Marc Lottering laat Stellenbosch lag ten gunste van liefdadigheid

Komediant Marc Lottering het op 22 Augustus sy nuutse stand-up-komedie Ankle Marc opgevoer om fondse vir die Carmen Stevens-stigting in te samel.

Carmen Stevens, stigter van Carmen Stevens Wines, sê dat sy gevoel het dat sy aan haar gemeenskap moet teruggee. Só het die Carmen Stevens-stigting tot stand gekom. Dié stigting voorsien ontbyt en middagete aan minder bevoorregte skoolkinders.

Wat begin het by die Belhar-gemeenskap, naby van Stellenbosch het sedertdien uitgebrei tot talle skole regoor die Wes-Kaap.

In haar verwelkomingstoespraak het Stevens gesê dat Lottering gretig was om by haar stigting betrokke te raak. Sy het toe voorgestel dat hy ’n fondsinsamelingsvertoning vir die stigting hou, sê sy. Die vertoning was op die planke by die Oude Molen Filmstudio in Stellenbosch.

“In die show het Marc Lottering gepraat van bruin excellence, en dis presies wat Carmen is. Sy is ’n baanbreker in die wynbedryf, maar sy is iemand wat ook vashou en gekoppel is aan haar komvandaan-storie,” het Gillian Arendse, ’n gehoorlid, gesê.

Deidré Vermeulen, die geleentheidskoördineerder vir die stigting, het gesê dat wat hierdie geleentheid so spesiaal maak is dat ’n bekende persoon soos Lottering “dieselfde ding op sy hart het” as dié stigting, en dat sy weet hoeveel gesinne dit gaan ondersteun.

Marc Lottering performing at event

Volgens Deidré Vermeulen, die Carmen Stevens-stigting se geleentheidskoördineerder , het Marc Lottering uit sy eie uit die stigting genader het om hulp en ondersteuning aan te bied. Dit is hoe hulle met die vertoning om fondse in te samel vorendag gekom het. FOTO: Celeste Rabie

Wat oorspronklik een vertoning sou gewees het, het so ’n groot belangstelling gelok dat nóg twee vertonings bygevoeg is, het Vermeulen gesê.

Die stigting het binne hul eerste bestaansjaar aan meer as 3000 leerders ontbyt en middagete voorsien, het Stevens gese. Vandag het dit al gegroei na  35 000 beholpe leerders, het Stevens gesê.

Stevens het gesê dat dit vir haar “amazing” is hoe wyn, iets wat altyd ’n negatiewe konnotasie gehad het in haar gemeenskap, dit nou moontlik maak vir ’n “kind om te eet”.

They actually come to school because they know they are secured a breakfast and a lunch,” het Stevens gesê.

Carmen Stevens op die verhoog

Carmen Stevens, stigter van die Carmen Stevens-stigting, het gesê dat sy self gedurende haar grootwordjare kos as ‘n “luuksheid” ervaar het. FOTO: Celeste Rabie

Tog is daar die tye soos skoolvakansies wanneer kinders nie hul twee maaltye by die skool kan ontvang nie. Met dit in gedagte, het die organisasie met ’n idee vorendag gekom: kosmandjies wat deur vrywilligers gepak word, wat ’n gesin van vier vir twee wekel kan onderhou.

Volgens Stevens kos hierdie projek ‘n geruime R1.3 miljoen. Kosmandjies kan teen R550 per mandjie deur hul webtuiste geborg word.

“Hierdie geleentheid maak kospakkies [vir die leerders] moontlik,” het Vermeulen gesê.

Die gehoor by die vertoning.

Vermeulen het gesê dat een van die spesiale aspekte van die vertoning is die hoeveelheid gehoorlede wat gekom het “omdat hulle hou van wat ons doen en wil ons ondersteun”. FOTO: Celeste Rabie

Op 28 November gaan die stigting hierdie mandjies vir die families pak. Stevens het gese dat die gemeenskap “hartlik” uitgenooi is om te help. 

Jy kan meer uitvind oor die organisasie op hul webtuiste https://cswines.co.za/pages/npo.