In die rektor se stoel

Prof Wim de Villiers is bekend as ’n spesialis in gastro-enterologie en ’n bobaas navorser. Maar vir studente en universiteitspersoneel aan die Universiteit Stellenbosch (US) is hy ook die rektor en visekanselier. De Villiers het met MatieMedia se Nazley Wilschutt gesels oor sy loopbaan en die dinge wat hom gelukkig maak.

rektor

 Prof Wim de Villiers sê een van die vele dinge wat hy in die posisie as rektor geleer het, is dat jy vir die onvoorspelbaarheid en vir die onvoorsiene gereed moet wees. “Jy moet gereed wees om te alle tye krisisse te kan hanteer.” FOTO: Nazley Wilschutt

Prof Wim de Villiers se kantoor is stil en vreedsaam. Hy skuif agter die raadsaaltafel in en neem ’n sluk van die koffie wat sy assistent vir hom gebring het. 

“Ja, ek kan vir jou ’n kort of lang storie vertel. Jy kan maar self besluit hoe jy dit wil redigeer,” sê De Villiers oor sy loopbaan. 

’n Loopbaan in wording

De Villiers is in Stellenbosch gebore en getoë. Hy was in Paul Roos Gimnasium, en het medies studeer aan die Universiteit Stellenbosch (US).

“Ek het ’n baie tradisionele opvoeding gehad. Ek het in 1983 klaargemaak en my huisdokter-jare by die Frere-hospitaal in Oos-Londen vir twee jaar gedoen,” vertel De Villiers. “Dit was ’n baie goeie tyd. Ek en my vrou was toe al reeds getroud en ons tweede kind is daar gebore.” 

Daarna het De Villiers in interne geneeskunde begin spesialiseer.

“Ek het vroeg al besef dat ek nie in die chirurgie wil gaan nie, maar meer interne geneeskunde [wat] diagnosties en klinies van aard [is],” verduidelik hy.

In 1989 was daar ’n draaipunt in De Villiers se lewe. 

“Dit was waarskynlik die mees belangrike draaipunt van my lewe. Ek het besluit dat ek in die akademie en die navorsing wil gaan, maar dat ek nie myself besonder goed geskoold gevind het in die navorsingsveld nie. So, vir twee jaar is ek toe eers na die Universitet van Kaapstad (UK), waar ek in ’n baie goeie eenheid gewerk en navorsing gedoen het.”

In 1992 het hy ’n beurs ontvang om by Oxford te gaan studeer.

“Daar het ek my PhD in chroniese ontsteking, met chroniese inflammasie onderliggend daarin, gedoen. Ek het al hoe meer geïnteresseerd geword in chroniese inflammasie van die dermkanaal,” sê hy.

De Villiers sê hy was vir sowat drie en ’n half jaar by die Universiteit van Oxford toe hy deur die Universiteit van Kentucky se mediese sentrum gewerf is.

“Ek het gedink ek sou net vir 18 maande gaan, net vir ’n Amerikaanse ondervinding,” vertel hy. “Ek het die hele familie oorgeneem. In plaas van 18 maande het ons vir 18 jáár gebly.” 

“Amerika is ’n fantastiese plek,” sê De Villiers. “’n Mens assimileer maklik, daar is baie geleenthede en elke slag as ek net wil dink ek wil terugkom, dan kom daar net nog meer geleenthede op.” 

De Villiers het ook ’n MBA-graad by die Harvard-Universiteit gedoen wat op gesondheidsorg gefokus het.

rektor

Balans is belangrik, sê prof Wim de Villiers. “As daar kans is vir ’n vakansie, moet jy ’n vakansie hê. Nobody ever thanked anybody for working themselves to death,” sê hy. FOTO: Nazley Wilschutt 

‘SA, my aarde’

De Villiers en sy gesin het in 2013 teruggekeer na Suid-Afrika. “Die idee om oorsee te gaan, was nooit daar nie. So, ek wou nog altyd teruggekom het, want dit is waar ek vandaan is. Dis my aarde hierdie,” sê De Villiers. Hy glimlag. 

“Ek het toe die geleentheid gekry om die dekaan van die fakulteit gesondheidswetenskappe aan die UK te wees en ek het dit baie geniet,” sê hy.

In 2015 is De Villiers as die rektor en visekanselier van die US aangewys.

“My voorganger, prof Russel Botman, is baie ontydig en skielik oorlede en ek is genader om myself beskikbaar te stel vir hierdie posisie. Ek is op 1 April 2015, April Fools Day, aangestel,” vertel De Villiers en glimlag breed.

Hy sê hy het nooit beplan om rektor te word nie, maar dat dit een van die vele geleenthede was wat opgeduik het en waarvoor hy “as ’n mens oop was”. 

“Dit was nooit in my planne gewees nie. Daar was ander goeie kandidate, maar daar is twee redes waarom ek gekies was,” verduidelik hy. “Eerstens het ek ’n baie sterk klem op navorsing [gelê] en Stellenbosch is ’n baie goeie navorsingsintensiewe-universiteit. Dit was nie altyd so nie. Toe ek in 1990 klaargemaak het, moes ek UK toe gaan om navorsing te gaan doen. Tweedens is dit as gevolg van my nasionale en globale ondervinding. Dis daardie ander uitkyk. Ek was amper 25 jaar weg van Stellenbosch af. En alhoewel ek hier grootgeword het, was ek vir ’n lang tyd weg. So, dis ’n ander ingesteldheid.” 

Prof Wim de Villiers glo daaraan dat jy oor vier dinge moet beskik as jy “hierdie tipe uitdagings wil aanvaar”. “Jy moet oor weetgierigheid beskik, jy moet die moed hê om dinge uit te voer, jy moet oor die nodige energie beskik en jy moet die uithouvermoë hê,” verduidelik hy. FOTO: Nazley Wilschutt

Die uitdagings van ’n rektor 

De Villiers onthou die gevoel toe hy as rektor aangewys is. “Daar was ’n mate van trots, en daarmee gepaard was daar ’n groot mate van besef van die verantwoordelikheid, saam met ’n mate van angs,” sê hy.

Vir De Villiers is dit lekker om met studente om te gaan en die personeellede is volgens hom fantasties.

“Ek het onlangs ’n baie uitgebreide oorsese reis gehad waartydens ek verskeie instellings besoek het. Almal wil met ons saamwerk, maar met my terugkoms was ek met hierdie absoluut verskriklike insident gekonfronteer. En dit van ’n baie jong onvolwasse persoon wat maar vier maande op die kampus is,” sê De Villiers, met verwysing na die voorval in Mei waar ’n student op ’n ander student se studiemateriaal geürineer het.

rektor

Vir prof Wim de Villiers is dit ’n wonderlike voorreg om rektor van die Universiteit Stellenbosch te wees. “Ek dink dis ’n puik instelling en die beste universiteit in Afrika, al stem die ranglyste nie noodwendig met my saam nie,” meen De Villiers. FOTO: Nazley Wilschutt

“Dit laat mens baie teleurgesteld. Dit stel my werklik teleur, want dit is werklik nie wat ek glo waarvoor ons staan en wat ons is nie. ’n Enkele individu se aksies wat sulke negatiewe emosies kan ontketen en skade aanrig, is sleg. Dis nie lekker nie,” sê hy.

Tydsbestuur en genietinge

De Villiers verpes lang vergaderings, maar dit is soms ’n aspek van rektor-wees. “Lang vergaderings sonder ’n duidelike doel maak my heeltemal lam,” sê hy. “Dan raak ek ongeduldig.” 

In sy rol as rektor is tydsbestuur altyd ’n uitdaging, sê De Villiers.

“[D]it gaan daaroor dat jy ’n balans moet handhaaf. As daar ’n kans is vir ’n vakansie, moet jy vakansie gaan hou. ‘Nobody ever thanked anybody for working themselves to death’,” sê hy.

In sy vrye tyd geniet hy dit om saam met sy drie kleinkinders te speel. “Ek hardloop ook maratons, maar daarvoor moet jy baie oefen en dit gee mens ook baie tyd om buite te wees,” sê hy.

Hy het die Kaapse maraton in 2018 gehardloop om geld in te samel vir studente. “En dít het met baie pyn en lyding gepaard gegaan,” erken hy laggend.

Hy luister ook graag na musiek, is ’n fanatiese leser en is gaande oor Trevor Noah en Ricky Gervais se programme. “Die reeks Sex Education is skreeusnaaks,” sê De Villiers en skaterlag. “Dis baie snaaks. Ek sal dit nie vir my kleinkinders laat kyk nie. Nie nou al nie, maar dis baie snaaks en baie belangrik.” 

Vir Wildré Kok, De Villiers se persoonlike assistant, is die rektor “’n baie gemaklike mens sonder tierlantyntjies”.

“Ek weet presies waar ek met hom staan en wat hy van my verwag. Hy is baie oplettend en weet presies wat aangaan, sonder om heeltyd in mens se nek te blaas,” het Kok in ’n e-pos aan MatieMedia gesê.

Volgens Kok is De Villiers ’n “familie-man en tyd saam met sy gesin is kosbaar”.

Wanneer prof Wim De Villiers nie met sy drie kleindogters baljaar nie, lees hy graag en luister hy ook na musiek. “Ek is ’n groot Bob Dylan- en ’n groot Leonard Cohen-fan. Ek lees veral Nordic Noir, Skandinawiese misdaad, en dan natuurlik ook Deon Meyer,” sê De Villiers. FOTO: Nazley Wilschutt

Die toekoms van die US

De Villiers is positief oor die toekoms van die US.

The sky is the limit. Stellenbosch is on the rise. Hier is ’n wonderlike toekoms hier,” sê hy. “Hier is wel uitdagings, maar hier is veel, veel, veel meer geleenthede.”