Lot van karavaanpark-inwoners in munisipaliteit se hande

Inwoners van die Mountain Breeze-karavaanpark buite Stellenbosch is steeds onseker oor hul toekomstige verblysomstandighede ná die Stellenbosch Munisipaliteit verlede jaar aangekondig het dat almal wat tans daar woon moontlik ander heenkome sal moet vind.

Dít kom nadat die vorige huurder van die perseel haar kontrak verlede jaar met die munisipaliteit beëindig het en die perseel moontlik vir ander doeleindes gebruik gaan word, volgens ’n inwoner van die park wat anoniem wil bly. 

karavaanpark

Die uile in Louw se Bos kan, volgens ’n anonieme inwoner van die Mountain Breeze-karavaanpark, moontlik ook hul habitat kwyt wees indien Stellenbosch Munisipaliteit voortgaan met planne om dié park vir ander doeleindes te gebruik. “Mens kan nie regtig ’n volwasse uil uit sy habitat verwyder nie,” het Rico Pentz, ’n wildrehabiliteerder en veeartstegnikus in die Helderberg-area, verduidelik. FOTO: Nazley Wilschutt

Volgens die anonieme bron, is inwoners ontsteld omdat hulle nie weet wat volgende gaan gebeur nie. “Ons almal leef met groot onsekerheid,” het dié inwoner aan MatieMedia gesê. 

Volgens Stuart Grobbelaar, woordvoerder van die munisipaliteit, moet die raad “steeds besluit oor die pad vorentoe met hierdie munisipale eiendom”.

En wat van die uile?

Buiten die onsekerheid rondom hulle eie verblyfsomstandighede, is die inwoners van die park ook besorgd oor die veiligheid van die omtrent 30 tot 40 gevlekte ooruile en nonnetjie-uile wat in Louw se Bos leef. Dit is ook waar die karavaanpark geleë is.

“Ons bly daar en die uile broei daar. Dit is ons almal se huis. Die munisipaliteit gee nie om wanneer dit by die bewaring van die natuur of diere kom nie,” het die anonieme inwoner aan MatieMedia beweer.

Volgens Grobbelaar sal die uile wel in ag geneem word wanneer besluite oor ontwikkelinge by die perseel oorweeg word. Hy het verduidelik dat daar eers ’n omgewingsimpakstudie gedoen sal word indien enige ontwikkelinge goedgekeur word.

karavaanpark

Die Mountain Breeze-karavaanpark word besit deur Stellenbosch Munisipaliteit. FOTO: Nazley Wilschutt

Rico Pentz, ’n wildrehabiliteerder en veeartstegnikus in die Helderberg-area, het verduidelik dat die uile se habitat besig is om aansienlik te verklein weens verskeie nuwe ontwikkelinge in die omgewing. Die gevolg is dat die uile geforseer word om meer na residensiële areas te beweeg en rondom mense te leef, volgens Pentz.

“Omdat uile al hoe meer na residensiële areas gaan beweeg, [kan] hulle moontlik die dooie muise en rotte, wat deur mense vergiftig is, eet en dan sterf,” het Pentz gemaan.  

klankgreep

Rico Pentz, ’n wildrehabiliteerder en veeartstegnikus in die Helderberg-area, gesels oor uile se jagvernuf. KLANKGREEP: Nazley Wilschutt

MatieMedia het na die verteenwoordiger van die Mountain Breeze-inwoners uitgereik, maar hulle wou nie kommentaar lewer nie.