Kylemore leerder slaan brons los by SA skaapskeerkampionskappe

’n Hoërskoolleerder van Kylemore het onlangs ’n brons medalje by die Nasionale Skole Skaapskeer- en Wolhanteringkampioenskappe verwerf. 

Shaun Lee Laksman, ’n graad 12-leerder by Hoërskool Kylemore, het op 30 April by die BloemSkou in Bloemfontein aan die skoliere skaapskeerkompetisie deelgeneem. 

“Ek was klein bietjies gestres gewees, veral as gevolg van die spoed waarteen ons [moes] skeer en die groot hoeveelheid mense,” het Laksman gesê.

Kylemore

“My oupagrootjies en oupa-hulle het skape geskeer in die Karoo. Ons familie het ’n geskiedenis van skaapskeer,” het Shaun Laksman, Shaun Lee Laksman se pa, vertel. FOTO: Kara Olivier

Die pad tot in die skaappen

Volgens Laksman het sy passie vir skaapskeer ontstaan toe ’n onderwyser verlede jaar by die skool op soek was na leerders wat dié sport wou probeer. “Ek skeer maar nog net ’n jaar en ek het ’n bietjie gesukkel aan die begin,” het Laksman gesê.  

Hy het gesê dat hy reeds twee skaapskeer-kursusse voltooi het om sy vaardighede te verfyn en is in Februarie vir die Wes-Kaap Skoliere Skaapskeerspan gekies. Dié prestasie is wat hom in aanmerking gebring het om by die BloemSkou te kompeteer. Volgens Laksman het hy ’n uitdagende kwalifiserende rondte gehad. “Die wol was baie styf, maar ek dink ek het goed gedoen,” het hy gesê. 

“Dis amper soos om ’n dansie met die skaap te doen,” het Joubert van der Merwe, afrigter en voorsitter van Wes-Kaap Skoliere Skaapskeerspan gesê. Van der Merwe verduidelik hoe kompeterende skaapskeer werk en hoe hulle skaapskeerbeoordeling regverdig hou. KLANKGREEP: Kara Olivier

‘Skaapskeer is nie vir sissies nie’

Volgens Laksman is skaapskeer ’n strawwe en fisieke sport, en “nie vir sissies nie”. Hy het beklemtoon dat dit belangrik is om rustig te bly voor ’n kompetisie. “’n Skaap gaan nooit stil lê as jy stres nie,” het hy gesê.  

“Skaapskeer vereis selfdissipline, … dryfkrag, selfbeheersing en konsentrasie,” het Joubert van der Merwe, afrigter en voorsitter van die Wes-Kaap Skoliere Skaapskeerspan gesê. Hy het genoem dat die ontwikkeling van dié eienskappe, asook ’n passie vir diere en respek vir die natuurlike omgewing, die basis van ’n suksesvolle skaapskeer-loopbaan vorm. 

“Dit [sink] nog in maar ons is baie trots op hom,” het Shaun Laksman, Laksman se pa, gesê. Hy meen dat sportsoorte soos skaapskeer, ’n positiewe invloed op hulle gemeenskappe het omdat dit jeugdiges help fokus. 

Skaapskeer boer vooruit

 “In ’n wêreld waar ons sukkel om mans en vroue gelyk te kry, is skaapskeer en jeugskou [ver voor ander skoolsporte],” het Joubert van der Merwe, afrigter en voorsitter van die Wes-Kaap Skoliere Skaapskeerspan gesê. Hy verduidelik hoe verskillende landbousporte bydrae tot geslagsgelykheid in die landbou-industrie. KLANKGREEP: Kara Olivier

“Aktiwiteite soos skaapskeer maak beslis ’n verskil in die groei van die landboubedryf,” het Christopher Vermeulen, ’n landboubestuurspraktykonderwyser by Hoërskool Kylemore, gesê. Volgens Vermeulen is die kennis wat mededingers tydens kompetisies opdoen, die eerste stap na ’n suksesvolle landbouloopbaan.

“[Shaun Lee Laksman] was ’n baanbreker,” het Christopher Vermeulen, ’n landboubestuurspraktykonderwyser by Hoërskool Kylemore gesê. Hy het vertel dat menige ander leerders by die skool kom navrae doen aangaande deelname in skaapskeer na Laksman se prestasie by die Nasionale Skole Skaapskeer- en Wolhanteringkampioenskappe. FOTO: Verskaf/Joubert van der Merwe.

Na afloop van die kompetisie, het DG Snyman Skeerdienste in Bloemfontein vir Laksman ’n twee-jaar skeerkontrak aangebied. “My grootste droom is om eendag oorsee te gaan skaapskeer. Ek wil in die landboubedryf werk waar ek iets kan doen waarvoor ek lief is,” het Laksman gesê.

“As boere in Suid-Afrika meer respek sal hê vir hulle skaapskeerders, sal die bedryf al baie groei en het ons ons doel bereik by [Wes-Kaap Skoliere Skaapskeerspan],” het Joubert van der Merwe, afrigter en voorsitter van die Wes-Kaap Skoliere Skaapskeerspan gesê. Van der Merwe het verduidelik dat Suid-Afrika se ekonomie uit internasionale blootstelling en werksgeleenthede vir skaapskeerders kan baat. KLANKGREEP: Kara Olivier

, , ,