KAMERS skop af met fondsinsamelingsaand vir Hannah Cornelius-stigting

Die openingsaand van Stellenbosch se 15de KAMERS-mark op 30 Oktober by die Anura-wynlandgoed sal dien as ’n fondsinsamelingsaand vir die nuwe Hannah Cornelius-stigting vir mishandelde vroue en kinders wat hierdie jaar gestig is.

Volgens Magdel Kemp, die mede-eienaar van die KAMERS-handelsmerk, identifiseer hulle sterk met die stigting omdat meeste van hulle bestuurspan ma’s, dogters, of albei is. Die eerste aand van KAMERS sal ook dien as die amptelike bekendstelling van die stigting. Die stigters, Willem en Anna Cornelius, sal ook by die geleentheid teenwoordig wees.

KAMERS se filosofie vir 2017 lui “om met ’n oop hand te gee en te ontvang”. Met hierdie filosofie in die oog het KAMERS hierdie jaar ’n nie-winsgewende organisasie genaamd “Mzanzi Makers” by hulle projekte betrek. Die organisasie beoog om kreatiewe entrepreneurs van voorheen benadeelde gemeenskappe ’n platform te gee om kunste-besighede te skep.

“KAMERS het oorspronliklik in 2003 as “Kamers vol geskenke” in ’n huis op Stellenbosch begin. Sedertdien het dit so uitgebrei dat dit teen 2018 vyf shows regoor die land sal hê”, sê Heleen Rossouw van Stellenbosch, ’n ou hand in die KAMERS-span.

“Daar is plek vir om en by 150 uitstallers by elkeen van ons events, maar ons ontvang so 600 aansoeke elke jaar. Alle produkte is local – ’n vereiste van KAMERS is dat dit in Suid-Afrika gemaak moet word. Daar is hierdie jaar 59 nuwe uitstallers wat nog nooit by KAMERS uitgestal het nie.”

Rossouw sê dat hulle oor die 5 dae wat KAMERS aangebied word, oor die 10 000 besoekers verwag.

Kaartjies vir die openingsaand (ten bate van die Hannah Cornelius-stigting) is R150, waarvan alle opbrengste na die stigting sal gaan. Gewone kaartjies is R60 op Computicket, en R80 by die hek. – Lida Malherbe

 

,