Kylemore-rugbyklub is as wenners van die Westelike Provinsie (WP) Superliga C Presidentsbeker aangewys ná ’n naelbytstryd teen hul buurdorpspan, Pniël Villagers-rugbyklub op City Park-stadion in Athlone.
Kylemore het dié keer koning gekraai ná ’n 29-26 overwinning oor Pniël, in dié stryd wat tot laat in die wedstryd gelykop was.
Albei spanne het in Augustus in die top-agt van die WP-Superliga C-ligakompetisie geëindig. Hierna het hulle in September aan die top-agt Presidentsbeker-uitspeelkompetisie deelgeneem. Ná twee rondtes van uitspeelwedstryde het dié twee spanne van die Dwarsriviervallei in die finaal, op 19 September, ontmoet.

Pniël Villagers-rugbyklub wat uitdraf vir hul Presidentsbeker eindstryd teen hul buurdorpspan, Kylemore-rugbyklub op City Park-stadion in Athlone. FOTO: Dylan Lackay
Volgens Ryan Solomons, hoofafrigter van die Kylemore-span, beteken hierdie titel baie meer as net nog ’n oorwinning vir die gemeenskap van Kylemore.
“Dit beteken duisende [en] duisende, want ons mense lééf rugby. Ons mense ken rugby, en die liefde vir die sport wat hulle het kan mens nie beskryf nie,” het Solomons gesê.
Hy het gesê dat hierdie oorwinning beslis ’n teken van vordering vir die span is nadat hulle verlede jaar uit die WP-Superliga B-kompetisie uitgeval het.
“Waar ons vandag is, is ’n groot verskil. Laasjaar het ons nie een wedstryd gewen nie en vanjaar is ons in ’n finaal en ons het gekwalifiseer om volgende jaar wéér in die Super League C te speel,” het hy gesê.
“Dis ’n groot plesier en ek is baie bly vir die [spelers], vir die klub en vir die bestuur,” het hy gesê.

Kylemore-rugbyklub na hul 29-26 oorwinning teenoor Pniël Villagers-rugbyklub in vanjaar se Presidentsbeker finaal op 19 September, op City Park-stadion in Athlone. FOTO: Dylan Lackay
Leighthan Julies, voormalige Maties-rugbyspeler, wat tans losskakel speel vir die Kylemore-span het Solomons se sentiment gedeel ná die wedstryd.
“Ek dink nie woorde kan beskryf hoe ek nou voel nie,” het Julies gesê. “Na die eerste verloor in die liga [teen Pniël], om nou weer terug te bounce in ’n Presidentsbeker-finaal beteken meer as wat woorde kan beskryf.”
Julies het die toeskouers gedank vir hul ondersteuning deur die seisoen en het gesê dat dié gemeenskap hierdie oorwinning “verdien”.

Leighthan Julies, losskakel van Kylemore-rugbyklub wat saam met die skare die klub se Presidentsbeker oorwinning oor buurdorpspan, Pniël Villagers-rugbyklub vier. FOTO: Dylan Lackay
Terwyl Kylemore op die dag oorwinnaars was, beteken die feit dat twee buurdorpspanne in dié finaal gespeel het, baie vir albei gemeenskappe.
“Natuurlik is dit vir die twee gemeenskappe ’n baie trotse geleentheid,” het Winston Stubbs, voorsitter van die Pniël-span gesê. “Rugby speel ’n prominente rol in beide gemeenskappe en om beide klubs in die finaal te kry is ongetwyfeld ’n baie groot mylpaal – nie net vir die onderskeie klubs nie, maar ook vir die twee dorpe, en die Dwarsriviervallei.”
Solomons het dit as ’n groot “voorreg” beskryf om vir die tweede keer vanjaar ’n derby-wedstryd teen Pniël te speel, veral omdat dit hierdie keer ’n finaal was.
“Wanneer laas was ons buurdorpe in ’n finaal? So ek is net trots op beide klubs wat die finaal kon gehaal het,” het Solomons gesê.
