Konstruksie van twee nuwe skole in Klapmuts bevestig

Die konstruksie van twee nuwe skole in Klapmuts is pas deur die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) bevestig. 

Debbie Schäfer, die minister van die WKOD, het die konstruksie van die skole op 30 Maart in haar begrotingstoespraak bevestig. Die toespraak is via ʼn woordvoerder vir die minister per e-pos aan MatieMedia gestuur.

Klapmuts Primêre Skool, ʼn Afrikaansmedium skool, is tans die enigste skool in Klapmuts. Schäfer het tydens haar toespraak bevestig dat daar ʼn groot vraag is na plekke vir leerders om in Xhosa onderrig te word.

“Die vinnige residensiële uitbreiding van die dorp het ʼn groot vraag geskep na plekke vir leerders om in Xhosa onderrig te word. Leerders word tans na [skole in] die Paarl, Kraaifontein en Kayamandi vervoer, maar dit is nie ʼn volhoubare situasie nie,” het Schäfer gesê. 

konstruksie

Klapmuts Primêre Skool. FOTO: Candice Jantjies

GRAFIKA: Candice Jantjies. BRON: WCED Find A School.

Die WKOD het die afgelope jaar saam met die gemeenskap gewerk om die geskikte ligging vir die nuwe skole te identifiseer, het Schäfer gesê. Daar was ook samewerking om ʼn tydelike oplossing vir die plasing van skoliere te vind terwyl die konstruksie plaasvind.

“Ons het nou die nodige grond verseker en sal vir twee skole begin beplan – een laerskool en een hoërskool – in die gemeenskap. Die eerste, ʼn mobiele laerskool, sal na verwagting teen volgende jaar aan die gang wees. Beplanning het ook begin om ʼn permanente hoërskool te voorsien wat na verwagting in 2025 in werking sal tree,” het Schäfer gesê oor wat gedoen gaan word om die situasie op te los.

Die Klapmuts-gemeenskap het vroeër vanjaar met protesoptrede begin nadat beloftes van ʼn tydelike skool wat na bewering teen Februarie vanjaar opgerig sou word, nie nagekom is nie. Die gemeenskap het onder meer op 29 Maart aan ʼn betoging deelgeneem om ʼn memorandum aan Juan Benjamin, direkteur van die Kaapse Wynland Onderwysdistrik, te oorhandig. Dit is volgens Juju Mbikwana, voorsitter van die Klapmuts Ontwikkelingsforum (KDF). 

Mattys Cronje, menslike hulpbronbestuurder by die WKOD, het die memorandum namens Benjamin in ontvangs geneem. Die memorandum spreek volgens Mbikwana die kwessie van die tydelike skool aan. 

Matthys Cronje (links) neem die memorandum in ontvangs. FOTO: Verskaf/Juju Mbikwana

ʼn Gemeenskapslid tydens die Klapmuts-betoging op 29 Maart met ʼn plakkaat wat sê, “We need second school in Klapmuts. We [sic] sick and tired”. FOTO: Verskaf/Juju Mbikwana

Die grond waar die tydelike skool opgerig sal word, is aan die KDF gewys, het Mbikwana bevestig. 

konstruksie

Die grond waar die tydelike skool volgens Juju Mbikwana opgerig sal word. FOTO: Candice Jantjies

, , , ,