Komedie kraai koning by Toneelfees 2019

Die lagspiere het oortyd gewerk by KuKo Toneelfees se gala-aand op Vrydag 3 Mei. Mamma, ek wil ’n man hê, ’n skreeusnaakse sketskomedie deur Metanoia en Isa, is as die wenner van Toneelfees 2019 aangewys. Die komedies Kantlyn (Simonsberg, Helshoogte en Pieke) en Victoriastraat is ’n stupid metafoor (Dagbreek en Metanoia) het onderskeidelik die tweede en derde plek beklee.

aDSC_0216

Beste aktrise, Gita Fourie, bo-op Lascelles Marais en Mia Kleynhans in Mamma, ek wil ’n man hê. FOTO: SZ Minnaar

Die ander stukke wat op die gala-aand gespeel het, is Tussen Stasies (Simonsberg en Metanoia), It’s all about the money (Erica) en Lost in Translation (Academia).

Dié ses toneelstukke is die room van die 22 stukke wat tussen Dinsdag 23 April en Saterdag 27 April gedurende die uitdunrondte die Drostdy-teater se verhoog aan die brand gespeel het.

Oor die kwaliteit van vanjaar se stukke het Marina Albertyn-Struwig, een van die beoordelaars, gesê dat dit “lieflik” en “baie professioneel” was. “Die dramas het ’n bietjie gesukkel, dit was maar moeilik, maar die komedies was fantasties,” het sy gesê.

Die geselskap van Academia se Lost in Translation. FOTO: SZ Minnaar

Die geselskap van Academia se Lost in Translation wat as beste komedie gekroon is. FOTO: SZ Minnaar

Beoordelaar Jeandré Hammond het gedink daar was hier en daar ’n paar cringe oomblikke, maar hy was meestal beindruk. “Algeheel was die komedies baie sterk. Ek is baie beïndruk deur die satire wat gebruik is en ook deur die kommentaar wat gelewer is. Ek het dit nie verwag van amateurtoneel nie,” sê hy.

Die wenstuk, Mamma, ek wil ’n man hê, het op ’n humoristiese wyse lig op verskillende feministiese kwessies gewerp. Die geselskap, wat bestaan uit vyf aktrises, het met hope energie, ’n tong-in-die-kies-klankbaan en ’n aweregse danspassie of twee gesorg dat die gehoor van begin tot einde vermaak is.

Albertyn-Struwig meen ’n groot rede vir die wenners se sukses is dat hulle stuk op twee vlakke funksioneer. “Dit was nie net snaaks nie. Dit het iets gesê. Dit het op ’n slim manier gepraat oor identiteitspolitiek en dit was vernuwend. Dit was ook ’n produksie wat die naaste was aan professionele vlak wat mens maklik na ’n fees toe sou kon vat en ontwikkel,” het sy gesê.

aDSC_0148

Beste akteur, Adriaan Havenga, besig om homself met ’n tuinhark te verdedig in Victoriastraat is ’n stupid Metafoor. FOTO: SZ Minnaar

Justine Rubesch, deel van die Mamma-geselskap en wenner van die kategorie beste aktrise in ’n ondersteunende rol, het gesê dat uiteindelik maak hulle teater wat standpunt inneem sonder om dit in iemand se gesig te gooi. “Ons wou die gehoor vermaak, maar ons wou hulle ook met ’n boodskap los,” het sy gesê.

Mia Kleynhans, eerstejaar-dramastudent en ook deel van die Mamma-geselskap, het nie geweet wat om te verwag nie, maar die wen was “beter as wat [sy] ooit sou kon dink”.

Die geselskap beweer dat hulle sedert die eerste oefening besluit het Mamma moet verder gaan. “Ons het heeltyd gespot tydens repetisies hoe ons dit gaan langer maak vir Woordfees, maar na vanaand klink so iets na ’n realiteit,” het Gita Fourie, regisseur en medeskrywer van Mamma, gesê.

aDSC_0347

Trompie Booysen (links), wenner van die kategorie beste akteur in ’n ondersteunende rol, saam met die res van die span in Kantlyn. FOTO: SZ Minnaar

Kantlyn hoop ook om nog ’n speelvlak na Toneelfees te hê. “Op grond van die terugvoer is ons baie gemotiveer. Daar is ’n moontlikheid dat ons weer gaan optree en die geselskap het gesê hulle hoop nie dit is die laaste keer wat hulle optree nie,” sê Emma Wiehman, mede-regisseur van Kantlyn.

Wat nog ’n speelvlak indrukwekkend sal maak, is dat vir die meerderheid van Kantlyn se geselskap die eerste keer op die verhoog was. “Ons het net een dramastudent. Ons het die stuk geskryf nadat ons hulle gecast het om spesifiek te kan speel op dit wat ons weet hulle goed in sal wees en dit waarin hulle kan uitblink,” het Wiehman gesê.

"Jy kan petrol steel met daai ding." Uit 'Kantlyn'. FOTO: SZ Minnaar

“Jy kan petrol steel met daai ding.” Uit Kantlyn. FOTO: SZ Minnaar

Die gala-aand het uitverkoop en Janke van Schalkwyk, een van die Toneelfees-organiseerders, sê Toneelfees is iets om op trots te wees vir die universiteit. “Ons het vanjaar baie groter gehore gehad teenoor vorige jare. Die kwaliteit van bemarking en die inisiatief wat die stukke self geneem het om bemarking te doen en om mense te lok, was fantasties,” het sy gesê.

Blaine Josephs, Kuko-voorsitter, meen die lekker ding van Toneelfees is dat dit elke jaar net groter en groter word. “Ek dink die kwaliteit verbeter elke jaar en die ligter stukke resoneer goed met studente,” het hy gesê. Ná Toneelfees het hy gesê dat hy opgewonde is om te gaan rus en daarna te begin beplan aan die Acapella-seisoen wat in Augustus afskop.

Hier volg die lys wenners van Toneelfees 2019:

Beste akteur: Adriaan Havenga vir Victoriastraat is ’n stupid Metafoor.

Beste aktrise: Gita Fourie vir Tussen stasies en Mamma, ek wil ’n man hê.

Beste akteur in ’n ondersteunende rol: Trompie Booysen vir Kantlyn.

Beste aktrise in ’n ondersteunende rol: Justine Rubesch vir Mamma ek wil ’n man hê.

Beste ensemble: die geselskap van Kantlyn.

Beste regie: Emma Wiehman en Divan Bosman vir Kantlyn.

Beste drama: Tussen stasies.

Beste komedie: Lost in Translation.

Beste oudiovisuele stuk: Tussen stasies.

Lede van KuKo saam met die geselskap van die wenstuk, 'Mamma, ek wil ’n man hê'.

Lede van KuKo (links en derde van regs) saam met die geselskap van die wenstuk, Mamma, ek wil ’n man hê. FOTO: SZ Minnaar

'Kantlyn' se geselskap saam met lede van KuKo.

Kantlyn se span saam met lede van KuKo (links en derde van regs). FOTO: SZ Minnaar

'Victoriastraat is ’n stupid metafoor' se geselskap saam met lede van KuKo (links en tweede van regs).

Victoriastraat is ’n stupid metafoor se geselskap saam met lede van KuKo (links en tweede van regs). FOTO: SZ Minnaar