Wat beteken dit om bruin te wees, vra Woordfees-produksie

Die vier akteurs in In Slavenhuis 39. Van links na regs: Eldon van der Merwe, Stephren Saayman, Cantona James, Stefan Erasmus. Foto: Nardus Engelbrecht

Die vier akteurs in In Slavenhuis 39. Van links na regs: Eldon van der Merwe, Stephren Saayman, Cantona James, Stefan Erasmus. Foto: Nardus Engelbrecht

Hierdie toneelstuk gaan oor vier jong bruin studente wat ’n woonstel deel op Stellenbosch. Die woonstel het jare gelede slawe gehuisves en hulle moet probeer om die verlede te versoen met hedendaagse kwessies soos manlikheid, bendes, geloof, rassisme, kultuur, homoseksualiteit en doodeenvoudige menslikheid.

In die toneelstuk In Slavenhuis 39 word die vraag gestel oor wat dit regtig beteken om bruin te wees.

Die skrywer Herschelle Benjamin en die akteurs Cantona James, Stephren Saayman, Eldon van der Merwe en Stefan Erasmus beeld die kompleksiteit van bruin wees perfek uit.

Die toneelstuk wat net 70 minute lank is, boei behoorlik die gehoor se aandag met humor, hartseer, trots en vriendskap. Die vier jong akteurs probeer deurlopend hul identiteit op universiteit vind en sukkel om hul nuwe lewens op universiteit te versoen met dié wat hulle by die huis lei.

Die karakters besluit dan om deel te neem aan ʼn toneelkompetisie van hul PSO. Hulle wen die toneelkompetistie maar bevraagteken of dit op meriete was of omdat hulle die enigste bruin groep studente was wat deelgeneem het. Dit kan vereenselwig word met die kwessie van kwotas op universiteit en in Suid-Afrika.

Die karakters sukkel om hul verlede en huidige omstandighede af te skud en hulself te vind. Deel van die vier karakters is  ʼn pastoor se kind wat sukkel met sy geloof, n huishulp se kind wat lieg oor wie sy ouers is, n gay man wat sukkel met aanvaarding en ʼn bendeleier se kind wat sukkel om sy identiteit te vind. “Ons is net goed as ons die rol van ʼn bendelid kan speel of as ons so na as moontlik soos Europeërs lyk”, sê die hoofkarakter.

Die kwessie van die hoë getal studente van kleur wat nie terug kom na die eerste semester nie en die hoeveelheid druk wat kom vanaf die huis, universiteit en bewysverpligtinge word ook aangespreek.

Menige student kan hulle daarmee vereenselwig en dit is wat hierdie toneelstuk anders maak as die res. As jy nie self daardeur gaan nie, is daar iemand wat jy ken wat daardeur gaan.

Die oorspronklike Slavenhuis 39 in Hertestraat, Stellenbosch. Foto: HelenOnline

Die oorspronklike Slavenhuis 39 in Hertestraat, Stellenbosch. Foto: HelenOnline

Die toneelstuk gaan diep in die kwessie van wat dit beteken om “kleurling” of bruin te wees, nie net op Stellenbosch nie, maar in die breër Suid-Afrika.

Een van die karakters sê: “Ons voel ons hoort in Stellenbosch, die netjiese akkerbome en geboue”. Maar dit is slegs tydelik, want die student moet terugkeer huis toe na omstandighede wat nie na wense is nie.

In Slavenhuis 39 is nog op 4 en 5 Maart te sien by die Adam Small Laboratorium.