Kabeldief op heterdaad betrap

’n Verdagte is verlede week in hegtenis geneem nadat hy in Onder Papegaaiberg betrap is waar hy besig was om spoorwegkabels te probeer steel. Dit is volgens ’n Facebook-plasing deur Fidelity ADT. 

Die voorval is bevestig deur Kaptein Nathalie Martin, woordvoerder vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se Stellenbosch-tak. 

verdagte

Volgens kaptein Nathalie Martin is koperdiefstal ’n uitdaging in Stellenbosch, maar is daar eenhede in wat poog om dit te bekamp. FOTO: Verskaf/Kobus Venter (Facebook)

“Koperdiefstal is ’n uitdaging in Stellenbosch; daarom word daar weekliks en maandeliks vergaderings deur die SAPD se FLASH-eenheid gehou waartydens hulle vermeende sindikate (mense wat [koper] koop en verkoop) rondom koperdiefstal aanspreek,” het Martin aan MatieMedia via WhatsApp gekommuniker. “Gereelde vergaderings word met alle rolspelers gehou om maniere te bespreek om koperdiefstal in Stellenbosch hok te slaan.”

Die Firearm licence, Alcohol and Second Hand Goods (FLASH)-eenheid werk volgens die SAPD se webtuiste onder meer die onwettige herverkoop van gesteelde goedere tee.

Volgens Fidelity ADT se plasing, is die verdagte op 9 April deur van hulle gespesialiseerde reaksie-eenheid (SRU)-beamptes betrrap. Die beamptes het hom gevang en aan die polisie oorhandig.

verdagte

Die gespesialiseerde reaksie-eenheid (SRU) van die Fidelity ADT Stellenbosch-tak het op 9 April ’n man gevang het terwyl hy besig was om spoorwegkabels te probeer steel.FOTO: Verskaf/Kobus Venter (Facebook)

“SRU Beampte [Heinrich] Ortell en [Reaction Force-bestuurder (RFM) Roland] Sauls kon sonder weerstand die man in boeie plaas aangesien die verdagte geweet het dat pogings om te vlug steeds tot sy arrestasie sou lei,” lui die bogenoemde Facebook-plasing deur Kobus Vivier, die gemeenskapsbedryfsbestuurder van die Fidelity ADT Stellenbosch-tak. Die plasing noem ook dat die man deur Fidelity ADT aan die polisie oorgegee is.

Met die publikasie van hierdie artikel, kon Fidelity ADT nie verdere kommentaar lewer nie. 

Spoorwegkabels wat voete vind

verdagte

Die Stellenbosch-treinstasie is tans verlate aangesien daar geen treine in die Stellenbosch area rondbeweeg nie, volgens Clement Maphaba, ’n woordvoerder van Transnet Freight Rail. FOTO: Karla van der Merwe

Volgens Clement Maphaba, ’n woordvoerder van Transnet Freight Rail (TFR), is daar ’n “sterk mark vir tweedehandse koper van ander lande af”. 

“Skroothandelaars monitor voortdurend die internasionale skrootmark om optimaal voordeel te trek wanneer nie-ysterhoudende metale verkoop of uitgevoer word,” het Maphaba via e-pos aan MatieMedia gesê. “Die skerp styging in skrootpryse van die afgelope jaar kan toegeskryf word aan die toename in die diefstal van koperprodukte.” 

Hoewel die SAPD en Transnet verantwoordelik is vir die bekamping van kabeldiefstal, sal die munisipaliteit ’n ondersteunende rol speel deur middel van munisipale wetstoepassing indien dit nodig is, volgens Stuart Grobbelaar, die woordvoerder van die Stellenbosch Munisipaliteit. 

“Dit is belangrik om kennis te dra dat munisipale wetstoepassing nie kriminele sake teen oortreders kan oopmaak nie, maar dat hulle die SAPD kan ondersteun om oortreders vas te keer en inligtingting te deel wat tot arrestasies kan lei,” het Grobbelaar via e-pos gesê.

Wat is die skade?

kabeldief

Meer as 1 000km se spoorwegkabels is tot dusver nasionaal gesteel gedurende die boekjaar wat in 2022 eindig, het Clement Maphaba, ’n woordvoerder van Transnet Freight Rail, aan MatieMedia gesê. FOTO: Karla van der Merwe

Grobbelaar noem dat kabeldiefstal “glad nie munisipale dienslewering affekteer nie”. Maphaba het bygevoeg dat TFR ook nie tans enige treine het wat in die Stellenbosch-area rondbeweeg nie. Kirsty Bucholz het verlede jaar in die publikasie LIP berig dat die Stellenbosch-treinstasie as gevolg van vandalisme op die Northern Line-treinroete tans dormant staan. 

Op ’n nasionale vlak, noem Maphaba egter dat TFR-infrastruktuur deur hoogs georganiseerde kabeldiefstalsindikate aangeval word. 

“395 km se kabel is [landswyd] in 2019/2020 gesteel, 700 km in 2020/2021 en meer as 1 000 km tot dusver in die boekjaar wat in 2022 geëindig het,” het Maphaba gesê. “Die huidige besteding aan sekuriteit is R1,6 miljard per jaar.”

, , , , , ,