Kovsies kraai koning by Varsity Netbal

Vanjaar se Varsity Netbal-toernooi is afgesluit met ’n opwindende eindstryd tussen Maties en UFS Kovsies, waarin die Vrystaatse span geseëvier het. 

Die toernooi, wat in ’n sogenaamde bio-borrel plaasgevind het, het op 21 Augustus afgeskop en die eindstryd op 30 Augustus het gesorg vir groot opwinding by die Universiteit Stellenbosch (US) se Coetzenburg-sentrum. Kovsies was dominant in al vier kwarte en het die wedstryd afgesluit met 55 doele teenoor Maties se 39. 

Varsity Netbal

Vanjaar se Varsity Netbal-toernooi is by die Universiteit Stellenbosch se Coetzenburg-sentrum aangebied. Die agt deelnemende spanne moes tussen 21 Augustus en 30 Augustus in ’n bio-borrel bly om die risiko van Covid-19 te beperk. FOTO: Anri Matthee

Volgens Sikholiwe Mdletshe, die Kovsies-kaptein, was haar span “uitgehonger” om na die baan terug te keer by vanjaar se toernooi.

“In die borrel het jy ’n paar uur om foute na te gaan en te herstel. Gewoonlik het ons vyf dae tussen naweke vol aksie,” het Mdletshe gesê. “Maar dit was ’n wonderlike spanbou-ervaring!”

Voor hul nederlaag in die eindstryd, was Maties onoorwonne by vanjaar se toernooi. Die span se kaptein, Sian Moore, glo dat hul vermoë om die eindstryd te haal boekdele spreek oor die gehalte van netbal wat hulle by die kompetisie opgelewer het.

“Ons weet dat die Maties Sport-familie en die US trots is op ons,” het Moore gesê. “Dít is die nuwe standaard vir toekomstige spanne en spelers.”

Maties se hulpdoel, Nicholé Taljaard, tydens die eindstryd. Taljaard is aangewys as vanjaar se FNB Speler van die Toernooi. FOTO:Verskaf/Varsity Sports

Unieke uitdagings

Varsity Sport het op 6 Augustus aangekondig dat vanjaar se toernooi in ’n bio-borrel in Stellenbosch sou plaasvind. Die US is as gasheer gekies danksy die “wêreldklas-sportfasiliteite” wat die logistiek makliker gemaak het, volgens Xhanti-Lomzi Nesi, die toernooibestuurder. Dít kom nadat Varsity Netbal verlede jaar weens die uitbreking van die Covid-19-pandemie afgestel moes word. 

“Dis altyd moeilik om ’n jaar sonder geleenthede deur te maak,” het Nesi aan MatieMedia gesê. “Dis fantasties om terug te wees [en] om ’n platform vir spelers te bied.”

Die formaat van vanjaar se toernooi het egter met sy eie uitdagings gekom. Daar moes ’n “olimpiese dorp” geskep word waarbinne alle aktiwiteite fyn geskeduleer moes word. Dit was om te verseker dat die bio-borrel veilig bly en dat botsings vermy word, volgens Nesi.

Die UP Tuks-netbalspan met hul aankoms by die Coetzenburg-sentrum voor hul laaste wedstryd op 30 Augustus. Die span van Pretoria het 62 doele aangeteken teenoor die Noordwes-Universiteit-span se 48. Hulle het uiteindelik die derde plek in die toernooi behaal. VIDEO: Anri Matthee

Die Maties-span moes die bio-borrel op ’n unieke manier hanteer toe hul hoofafrigter, Zanele Mdonana, voor die afskop van die toernooi positief getoets het vir Covid-19 en moes isoleer.

“Toe ons die nuus van coach Zan kry, was ons almal baie emosioneel,” het Moore gesê. Mdonana kon deurlopend via Microsoft Teams met haar span kommunikeer, maar volgens Moore was die span gelukkig toe Mdonana weer voor die halfeindstryd by die hulle kon aansluit. 

Die 2021-Varsity Netbal-toernooi het uit tien dae se wedstryde bestaan. Al agt spanne het teen mekaar gespeel in die aanvanklike sewe rondtes, met half- en eindstryde daarna. GRAFIKA: Anri Matthee

, , ,