Klein dorpie, grenslose drome

Die bekende akteur, Dean John Smith, wat die rol van Wade in die KykNET-reeks Suidooster vertolk, moes sy eie paadjie oopkap om sy drome te bereik. Hy het met Leo Cordom van MatieMedia gesels oor sy liefde vir Malmesbury, sy familie en bruinverteenwoordiging in die media.  

Dean John Smith

Sedert Dean sy debuut in 2010 gemaak het, het hy ‘n bekende gesig geraak op die kassie, op die planke — en op sosiale media. FOTO: Verskaf/ Antonia Steyn & Toyota US Woordfees

As die bekende akteur, Dean John Smith, terugdink aan sy kinderjare, dink hy aan die buitespeel in die strate, die kattekwaad-aanvang “af in die pad”, die vinnig mobile toe stap — en natuurlik die pakslae wat uitgedeel was. Dit het aan hom die skoonheid gewys van sy klein en plattelandse dorpie, Malmesbury. Dit was waar hy gebore en getoë was. 

“Dit was beautiful om dit te aanskou en om blootgestel te wees aan dié vorm van vertroue,” vertel hy. 

Selfs as die 26-jarige Dean nou nog teruggaan Malmesbury toe, sien hy somtyds hierdie egte gemeenskapsband binne sy tuisdorp. 

“Almal groet mekaar asof hulle mekaar ken en gewoonlik as ek mense saamvat Malmesbury toe wat nog nooit daar was nie, is die eerste ding wat hulle sê: ‘die mense is so vriendelik’,” sê hy. 

Dean Smith hou aan om jongmense te inspireer. Dean, wat gereeld teruggaan na sy plattelandse tuisdorp, Malmesbury, beywer homself altyd om terug te ploeg in die gemeenskap. FOTO’s: Leo Cordom

Dit was juis dié gemeenskap — en sy ouers — wat hom aangespoor het om sy eie paadjie oop te kap. 

In Malmesbury was daar nie ’n groot kultuur om drama te gaan swot nie, vertel Dean. “Ek moes kanse vat en my ouers het dit toegelaat. Daaroor kan ek baie dankbaar wees.”

Volgens Dean se pa en die sakeman, John James Smith , was positiwiteit en optimisme die sleutel tot Dean se sukses. “Ek en my vrou — Helen — was positief in dit wat die kinders wil doen, insluitend sy twee susters [Jill en Lynn Siljeur], sodat dit wat hulle doen, hulle in alle mag kan aanpak,” sê Smith.  

Alhoewel sy ouers nie noodwendig geweet wat hy doen nie of waarvoor hy homself inlaat nie, het hulle genoeg vertroue in hom gehad met dit wat hy doen, vertel Dean. 

As hy nie op die kassie of op die planke is nie, spog Dean Smith op al wat ’n tydskrif . Dean was onlangs in die Kuier te sien vir sy skreeusnaakse karakters en sketse wat hy op sosiale media deel. FOTO’s: Leo Cordom

Dean se talent om ander te vermaak kom al vanaf sy kinderjare aan. “My ouers het gedink ek gaan ’n predikant word, want ek het altyd na die diens op ’n Sondag — as die kerk nou uit is — gaan staan waar die pastor gestaan het en hom nagemaak,” sê hy. 

Maar dit was eintlik nét die namaak-storie, sê Smith voordat hy uitbars van die lag.

“As kind is daar baie goed wat jy wil word. Ek kon toe nie my mind opmaak nie, en toe word ek ’n akteur. Nou, kan ek wees wat ek wil wees,” vertel Smith. 

Dean het skoolgegaan aan Schoonspruit Sekondêr, ’n skool wat hulself beywer vir die kunste, en in 2011 gematrikuleer. 

Volgens Kobie Jacobs, Dean se destydse drama-onderwyser, was hy ’n uitblinker sedert graad agt. “Hy was die enigste graad agt leerder wat ’n rol gehad het in die produksie [van daardie jaar]. Hy het net oor die verhoog gestap en dit met soveel karakter gedoen,” sê sy. 

Dit was juis op die planke waar die toneelspel-gogga Dean by die boud vasgebyt het en aanhou kou het. 

Dean John Smith

Dean is al ’n bekende op die planke. Hy’t in Februarie 2016 ’n Fiesta-toekenning gewen as die beste manlike byspeler vir sy rol in Die Dag is Bros. FOTO: Verskaf/ Nardus Engelbrecht & Toyota US Woordfees. REDIGEER: Leo Cordom

Dean se debuut

“Juffrou Kobie het my ingeskryf vir ’n kompetisie.” Op daardie tyd was dit die Stad Kaapstadse skoletoneel kompetisie, waarby een van die pryse ’n rol in ’n professionele produksie was, verduidelik Dean. 

“Ek het deelgeneem, was gekies vir die een play en dis waar [die bekende toneelstuk] Vaselinetjie vandaan gekom het — die heel eerste Vaselinetjie wat perform was,” vertel hy.  

Dít het aan Dean, wat nóg in graad tien was, die realiteit van die vermaaklikheidsbedryf gewys.  

“Ek het destyds net sepies gekyk en daai tyd baie gefaff oor 7de Laan, en nou speel ek saam met hulle in ’n toneelstuk,” vertel hy. 

Dié ervaring het Dean die geleentheid gebied om die persoon agter die karakter te leer ken, asook ’n smaak van die roetine wat hy nou ondervind. 

“Dit was ’n ander tipe en opwindende gevoel wat ek gekry het,” sê hy. 

Dit was dié einste gevoel wat Dean ook aangespoor en gemotiveer het om sy drome na te streef. Hy’t in 2012 sy eerstejaar begin aan die Universiteit Stellenbosch (US) as ’n Drama- en Teaterstudiestudent. Daarna, het hy sy honneursgraad in toneelspel in 2015 verwerf.  

As ’n bruinman

Dean se tesis het die klem gelê op die verteenwoordiging van die bruin gemeenskap in die teaterwêreld en of dit gebaseer is op samelewings- of ekonomiese groei. 

“Ek het teaterstukke gevat [van jare gelede] soos [Adam Small se] Kanna hy kô hystoe en  teaterstukke wat onlangs geskryf is soos [Christo Davids and Jody Abrahams se] Bullets over Bishop Lavis, en toe het ek na die verskil gekyk in terme van hoe dit uitgebeeld was en die klas wat dit aangevoer het,” verduidelik Dean. 

Daarom is Dean, wie die rol van Wade in die KykNET-reeks Suidooster vertolk, aangetrokke tot die dinamika binne Suidooster. “Jy kry die Bridgette October-hulle wat mooi Afrikaans praat, en dan kry jy vir Mrs J wat daai lekker kerk antie is, en dan jou Nazeem wat [slinks] praat, en dan jou Ty en Wade’s wat plat praat,” vertel hy. 

Dit wys wat dit werklik beteken om bruin te wees. Dit maak dié program so spesiaal, voer hy verder aan. 

Dean se impak strek ver en wyer. Volgens 12-jarige Leighmen Marshall — ook van Malmesbury — wat die rol van Quinton in Suidooster vertolk, was Dean die rede agter ’n geleentheid wat Leighmen se lewe vir ewig verander het.  

Talent in Malmesbury loop hoog. Leighmen Marshall het in 2019 ’n beste akteur-benoeming gekry by die Silwerskermfees gekry vir sy rol in die kortfilm, Rooilug.  FOTO: Leo Cordom

“As dit nie vir Dean was nie, dan sou ek nie my eerste rol gekry het nie,” sê Leighmen. Volgens Leighmen was dit danksy hom dat hy die rol van Dawid Komoetie Junior in die 2019-weergawe van die fliek, Fiela se Kind, losgeslaan het. 

“Dean het vir Oscar Petersen, die casting director van Fiela se Kind en Suidooster, gesê om na plattelandse dorpies te gaan, omdat hulle gewoonlik die tone of die voice vir die karakter het,” vertel Leighmen. Hy’t die oudisie gedoen en voordat hy sy oë kon uitvee was die rol in Fiela se Kind syne. 

Leighmen, is maar net onder vele ander jongmense, wat Dean op ’n daaglikse basis inspireer. As iemand wat gereeld terugploeg in sy gemeenskap, beywer Dean homself altyd uit om aan die jong mense in die gemeenskap te wys dat daar ’n groter wêreld as Malmesbury is. 

“Baie keer is daar jongmense van Malmesbury wat sê: ‘Ek wil ook eendag soos jy wees’,” vertel hy. 

Hy antwoord hulle altyd en sê: “No, don’t limit yourself. Jy kan nog selfs beter wees as ek”. 

, ,