Karen Zoid kraai rock-koningin by amfiteater vertoning

In ’n blou-beligte Spier Amfiteater sit US Woordfees-feesgangers angstig en wag vir die vrou van die aand om haar verskyning op die verhoog te maak. Die gehoor geniet ’n glasie rooiwyn in die koue, en in die agtergrond speel Coldplay se “Viva la Vida”.

Karen Zoid, ook bekend as Suid-Afrika se eie rock-koningin, se band begin een vir een hul verskyning op die verhoog maak: Dr. Schalk van der Merwe tel die baskitaar op, Kyle Petersen gaan sit gemaklik voor die klavier, Darren Petersen neem sy plek agter die dromme in en hoofkitaarspeler Jeandre Schultz beweeg hinkepink in die rigting van sy blou kitaar. Dit wil voorkom of sy gebreekte been hom nie veel pla nie.

Die afwagting neem toe. Die blou ligte begin dowwer raak.

’n Stem oor die luidsprekers wens die Universiteit Stellenbosch geluk met sy honderdste bestaansjaar en verwelkom die gehoor.

JP Willson.jpg

Karen Zoid tree op by die Spier Amfiteater tydens die negentiende US Woordfees. FOTO: JP Willson.

“Dames en here, Karen Zoid!” kom die stem oor die luidsprekers.

Zoid beweeg oor die verhoog en groet al drie afdelings van die gehoor afsonderlik. Die afwagting loop uit in ’n luidrugtige handeklap.

Sy tel haar kitaar op en skop die aand af met ’n verwerking van “Ons soek rock ‘n roll” – ’n liedjie op haar tweede album Chasing the Sun. Soos die naam van die liedjie voorspel, is feesgangers ook juis by dié vertoning op soek na dieselfde ding.

Zoid het in ’n onderhoud met MK in 2015 vertel dat sy dié liedjie in 2001 geskryf het ná musikante soos Juanita du Plessis, Theuns Jordaan en Patricia Lewis gratis vertonings gelewer het met backtracks.

“Op daardie stadium het dit ’n groot invloed gehad op almal wat in ’n band gespeel het,” vertel sy op die MK-program, Singstories. “Ewe skielik moes bands vir baie goedkoper speel en Anton Goosen het elke week in Rapport geskryf hoe crap al die backtrack artists is.

“Ons almal was de bliksem in.”

Karin_Zoid_by_Oppikoppi_2011.JPG

Karen Zoid tydens ’n vertoning by Oppikoppi in 2011. FOTO: Verskaf.

Deur die res van die aand hoor toeskouers liedjies vanaf haar nuwe album, Op die oomblik (Deel 1), insluitend die snit “Vir Jou”, wat al op die dag wat die liedjie vrygestel is, nommer een op iTunes was.

Ná byna elke liedjie bedank sy haar band en eer elke lid vir sy afsonderlike talent. Zoid wens ook haar klankman, Byron Colquhoun, geluk met sy verjaardag en dra ’n groot gedeelte van die vertoning aan hom op.

Colquhoun word spesiaal vereer in haar liedjie “Small room” en sy speel ook ’n gedeelte van die bekende Guns N’ Roses liedjie, “Sweet Child O’ Mine” met oorgawe vir haar “gunsteling Harley Davidson-ryer klankman”.

Ander cover-liedjies tydens die vertoning het Lady Gaga se “Bad Romance” en Patti Smith se “Because the night belongs to lovers” ingesluit. Zoid het ook die Parlotones liedjie, “Giant Mistake” gesing wat selfs Kahn Morebee, hoofsanger van Parlotones, hoendervleis sou gee.

Tydens “Toe vind ek jou”, die liedjie wat Zoid saam Fokofpolisiekar se hoofsanger Francois van Coke opgeneem het, het paar gelukkige feesgangers selfs die geleentheid gekry om met dié groep talentvolle musikante die verhoog te deel.

Zoid tydens haar vertoning by Spier Amfiteater in 2017. FOTO: Chauvet Professional.

 

“Die show was baie goed,” sê Rudolf van Zyl, wat die konsert bygewoon het. “Haar stage humour was baie goed en sy weet hoe om die gehoor in te trek. Ek wens net sy het meer van haar eie musiek gespeel.”

Ander feesgangers meen dat ’n vertoning by Spier amfiteater hulle beperk om te dans of selfs saam te sing.

“Ek moes baie hard fokus om nie op te staan en te begin dans nie,” sê Nicolette van Schalkwyk, ’n feesganger en Zoid-liefhebber.

Die aand het afgesluit met ’n terugroeping ná Zoid reeds die verhoog verlaat het. Van der Mewe, Schultz en die Petersen-broers het ook weer hul plekke op die verhoog gevind en die aand is afgesluit met die klanke van Johnny Clegg se “Great Heart”.

Die blou ligte verander na heldergeel en die sekuriteitswagte begin mense uit die Amfiteater vergesel. Die afwagting was vir seker die moeite werd.

, ,