Marunzo Thomas se pad na die kassie

As die een deur toe gaan, gaan die ander een oop. Dít is die ervaring van 22-jarige Marunzo Thomas, onder Suid-Afrikaners ook bekend as Morne Jonkers in Arendsvlei. Hy het met SMF News se Keziah Bailey gesels oor die dinge wat hom opgewonde maak.

Hy is ’n “ouma- en oupa-kind”, sê die 22-jarige Marunzo Thomas.  

Thomas dra ’n pienk Marvel-hemp en swart pet en loer nou en dan huiwerig na sy vriend, Clint Philander, wat ook om die tafel sit, voor hy begin gesels. 

Marunzo Thomas droom groot en hoop om nog diep voetspore in die vermaaklikheidsbedryf te trap. FOTO: Keziah Bailey

Sy grootouers het hom grootgemaak vandat hy vier jaar oud was, vertel hy. Marunzo, wat aan baie lesers bekend sal wees as Morne Jonkers in die reeks Arendsvlei, is in De Doorns in die Wes-Kaap gebore, en is die oudste van vyf kinders.  Sy ouers is uitmekaar toe hy vier jaar oud was.

Toe, in 2011, sterf sy ouma. Dit was ’n groot verlies vir hom. 

“My ouma. Die helfte van my lewe was sy daar en nou is sy nie meer daar nie. So, daai terugslag was vir my te groot,” vertel hy.  Hy het daardie tyd ’n sielkundige gesien om oor die verlies te kom. 

Na haar dood, het hy na sy pa toe getrek wat toe in Kraaifontein gewoon het. 

Die skuif van De Doorns na Kraaifontein, was ’n groot kultuurskok. Marunzo het ’n heel ander aksent as die Kapenaars gehad en het boonop gebry. Terwyl die blootstelling aan verskillende aksente deesdae vir hom in sy professionele lewe tot voordeel is, was dit vir die jonger Marunzo aanvanklik vreemd om te besef dat ander mense anders praat as hy. Hy spot ook dat hy en Engels eintlik steeds nie om dieselfde vuur sit nie.

Klein dorpie, groot drome 

Marunzo kom van ’n klein dorpie af, maar hy het nog altyd groot gedroom. 

Some way het ek altyd geweet ek gaan uit die plek uitkom – ek gaan uitstyg – maak nie saak wat gebeur het, of wat gaan gebeur nie,” vertel hy. 

Hy het sy liefde vir toneelspel ontdek toe hy nog skaars kon lees of skryf. 

Van kleins af, vertel hy, het familie en vriende hom geroep om hulle met sy toneelspel te vermaak. Hy het nog nie geweet dat daar ’n woord soos “akteur” is nie, maar hy het besef dat hy mense kon laat glimlag met toneelspel. En hy het besef dat dit vir hom lekker is.

“Ek wou altyd mense ge-entertain het. Al wat ek geweet het, is: Ek wil perform eendag. Eintlik sing ook,” sê hy. “Ek wou ’n sanger wees, maar ek kan nie sing nie.” 

Sy eerste voorsmakie van toneelspel was tydens sy kleuterskool, Repelsteeltjie, se konsert. 

Die konsert het gehandel oor die dood van Timotheus in die Bybel. Marunzo het hom egter só in die storie ingeleef, dat hy afgewyk het van die teks, tot groot vermaak van die gehoor. 

“Ek het op my knieë gesit, dan vra ek die vraag: ‘Wie het vir Timotheus geskiet?’ Maar ek huil terwyl ek die monoloog doen. Dit was nie deel van die optrede nie,” onthou hy. Die gehoor het vir hom begin hande klap. “Die Here het al klaar seker my pad só oopgemaak,” sê hy. 

Tyd om die vlerke te sprei

Op hoërskool het Marunzo stadig maar seker teruggekruip in sy dop. 

“Daai tyd wat jy op hoërskool kom… jy’s nog ’n bietjie insecure. Jy is nou weer klein, basies,” sê Marunzo. 

Hy het egter in Graad 12 weereens sy voete in toneelspel gevind toe hy aan die skool se musiekblyspel deelgeneem het. Daar het hy ook ’n trofee vir beste akteur gewen.

In 2018 het Marunzo Thomas deelgeneem aan ’n produksie by sy skool, Hoërskool Bernadino Heights. Daar het hy ’n trofee vir beste akteur verower. Dit het weer sy liefde vir toneelspel laat opflikker, vertel hy. FOTO: Keziah Bailey

Met sy nuutgevonde selfvertroue, het hy aansoek gedoen om BA in drama en teaterstudie aan die Universiteit Stellenbosch te studeer. Hy is egter nie aanvaar nie. 

In Februarie 2019 het hy Northlink College in die Kaap besoek. Met sy aankoms het die hoofdosent vir hom ’n teks gegee en gevra om ’n oudisie af te lê. Marunzo het nie by die kollege aansoek gedoen nie, en het toe sonder voorbereiding die oudisie afgelê. Hy het geslaag met 85%, vertel hy. 

Hy het daar begin studeer, maar kon weens ’n gebrek aan befondsing nie sy studies voltooi nie. 

Hy het ook gesukkel om ander werk – buite die vermaaklikheidsbedryf – te kry. Hy sien hierdie terugslae egter nou as deel van ’n groter prentjie. “Vir elke normale deur wat toegeslaan het, het daar vir my ’n artistic deur oopgegaan,” verduidelik hy. 

‘Aanhouer wen-mentaliteit’ open deure 

Marunzo het vier keer vir die sepie Arendsvlei oudisies afgelê. Op 15 April 2021 het hy uiteindelik die vrugte van sy “aanhouer wen-mentaliteit” gepluk, toe hy gekies is om die rol van Morne Jonkers in dié gewilde sepie te vertolk – ’n rol waarvoor hy nie ’n oudisie afgelê het nie. 

“En toe was Bob my uncle!” lag hy. 

Hy het die voorreg gehad om gedurende sy aanstelling by Arendsvlei onder die leiding van een van sy inspirasies in die industrie, Jarrid Geduld, te werk. 

“Sy spel was amazing, veral in Ellen Pakkies,” noem Marunzo. 

Marunzo Thomas het in ’n artikel wat in 2021 in Die Son verskyn het, vertel dat hy die jeug deur sy kuns wil inspireer. FOTO: Keziah Bailey

Anderkant die karakters

Een van Marunzo se doelwitte is om ’n karakter te vertolk wat die kwaliteite van sy menswees bevat. 

“Ek speel altyd ’n gangster of psycho. Maar ek het nog nooit iemand gespeel wat the good guy is nie.” 

Onderskrif: In Arendsvlei het Marunzo die rol van Morne Jonkers vertolk. Die karakter is ’n skurk, en in baie opsigte die teenoorgestelde van homself, sê Marunzo. Hy hoop om eendag ’n karakter te kan vertolk wat sy persoonlikheid reflekteer. FOTO: Verskaf/Marunzo Thomas

William Adams, ’n vriend van Marunzo wat saam met hom by Northlink College studeer het en ook al ’n rol in Arendsvlei losgeslaan het, beskryf hom as energiek. 

“Hy was iemand wat altyd iets nuuts na die tafel gebring het,” vertel William. Die twee het ook saam aan die toneelstuk Hostel Lights gewerk, wat in die Baxter-teater in die Kaap opgevoer is. Tydens die produksie-proses het William en Marunzo se vriendskap versterk. 

Marunzo bly die afgelope jaar in Kraaifontein by sy vriend Clint Philander, wat hy as ’n broer beskou.

“Ons is amper soos twee broers, waar ek die ouer een is en hy die bababroer. Maar hy voel dit is andersom,” vertel Clint. “Die een kwaliteit van hom wat my inspireer, is sy houding teenoor sy werk en die moeite wat hy daarin sit.” 

Marunzo bly ook altyd positief en kyk vorentoe, ongeag die terugslae wat oor sy pad kom, sê Clint. 

Die akteur Marunzo Thomas woon tans by sy vriend Clint Philander en dié se ouers in Kraaifontein. Die twee se band is so sterk soos dié van broers, sê Marunzo. FOTO: Keziah Bailey

Marunzo glo vas dat die Here nie onnodig drome in iemand se hart plaas as Hy nie dink dat dit bereik kan word nie. 

“Jy het die visie, dan is dit jou plig om hard te werk daarvoor en om dit jou missie te maak om jou droom te verwesenlik,” glo Marunzo. 

, ,