idee te verwesenlik.

Dié kompetisie is deur Stellenbosch Network*, in samewerking met die Universiteit Stellenbosch (US) se Afdeling vir Sosiale Impak geloods.

Buiten plaaslike probleemoplossing, is die doel van dié kompetisie ook “om plaaslike entrepreneurs en innoveerders ten toon te stel,” het Camille de Villiers, ’n tegnologie-oordragbeampte by Innovus**, gesê.

In die lig van die Covid-19-pandemie moedig dié kompetisie Stellenbossers aan om oplossings te bied vir uitdagings wat afstandswerk belemmer. INSTAGRAM-PLASING: @stellenboschnetwork

Enige besigheid of persoon wat werk, woon óf studeer in Stellenbosch, asook in die omliggende omgewing, kan hul idees aanlyn inskryf.

“Die hooftema is toeganklikheid – en dit hoef nie noodwendig net ’n Covid-19-probleem te wees nie. Dit kan dalk ’n toeganklikheids-oplossing wees vir iets wat al vir ’n lang tyd [voor Covid-19] ’n probleem was,” het De Villiers aan MatieMedia gesê.

Volgens Hanli Brink, ’n operasionele bestuurder by Stellenbosch Network, behoort dié kompetisie ook Stellenbosch se entrepreneurskap- en innovasiekultuur te stimuleer.

“Vir baie mense is afstandswerk ’n uitdaging as gevolg van ’n verskeidenheid kwessies rondom toeganklikheid wat wissel van data, tegnologie en sanitasie tot befondsing, persoonlike beskermende toerusting en vervoer,” het Brink gesê.

Lynn-Jay: kompetisie deelnemer

Verteenwoordigers van die US, Stellenbosch Network en Launchlab sal as beoordelaars op die paneel dien wat die top drie idees sal kies. GIF: Jenna Lemmer

Lynn-Jay Hendricks, ’n industriële ingenieurswese-student aan die US, het reeds sy idee vir die kompetisie ingeskryf. 

“Die kompetisie is ’n geleentheid om finansiering te bekom en om my idee voor te stel aan ander mense wat kan help om dit te verwesenlik,” het Hendricks gesê.

Volgens Hendricks is sy idee gebaseer op finansiële tegnologie wat ’n oplossing sal bied tot die ondoeltreffendheid en hoë risiko vir die oordrag van siektes in taxi’s.

Alle deelnemers sal gratis toegang kry tot ’n aanlyn-meesterklas wat sal bydra tot die verdere ontwikkeling van hulle idees, het De Villiers gesê. 

Die top drie inskrywings sal deur ’n paneel beoordelaars gekies word. Daarna sal die publiek op die Stellenbosch Network-webtuiste en sosiale media-blaaie vir die wen-idee kan stem, het sy bygevoeg. 

Kompetisie beoordelingskriteria

Hendricks meen dat sy vaardighede as ingenieurswese-student en sy begeerte om waarde tot ander se lewens te voeg, hom inspireer het om die taxibedryf se ondoeltreffendheid aan te spreek. GIF: Jenna Lemmer

Inskrywings sluit op 21 September en deelnemers sal teen 7 Oktober in kennis gestel word of hulle die kortlys gehaal het of nie.

*Stellenbosch Network is ’n interdissiplinêre lidmaatskaporganisasie wat rolspelers vanuit die sake-sektor, die regering, die samelewing en die akademie bymekaar bring.

**Innovus is die Universiteit Stellenbosch se platform vir interaksie tussen die universiteit en die sake-sektor waaruit Stellenbosch Network ontstaan het.

, ,