Lapmaskers: Dra en kies jou masker reg

IMG_0504

Yolanda Wynbergen, van Pretoria-Oos, en Alistair Barnes, van die Wes-Kaap, wat die lapmaskers maak tydens die Suid-Afrikaanse kluishuis. Foto: Yolanda Wynbergen en Alistair Barnes/Ballo

Tydens die huidige Suid-Afrikaanse grendelstaat bestee Yolanda Wynbergen en Alistair Barnes hul tyd aan die maak van lapmaskers wat gebruik kan word om die verspreiding van Covid-19 te help voorkom.

Wynbergen is die eienaar van Asanté Events Management, in Pretoria-Oos, en Barnes die stigter en eienaar van die Suid-Afrikaanse sonbril-handelsmerk, Ballo, in die Wes-Kaap.   

“Dit is vir my ’n geweldige groot voorreg om ’n verskil te maak – een masker op ’n slag. Daar is steeds ’n groot tekort aan maskers onder die mediese personeel. Hulle kom daagliks in kontak met positiewe- óf potensiële Covid-19 pasiënte – terwyl óns veilig in ons huise en saam met ons families sit,” het Wynbergen gesê.

 Kort na ’n familielid ’n pleidooi vir maskers van ’n verpleegster op Facebook gedeel het, het Wynbergen besluit om aan die werk te spring sodat sy maskers aan areas kan skenk wat in nood is. 

 “Ek het redelik baie navorsing oor die maskers gedoen. Ek is glad nie ’n kundige op die gebied nie, maar ek het dié projek aangepak asof ’n masker na een van my eie familielede toe gaan,” het Wynbergen gesê. 

Dit is vir my ’n geweldige groot voorreg om ’n verskil te maak – een masker op ’n slag.

Sy gebruik ’n waterdigte, fyngeweefde materiaal en poliësterkatoen om die maskers te maak. Die maskers bestaan uit ’n binne- en ’n buitelaag poliësterkatoen, wat as filter dien, en ’n middelste laag waterdigte materiaal. Die maskers bestaan dus uit drie lae en is wasbaar. 

“Ek het tot dusver 60 maskers gemaak,” het Wynbergen gesê. “Dit is baie tydsaam en ek werk hoofsaaklik alleen aan die maskers om te verseker dat die maskers onder die korrekte voorsorgmaatreëls hanteer word én dat die integriteit van die masker nie verruil word vir volume nie.” 

DKJD3896 lapmaskers

Yolanda Wynbergen, van Pretoria-Oos, maak lapmaskers om een masker op ’n slag ’n verskil te maak. Foto: Yolanda Wynbergen

Nét soos die slagspreuk van Ballo se masker veldtog lui, “one for one”,  maak Barnes en sy besigheid óók, een masker op ’n slag ’n verskil. Vir elke masker wat hy verkoop, skenk hy ’n masker aan iemand in nood.  

“Ons het die maskers ontwerp en gemaak om aan die behoeftes van die publiek te voorsien en te verseker dat ons, ons personeel en huur kan betaal. Ons ondersteun ook ’n klein groepie onafhanklike naaldwerksters, in Kaapstad, wat help om die maskers te maak,” het Barnes gesê.  

Volgens Barnes word die meeste maskers slegs een keer gebruik en word dit dan weggegooi. Om dié rede het hy besluit om oorskietlappe te gebruik wat gewas en hergebruik kan word. 

Ons het die maskers ontwerp en gemaak om aan die behoeftes van die publiek te voorsien en te verseker dat ons, ons personeel en huur kan betaal.

Die maskers bestaan uit 100% katoen. Hy gebruik Afrikapatroon-wasstof materiaal. Die maskers bevat ’n dubbellaag katoen met elastiese rekkies wat om jou ore pas. Daar is ook spasie tussen die twee lae, vir filtrasie, wat sorg vir ekstra beskerming. 

IMG_0455 Lapmaskers

Stigter en eienaar van Ballo, Alistair Barnes, in die Wes-Kaap se slagspreuk se masker veldtog lui, “one for one”. Foto: Alistair Barnes/Ballo 

Beide Wynbergen en Barnes se besighede is geregistreer as noodskaaklike dienste wat hulle toelaat om die maskers te verkoop en te skenk tydens die Suid-Afrikaanse grendelstaat. 

Hoe effektief is lapmaskers? 

Volgens Professor Anton Stoltz, hoof van aansteeklike siektes by Steve Biko Hospitaal, is enige masker wat van goeie materiaal gemaak is, ongeveer 50% effektief – dit sluit chirurgiese maskers in. 

“Soos jy praat of nies is daar verskillende grootte partikels. Die groot partikels gaan sit in die materiaal van die masker vas en die klein partikels gaan deur. Ons probeer die groot partikels keer,” het Stoltz gesê.

Die klein partikels van die SARS-Cov-2 (Covid-19) hang in die lug en gedra hulself soos influenza, het Stoltz verder verduidelik. 

Hoewel die maskers slegs ongeveer 50% effektief is, moedig hy die publiek steeds aan om lapmaskers te koop of self te maak – maar seker te maak dat hulle ’n digte, nie-rekbare, materiaal gebruik.  

“Dié maskers is goed genoeg vir my. Ons is op die punt waar ons transmissie gaan kry – óf ons kry transmissie reeds tans in die gemeenskap,” het Stoltz gesê. “Dit is dus belangrik dat ons die groot partikels keer sodat ons nie oppervlaktes kontamineer nie.” 

Stemopname: Professor Anton Stoltz,  hoof van aansteeklike siektes by Steve Biko Hospitaal, verduidelik waarom goeie etiket belangrik is wanneer jy ’n masker dra.  

Wie moet maskers dra?

Volgens Stoltz hoef nie-geïnfekteerde mense nie maskers te dra as hulle buite rondloop nie – maar hulle moet steeds die maatreëls van sosiale afstand volg. 

“Indien ’n persoon in enige geslote area beweeg, soos ’n winkel, moet hulle ’n masker dra,” het Stoltz gesê.  “Ons moet probeer verhoed dat die groot partikels nie op die kos val wanneer ’n persoon dit van die rak afhaal nie.”  

Die oomblik as jy ’n masker dra moet jy bewus wees van jou hande. Moenie die masker aan- en afhaal nie en moet ook nie aan jou gesig vat nie – omdat jy moontlik jouself óf oppervlaktes kan kontamineer, het Stoltz verder gesê. 

“Ons moet almal saamwerk. Dit is nie mý siekte nie, dis nie jóú siekte nie – dis ons almal s’n. Ons almal is saam hierin,” het Stoltz gesê. 

Nuwe infografika

Inligting verskaf deur Professor Shaheen Methar. Deur: Anke Nothnagel

*Die kop van die artikel is op 25 April om 09:54 verander.  

, ,