Lae stemsyfers lol by vanjaar se verkiesing van US Studenteraad

Die verkiesing van die Studenteraad (SR) van die Universiteit Stellenbosch (US) vir 2024 is vanjaar onder meer gekenmerk deur lae stemsyfers, en die diskwalifikasie van verskeie kandidate. Dit het aan die lig gekom tydens die bekendmaking van die nuwe SR, op 4 September. 

Die nege nuwe lede van die SR vir 2024, wat deur die Verkiesingskommissie van die US bekend gemaak is, is as volg: 

  • Mzwakhe Bolotina
  • Reagan Johnson
  • Solomzi Mphambo
  • Phiwokuhle Qabaka
  • Abongile Quthu
  • Richard Visagie
  • Ongezwa Qiqa Tshazi
  • Bradley Grovers
  •  Daisy Ndebele

Mzwakhe Bolotina, een van die gekose lede wat die meeste stemme verkry het, is vasberade om ’n positiewe bydrae tot die studente-gemeenskap van US te maak. “[Ek wil] seker maak dat ons ’n positiewe ruimte en ’n goeie omgewing vir alle US-studente [bevorder],” het hy gesê. 

Die nuwe voorsitter van die SR word op 8 September aangekondig, volgens Bolotina. 

Die Universiteit Stellenbosch (US) se nuwe Studenteraad vir 2024 is op 4 September in die US-biblioteek se ouditiorium bekendgestel. Verskeie studente het die bekendstelling bygewoon. FOTO: Keziah Bailey

Aantal stemme ’n bekommernis 

Uit die 30 380 persone wat geregtig was om te stem, het slegs 2 683 persone gestem. Daarvan was slegs 2 679 stemme geldig. Dit is volgens die resultate wat op 4 September deur die Verkiesingskommissie bekend gemaak is. 

Bridgit Massey, voorsitter van die Verkiesingskommissie, het vertel dat dit belangrik is om kiesers op te voed wat stemregte en die proses agter Studenteraad-verkiesings betref. 

“Ek dink dit behoort nie net die kommissie se verantwoordelikheid te wees om studente op te voed nie, jy weet. Baie studente weet nie eens wie die Studenteraad is nie,” het sy aan SMF News gesê. 

Volgens Bridgit Massey, voorsitter van die Verkiesingskommissie van die Universiteit Stellenbosch (US) se Studenteraad, is daar verskeie studente wat glad nie eers weet wat die Studenteraad behels nie. STEMGREEP: Keziah Bailey

Gulliano Prinsloo, finalejaarstudent aan die US, wat die aankondiging van die nuwe SR bygewoon het, was nie verras oor die aantal studente wat gestem het nie. 

Baie studente is onbewus van die werk wat die SR doen en hoe dit hulle beïnvloed, het Prinsloo gesê. “Aangesien [studente] dit nie sien nie, gee hulle nie om nie, wat daartoe lei dat hulle nie stem nie,” het hy vertel. 

Die Universiteit Stellenbosch (US) se nuwe Studenteraad vir 2024 is op 4 September bekendgemaak. Die stemsyfers vir die verkiesing is egter “nie goed nie”, volgens Bridgit Massey, voorsitter van die Verkiesingskommissie van die US. Slegs 8,82% van studente wat kon stem, het hulle stemme laat hoor. FOTO: Keziah Bailey

Drie kandidate gediskwalifiseer

Intussen is drie kandidate wat vir 2024 se SR gestaan het, gedurende die proses gediskwalifiseer weens beweerde verkiesingswangedrag. Dit is volgens Yanga Keva, die direkteur van nakoming en toesig vir die Verkiesingskommissie. 

Een kandidaat het, volgens Keva, ’n kieser met fisieke geweld gedreig en sal gevolglik boonop na die Studentedissplinêre kantoor verwys word. Die ander twee kandidate is gediskwalifiseer omdat hulle studente se reg om onafhanklik en in die geheim te stem, geskend het, het Keva beweer. 

Verdere inligting oor die beweerde verkiesingswangedrag was nie beskikbaar ten tyde van publikasie nie.

, ,